ANC kies slegs een vroulike premier

Sylvia Lucas. Foto: GCIS

Sylvia Lucas. Foto: GCIS

Slegs een van die agt provinsies wat deur die ANC bestuur word gaan ‘n vroulike premier hê.

“Hoewel die NUK [nasionale uitvoerende komitee] saamstem dat die provinsies vry is om enige persoon te nomineer, is die ANC bekommerd oor die manlike oorheersing,” het Jessie Duarte, ANC-adjunk- sekretaris-generaal, tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

“Die NUK het saamgestem dat die nominasie regulasies hersien moet word voor die volgende nasionale algemene raad..” Die ANC het gister ‘n spesiale NUK-vergadering in Pretoria gehou waar daar op die nuwe premiers besluit is. Die provinsies se onderskeie strukture het drie persone vir die pos van premier ingedien maar die NUK het die finale sê gehad.

Duarte sê daar is wel besluit dat indien die provinsie ‘n manlike premier het, die speaker ‘n vrou moet wees. Die provinsiale uitvoerende komitees moet ook uit 60% vroue bestaan.

Die Noord-Kaap is die enigste provinsie waar die ANC ‘n vroulike premier, Sylvia Lucas, aangestel het. David Mabuza bly die premier van Mpumalanga, Senzo Mchunu bly die premier van KwaZulu-Natal, Ace Magashule bly die premier van die Vrystaat en Stan Mathabatha bly die premier van Limpopo.

David Makhura, die ANC se sekretaris in Gauteng, sal Nomvula Mokonyane as premier van Gauteng vervang. Thandi Modise, huidige premier van Noordwes, is vervang deur Supra Mahumapelo, die provinsiale voorsitter van die ANC. In die Oos-Kaap vervang Pumulo Masualle vir Noxolo Kiviet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.