ANC-konferensie: Nog ANC-hoës steun Ramaphosa

Uitgaande pres. Jacob Zuma en sy adjunk, Cyril Ramaphosa, Sondag by die ANC se nasionale konferensie in Johannesburg (17 Desember 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Terwyl die stemproses steeds by die ANC se nasionale verkiesingskonferensie by Nasrec in Johannesburg aan die gang is, het nog senior ANC-lede openlik hul ondersteuning van adj.pres. Cyril Ramaphosa verklaar.

Zizi Kodwa, die party se woordvoerder, het Maandag op Twitter bevestig dat hy Ramaphosa ondersteun om die leisels by pres. Jacob Zuma oor te neem. Ramaphosa is saam met Nkosazana Dlamini-Zuma, voormalige voorsitter van die Afrika-Unie, benoem vir die posisie as president van die party.

Jackson Mthembu, hoofsweep van die ANC, wat al voorheen sy steun agter Ramaphosa gegooi het, het dié standpunt Maandag weereens op Twitter bevestig. “Het vir Ramaphosa en vyf ander onomkoopbare leiers by die konferensie gestem. My stem is om die ANC en my land te red. Ons moet,” het Mthembu gesê.

“Die ANC se 54ste konferensie moet die integriteit van ons beweging herstel. Dit moet ook die vertroue van die mense in die ANC deur bekwame leierskap herstel. Ek is vol vertroue dat die ANC-konferensie die proses sal begin om ons beweging van staatskapingskorrupsie te red. Ja, dit moet!”

Kodwa het gesê Ramaphosa sal “hoop vir die party inspireer”.

“Ek stem vir comrade Ramaphosa vir ANC-president. Wat ook al gebeur, ek vertrou hy sal vertroue herstel en hoop inspireer. Dit is nog vroeg in die dag, maar dit is die moeite werd om te wag,” het Kodwa op Twitter gesê.

Dit kom nadat afgevaardigdes net ná middernag met die stemproses begin en dwarsdeur die vroeë oggendure vir hul gunstelingkandidate gestem het. Die benoemings vir die party se top-ses-kandidate is Sondagaand bekendgemaak.

Ramaphosa en Dlamini-Zuma is die enigste twee aanspraakmakers vir ANC-president. Ramaphosa is deur 1 469 takke benoem en Dlamini-Zuma deur 1 094 takke.

Die ANC het nie ʼn amptelike tyd bevestig wanneer die verkiesingsuitslae bekendgemaak sal word nie, maar die verwagting is dat dit vanmiddag of vroegaand sal gebeur.

Lees alle vorige berigte oor die ANC-konferensie 2017 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leeutjie ·

Ek dink as Cyril wen kan daar weer n liggie in die tonnel wees.

Cherokee ·

Hy sal egter steeds bloot Ramaphosa bly en nooit Cyril nie.

Gallie ·

Stem saam met jou Leeutjie. As Dlamini Zuma inkom is dit nag vir die land. Ek dink daar is ‘n paar mense soos die dronkie Dlamini ( SASSA ) wat maar bietjie tiekie wawiel want sy weet haar dae is getel met Ramaphosa se oorwinning.

Max ·

Geen wonder die land is in chaos nie. As die ANC die land regeer soos hulle konferensie hou, verstaan mens hoekom die land in chaos gedompel is. Nou neem dit 3 dae om 4 000 mense te laat stem.

CG ·

Leeutjie. Die liggie wat jy sien is die vlam onder die pot met warm water waarin jy is.

Donald ·

Ek is vol vertroue Cyrel Sal n Beter job doen as Zuma, ek hoop net nie hy vat stemme van DA af. Dit is tyd vir n verandering

Veritas ·

Leeutjie moet geen fout maak nie. Die ANC -agenda sal gehandhaaf word, maak nie saak wie wen nie. Ek is ‘n aartsoptimis maar sien swarigheid vir die witman onder ‘n ANC of DA regering. Al redding vir die Afrikaner is selfbeskking en dié droom is net wat dit is. ‘n Droom.

Tania ·

Die tyd het gekom dat ons mekaar aanvaar en ophou om in ons eie gate weg te kruip. Dié wat nie hier wil wees nie, maak ‘n plan en gaan oorsee. Dié wat agterbly, streef na verdraagsaamheid en respek. Dit is al wat hierdie land nog sal kan red.

Vermeende ·

Ramaphosa gaan die padda stadig dood kook, Dlamini-Zuma wil hom vannig oor daie warm kole braai.
As jy nie die kettang van bevel vertaan nie dan is dit tyd om geskool te word.
Die ANC president het mag maar word deur die wil van die party president van die land om die party se beleid gestalte te gee, die beleid is vrylik beskikbaar op die net, net n naiwe persoon sal glo dat die president tee die party se beleid sal gaan. Die ANC beleid word ondersteun deur sy kiesers se mandaat.
Liggie, daar is geen liggie aan die einde van die tonnel nie. Wag maar vir volgende jaar wanneer die duisendes opdaag vir gratis onderrig.

alwyn burger ·

“Die keuse tussen vrot appels is beperk” ( Chinese wysheid ? )

Hannes ·

Donald, met alle repek sal die DA geen verskil maak nie. Hul beginsels is diselfde as die van die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.