ANC kap na DA oor sy planne om parlement te ontbind

Argieffoto

Die ANC het Woensdagaand in ʼn verklaring gesê die DA se planne om ʼn mosie ter tafel te lê wat vra dat die parlement ontbind word en vroeë verkiesings gehou word, wys dat dié party nié die demokrasie of die verkose regeringsparty respekteer nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Mmusi Maimane, DA-leier, dié mosie Donderdag sal voorhou en dat hy van opposisiepartye verwag om dit te steun.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die hoofsweep van die ANC, het gesê dié aankondiging van die DA is ʼn bewys dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma wat vroeër vandeesweek nié geslaag het nie, nie teen die president is nie, maar ʼn manier om die hele regering omver te werp.

“Die DA het geen agting vir die mense van Suid-Afrika nie aangesien 62% van kiesers in 2014 die ANC verkies het om te regeer. Ons sal hierdie beplande mosie ook wen omdat ons alle ander pogings deur die opposisie verslaan het om die verkose regering omver te werp,” sê Mhlauli.

Mhlauli het ANC-LP’s bedank wat “in hul meerderheid” gestem het vir die mosie van wantroue om nié teen Zuma te slaag nie.

Sy sê dié ongeslaagde mosie was in die beste belang van die land en sy kiesers aangesien die ANC dit sy mandaat gemaak het om die lewe van die mense te verbeter.

Mhlauli sê die ANC is diep teleurgestel deur die 25 ANC-LP’s wat teen die president gestem het in die mosie van wantroue.

“Ons is baie teleurgesteld dat sommige van die ANC-lede hulself toegelaat het om deur die opposisie gebruik te word om die ANC te verswak en die land te destabiliseer. Dit is die bewys dat die opposisiepartye enige middele sal gebruik om hul politieke doelwitte te bereik, en die feit dat sommige van ons kamerade saam met hulle gewerk het, is hartseer. Ons veroordeel dus hul optrede en sal ʼn behoorlike analise maak van wat in hierdie verband gedoen moet word.”

Mhlauli het gesê ʼn lys van sogenaamde LP’s wat vir die mosie teen pres. Zuma gestem het wat nou op sosiale media versprei word, is vals en nie akkuraat nie. Die lys sluit onder meer Thabo Manyoni in wat nie meer in die parlement is nie, en ook Jackson Mthembu, die ANC se hoofsweep.

“Die lys is bedrieglik en moet nie ernstig opgeneem word nie. So ʼn lys name is ʼn gevaarlike poging om wantroue aan te spoor en ʼn  heksejag te begin.”

Sy het ook gesê ANC-lede wat Woensdagmiddag sonder ʼn verskoning die parlementsitting misgeloop het, sal verantwoording vir hul afwesigheid moet doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Eric ·

Net n vraag aan anc hoe kan jul verwag enige iemand moet jul respekteer haha

Kobus Henniing ·

DIE spreukwoord se. miemand is so doof of blind soos die een wat nie wil hoor of sien nie

Schalk ·

En so begin die twyfel binne in die ANC versprei. Lekker tameletjie. As dit wel ‘n geheime stemming was en die keuses van stem vir die ANC LP’s is onbekend, gaan hulle mekaar nou nie meer vertrou nie. Elkeen gaan wonder wie het vir of teen die mosie gestem. Die wat teen gestem het en niks gaan met hulle gebeur nie sal nou meer word en die wat vir die ANC gestem het moet maar solank oorloop want die val van die ANC is onvermydelik

Nico ·

Daars nie n manier nie almal wat vir die anc stem is ook aandadig van korrupsie want hulle laat toe dat hulle leiers steel doen wat hulle wil en dit vir n kospakkie en hulle eet steaks

Redz ·

Ek het jaaaaaare terug al alle respek vir ons huidige regering verloor…ek praat nie eers van Zuma nie! Hulle dink aan hul eie sakke en voel n veer vir SA se mense
Hulle druk ons pragtige land in di rooi in..

Grassie ·

Moesie is nou besig met onsinnighede. Dit kom voor asof hy hom met net twee bedrywighede besig hou. Die eerste is om ‘n ergernis vir die ANC te wees, soos ‘n brommer wat om ‘n bord kos draai en kort-kort met ‘n handsaai verwilder moet word. Die tweede is om die gebeure in die land met valkoë dop te hou vir gevalle waar witmense ‘n voet verkeerd sit sodat hy met verontwaardiging “rassisme” kan skreeu – hy ontsien nie eers sy eie partygenoot, me Zille nie. En dit terwyl die land brand en die ekonomie tuimel.

