ANC-konferensie duur voort ondanks regstappe

Die ANC-verkiesing wat in Parys in die Vrystaat plaasvind, duur Maandag voort ondanks nóg ʼn hofsaak deur ontevrede wat die konferensie ongeldig wil verklaar.

Die provinsiale leiers was nie bewus van die jongste aansoek in die Bloemfonteinse hooggeregshof wat later vandeesweek aangehoor word nie, het Thabo Meeko, woordvoerder van die ANC, Maandag aan verslaggewers in Parys gesê.

“Ons is nie bewus van enige hofsaak teen ons nie. Ons het nie ʼn standpunt totdat ons prokureurs vir ons sê dat daar iets op die tafel is nie. Ons is besig met die konferensie en dit duur voort.”

Hy het gesê hy was nie bewus daarvan dat Thabo Manyoni, die provinsiale voorsitter Ace Magashule se adjunk, die konferensie saam met verskeie ander geboikot het nie. Dié groep ondersteun adjunkpresident Cyril Ramaphosa om by pres. Jacob Zuma oor te neem tydens die ANC se nasionale konferensie later vandeesmaand by Nazrec.

Volgens hom het Manyoni geen verskoning aangebied nie.

“Ons kan wel bevestig dat die adjunkvoorsitter deel is van die provinsiale uitvoerende komitee wat ʼn besluit geneem het, dat die konferensie [aldus ʼn uitspraak in die hooggeregshof dat die konferensie nie kan voortgaan totdat al 29 takke byeengekom het nie], nie kan voortgaan soos beplan nie,” het hy verduidelik. “Ons weet nie van enigiemand wat die konferensie boikot nie, Afgevaardigdes wat hier moet wees, is hier. Alle afgevaardigdes, ten gunste van Nkosazana Dlamini-Zuma en Cyril Ramaphosa, is hier en ons sal getuigskrifte en ander kwessies mag nagaan.”

Die ontevrede lede hou vol dat die provinsiale uitvoerende komitee nie voldoen aan die hooggeregshofbevel nie en dat dispute by dié takke nooit voor die provinsiale konferensie aangehoor is nie.

Manyoni het die groep ʼn paar weke gelede hof toe gelei en gesê die provinsiale uitvoerende komitee het nie die magtiging om besluit te neem nie, aangesien hul leierskapstermyn in Mei verstryk het. Die groep het die komitee versoek om ʼn tussentydse span aan te stel om die provinsie te lei tot die nasionale konferensie plaasvind.

Die hooggeregshof het twee weke gelede in hul guns beslis en bepaal dat die 29 takke ongrondwetlik opgerig is, en dat hulle bymekaar moet kom voor die konferensie. Meeko het gesê die provinsiale leierskap het voldoen aan die hofbevel en die 29 takke het saamgekom.

Die Vrystaatse konferensie is ʼn paar keer uitgestel weens voortslepende interne geskille. Die samekoms is Sondag ure lank uitgestel en het eers laatmiddag begin. Afgevaardigdes het revolusionêre liedjies gesin en krete – ten gunste van Dlamini-Zuma – uitgeroep. Magashule is die langsdienende ANC- provinsiale voorsitter sedert 1994. Hy sal na verwagting weer verkies word by die konferensie in Parys. Die Vrystaat ondersteun Dlamini-Zuma voor die nasionale verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.