ANC kap na DA oor Dag Zero

Argieffoto: https://pixabay.com

Die ANC in die Wes-Kaap het na die DA gekap oor die DA se “oënskynlike spoggery” dat dit die stad se samewerking met die inwoners van Kaapstad was wat op hul eie, sonder hulp van die nasionale ANC-regering, Dag Zero kon terugstoot tot moontlik ná 2019.

Die ANC het die mense van die Wes-Kaap Vrydagoggend in ʼn verklaring geprys vir hul “wonderlike veerkragtigheid te midde van die swaar waterbeperkings die afgelope jaar”.

“Selfs al het hulle besef hul gekose leiers by die Kaapse burgersentrum en Walestraat weet nie altyd wat hulle doen nie, het hulle besluit om die pyn van hul leiers se mislukkings te verduur. Die ANC is daarom saam met die mense verheug oor die broodnodige reënval die laaste paar weke wat die provinsie se damvlakke aansienlik laat styg het,” het Faiez Jacobs, die ANC se provinsiale sekretaris gesê.

Jacobs het gesê die ANC verwerp die DA se “politiese breëbors-spoggery”  en hul “skielike paradering van hul mislukte watervoorsieningbestuursoefening”. Die ANC het dit bestempel as ʼn patetiese reaksie op ʼn krisis wat werklike en substantiewe nuwe bronne vir watervoorsiening geverg het.

Die DA het Donderdag in ʼn verklaring gesê die afwering van Dag Zero nie net in 2018 nie, maar moontlik ook 2019, is ʼn duidelike gevolg van die uitstekende samewerking tussen die stad en sy inwoners wat onverpoosd saamgespan het om ʼn doeltreffende waterbestuurstelsel daar te stel.

“Onder die leierskap van Ian Nielson, adjunk-burgemeester, het die stad daarin geslaag om ʼn baanbrekersprestasie te behaal wat die maatstaf vir stede wêreldwyd sal word.”

Volgens Jacobs skuld die DA die inwoners steeds ʼn verduideliking, aangesien hulle weet dat ses van die provinsie se damme 99.6% van die provinsie se watervoorraad uitmaak.

“Hoe moeilik kon dit wees om die mense lank voor die tyd te laat weet dat die damvlakke kritiek laag is? Dis nie moeilik om na ses damme om te sien nie. En die belangrikste ding: Hoe het Dag Zero sonder enige nuwe reënval spoorloos in die toekoms in verdwyn? Was dit nog ʼn DA-taktiek om die nasionale regering te oortuig om vir hulle meer geld te gee deur ʼn nasionale ramp uit te dink en te verklaar?” het Jacobs gevra.

Yonela Diko, woordvoerder van die ANC in die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê die ANC verwys na die aankondiging vroeër vanjaar wat gemaak is dat Dag Zero vermy kon word voor daar nog enige reën in die provinsie geval het.

Jacobs meen as Dag Zero nie ʼn leuen was nie en die Wes-Kaapse damme stelsels het wat waarskuwings uitreik wanneer damvlakke laag is, is die stad en die provinsie die mense van Kaapstad ʼn verskoning verskuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Annie ·

Man die ANC moet liewers konsentreer om die misdaad moord boewery betogings looting korrupsie en die lys gaan aan onder beheer te bring. Dan kom rek hulle hul bekke oor ander goed. Hulle is deel van betogings en looting oral.

Pop ·

As iets reg werk of n sukses was onder die DA se vaandel dan is die ANC baie gou om die eer te wil vat. Hulle kan niks maar niks laat reg werk nie. Nou kom De Lille en probeer haar bes om die DA af te breek. Kaapstad sal dit erg berou as die ANC oorvat.

GM ·

Sê die kaders wat die land in die afgrond in regeer. Ten minste is daar planne gemaak, daar is nie net gesê: ‘Die mense moes die damme kleiner gebou het, dan was hul nou voller’ nie.

volla ·

Die ANC is juis spyt oor die reen want nou dat dit reen het nog ‘n swartskaap wat blameer kon word, weggekom. Klomp kommuniste met hul retoriek.

jaco ·

Dag zero kon ook permanent vermy word as die DA net ‘n entrepreneur se planne vir ‘n groot goedkoop ontsoutingsaanleg sou goedkeur. Maar dis afgeskeur bloot omdat hy nie korrek BEE en regstellende aksie in sy besigheid toepas nie.
LET WEL: dis die DA wat só ‘n besluit geneem het. Blykbaar hang alles in SA van die “regte” velkleur af. As mense swaarkry of doodgaan, is dit dus maar ok. Dit is dubbele standaarde van ‘n party waarvan maklik die helfte van hulle parlementslede wit is en wie se burgemeesters in Nelson Mandela Baai en ‘n paar ander plekke ook wit is. So by sulke aanstellings van mense in posisies waar geen kundigheid nodig is nie. geld regstellende aksie en BEE nie vir die DA nie.

Argument ·

Ek hoop dat jou feite oor die sg. “goedkoop” ontsoutingsaanleg korrek het, anders val jou hele argument uitmekaar.

Nettie ·

Jinne julle, ons moet dadelik plan maak. Die ANC en/of Faiez Jacobs MOET DADELIK ‘n naamsverandering ondergaan – na Queen Modjadji, die Reën Koningin. Dit is danksy HULLE dat ons sulke lieflike reën die afgelope tyd gehad het ……………

ANC, Faiez ……………….. raak wakker en ruik die koffie. Hoe gaan dit in die 8 ander provinsies wat deur die ANC geregeer word? Ek reken dáár is geen betogings weens die tekort aan dienslewering, munisipale dienste, vuillisverwydering, gesondheidsdienste, polisiëring, misdaadbekamping, ordentlike paaie, ander infrastruktuur, behuising, werkskepping ens. ens. ens. nie? Alles gaan honkey-dory daar.

Verkiesing ·

Did duidelik dat die ANC na die Kapenaars vry ten einde stemme te verwerf in aanloop tot vlg. jaar se verkiesing.

Dag Zero ·

As die DA kwansuis dag zero uitgedink het om die droogte tot ‘n ramp te laat verklaar, hoekom beskuldig Jacobs dan die DA daarvan dat hulle nie beplan het nie. Dag Zero was mos deel van die beplanning. Het die ANC op ‘n ander planeet gebly? Hulle kon ook mos ingryp. Maar ons almal weet dat hulle nie eens die land kan regeer nie, wat nog te sê van die Wes-Kaap. Kyk hoe lyk dit by die munisipaliteite wat onder die ANC val!

Edd ·

Dit is ook nie moeilik om na 1 melk plaas om te sien nie maar nou ja.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.