Hendrik ·

Ek hoop dit werk uit vir die DA. Indien ‘n verkiesing afgedwing word is daar natuurlik ‘n kans dat die ANC baie van sy stemme nie na die DA sal verloor nie maar wel na die EFF. Dit sal die EFF natuurlik baie sterker maak. Koalisie tussen die EFF en ANC met ZUMA wat Desember verwyder gaan word sal natuurlik choas veraarsaak omdat die EFF se koalisiemag gaan gebruik om sy vyand (die minderheidsgroepe) uit te haal.

Domvraag ·

Hoe lagwekkend dat gevra word om die demokrasie te respekteer terwyl die ANC regering dit nie respekteer nie.
Die vraag is, is dit net Zuma wat korrup is, of is hy net die oortjies van die seekoei en dat die hele topstruktuur deur guptas gekaap en korrup is?
Hoekom is Zuma nou nog nie aangekla oor die 783 aanklagtes teen hom nie? Is dit dalk dat hy nie alleen skuldig is nie maar meeste van die topstruktuur?
So jammer dat die massas hul deur hul leiers laat mislei en nie kan besef dat werkloosheid deur n korrupte regering veroorsaak word nie?

Koos1 ·

62% mense het gestem dat die ANC moet REGEER, nie die staat weg gee nie (staatskaping).
“Sy sê dié ongeslaagde mosie was in die beste belang van die land en sy kiesers aangesien die ANC dit sy mandaat gemaak het om die lewe (SOMMIGE, meer dalk die president en sy korniute!) van die mense te verbeter.”

Koos ·

ANC is baie slinks, hulle het self uitgewerk hoeveel van hul kaders moet wat stem net om almal om die bos te lei. Dus sal daar niks teen die wat teen Zumpie gestem het gebeur nie, want dit is vir hulle gese om so te stem.

broos ·

die vote of no confidence was teen een persoon, maar omdat sy party dit baie duidelik gemaak het dat hulle sy bedrog en diefstal goedkeur, moet hulle almal uit!! en hulle sou nie so gekla het as hulle nie bang was nie….

Alida ·

Ai ai, hoekom kan hulle nie net vir JZ aankla en hof toe sleep nie. Dit is mos baie makliker en seer sekerlik goedkoper. Hy het 700+ klagtes teen hom as daar net ± 50 skuldigbevindings is word hy mos outomaties uitgeskop. Ek weet nie. Wanneer moet hy pa staan vir al die aanklagtes teen hom. Kan iemand my se asb. Hy verkondig dan self dat NIEMAND verhewe is bo die wet nie. Kry dan maar vir jou.

kollie ·

Want die NPA sleep voete en die hoof van die NPA word deur die president aangestel.

kollie ·

…en Zuma het appél aangeteken teen die hofbeslissing dat hy vervolg moet word, dit moet eers afgehandel word. Speel vir tyd, kan nog maande of jare neem.

John ·

Dieselfde deuntjie.. die opposisie wil terug na… gaan ons nou oor en oor hoor soos daai een oor die volmaakte begrafnis op Kyk-weer-en-weer. Zuma en ma-Zuma en na haar ouboet-Zuma gaan namens die enigste volk in die land, die Zoeloes, regeer totdat al die dreine verstop is, al die geld op is, al die myne leeggeboor is, al die damme leeggesuig is en al die landerye opgevreet is. Tot dan…

Cherokee ·

Snaaks dat die DA, na die pasafgeloopte mosie misluk het, dink dat ‘n mosie om die parlement te ontbind, kan slaag.

Adam ·

Cherokee, ek deel jou siening hieromtrent. Pastoor Maimane bly aan die preek en is tans bykans net so’n groot irritasie as Julius Malema. Die parlement het ‘n speelplek geword en die onsinnige debatte mors tyd wat aan noodsaaklike regeringsfunksies bestee kon word.

Ludick ·

2014 is n geruime tyd al verby en baie het verander. Is die ANC bang dat die einde vir Jacob Zuma en hulle tyd om Suid Afrika te reel verby is dat hulle so teen die DA skop? Ongeag die uitslag van die mosie vir n verkiesing ek kan nie sien dat die ANC iets beters vir Suid Afrika sal beteken as wat dit vir die laaste 3 jaar vir hulle beteken nie. Die ANC se tyd stap na n einde toe, dit is tyd dat hulle herken dat hulle nie goed is vir ons regering nie en uitree en iemand wat die belange van die land op hulle hart dra, n kans gee om Suid Afrika terug te bring na waar dit nodig is om te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.