ANC-kommissie: ‘Skors Ace as hy weier’

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het bevestig dat hy van sy pos sal afstand doen indien die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) dit besluit.

Die party se integriteitskommissie het aanbeveel dat Magashule onmiddellik afstand moet doen van sy pos. Indien hy weier, moet die NUK hom summier skors, het die kommissie bevind.

Magashule het die naweek met die kommissie vergader en het hy tydens die vergadering bevestig dat hy opsy sal staan indien die NUK dit besluit.

Die kommissie het die aanbeveling aan die NUK gemaak na aanleiding van die ANC-resolusie dat ANC-lede wat van korrupsie of ander ernstige misdade aangekla word, onmiddellik van alle posisies in die party moet afstand doen tot die saak teen hulle afgehandel is. Indien dit nie vrywillig gedoen word nie, moet die lid geskors word.

Die kommissie spreek in sy verslag van drie bladsye ook kommer uit oor ’n “toenemende negatiewe persepsie” oor die NUK.

“Die kommissie kry toenemend terugvoering van die algemene publiek, insluitend ANC-lede, dat die NUK nie doelgerigte leierskap verskaf nie en lamgelê word in die nakoming van sy belofte van organisatoriese vernuwing en die bekamping van korrupsie,” lui die verslag wat deur George Mashamba, voorsitter van die kommissie, onderteken is.

Die kommissie is bekommerd oor die negatiewe en skadelike impak wat hierdie persepsies op die ANC het. “Daar word nou die aanname gemaak dat die NUK nie sy besluit teen sy sekretaris-generaal kan implementeer nie – nie as ’n manier om hom te beskerm nie, maar omdat sommige NUK-lede self betrek word by onregmatige optrede.”

Die NUK betwyfel blykbaar die betroubaarheid en korrektheid van sy eie konferensieresolusies, insluitend sy eie besluite, veral die wat oor korrupsie gaan. Die kommissie is bekommerd dat amptenare en die NUK toenemend gebruik maak van regsmenings om besluite te vermy wat wesenlik eties en polities is en wat hy Suid-Afrika voortdurend belowe het om te implementeer.

Die kommissie sê verder die ANC se besluite en resolusies moet sonder “vrees of guns” toegepas word.

“Die NUK sê na afloop van elke vergadering dat eenheid baie belangrik is, maar dat faksies en verdeeldheid die ANC verswak. Die kommissie verstaan dat ’n verenigde ANC noodsaaklik is om ons beloftes na te kom. Eenheid gaan egter nie daaroor om individue gelukkig te hou om verdeeldheid in ons geledere te vermy nie. Dit gaan nie daaroor om toe te laat dat die organisasie afgepers word rondom die slagspreuk van eenheid nie. Alhoewel eenheid belangrik is, moet dit nie ten koste van die implementering van besluite en resolusies wees nie.”

Magashule staan tereg op 21 aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie en geldwassery. Hy is verlede maand in die Bloemfontein-landdroshof op borgtog van R200 000 vrygelaat. Die saak is tot 19 Februarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Word die oond nou warm – 360 grade? Die gangster moes nooit in die eerste plek vir enige possisie in die ANC gekies geword het nie. DAAR het die probleem begin. Maar die ander probleem is dat elke ANC is ‘n dief en ‘n skelm is, soe hoe kies jy!

Jaco

Die ANC moet net onthou dat hulle top leiers almal magsbasisse/groot groepe volgelinge het. Ace EN sy volgelinge kan oorgang EFF toe, of hy kan sy eie ding begin en dan ook vuurmaak onder die ANC.

Persheks Adri

Hoekom skors en ons moet sy salaris betaal? Redenasie vermoë gaan my verstand te bowe regtig

Dries

Arme Ace, almal pik op hom.

Kanjynoumeer

YES!! Ace please do us all a favour…”Step aside”