ANC-konferensie: Stemmery het begin

Gwede Mantashe, die ANC se uitgaande sekretaris-generaal, by die party se nasionale konferensie in Johannesburg (17 Desember 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Die stemmery vir die nuwe top-ses van die ANC het Maandag in die vroeë oggendure by Nasrec in Johannesburg begin.

Die ANC het om 00:27 op sy amptelike Twitter-profiel bevestig dat die stemproses begin het. Die afgevaardigdes sal nou stem vir die party se nuwe president, adjunkpresident, nasionale voorsitter, sekretaris-generaal, adjunk-sekretaris-generaal en tesourier-generaal.

Daar was Sondagaand verwarring of die stemproses later Maandagoggend sal begin en of dit sal voortgaan direk nadat Gwede Mantashe, die uitgaande sekretaris-generaal, en Zweli Mkhize, die uitgaande tesourier-generaal, onderskeidelik hul organisatoriese verslag en finansiële verslag in die saal gelewer het.

Vroeër Sondagaand is verslaggewers by die konferensie ingelig dat die stemmery eers Maandag sal begin, maar ná middernag is daar gesê dié besluit is teruggetrek en die stemproses sal dadelik afgehandel word.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het om 00:19 op Twitter bevestig dat die stemmery wel voortgaan.

Sondagoggend het die konferensie die geldigheid van afgevaardigdes wat aan hulle voorgelê is aanvaar, wat beteken die stemmery vir die party se nuwe leierskap kon uiteindelik voortgaan. Ná middagete is grondwetlike wysigings gedebatteer en is daaroor gestem. Dit was die laaste item op die agenda voordat afgevaardigdes kon begin benoem en stem vir die nuwe leierskap van die party.

Afgevaardigdes by die ANC se nasionale konferensie in Johannesburg (17 Desember 2017). Foto: Twitter via @MYANC

Die benoemings vir die top-posisies in die party is omstreeks 18:00 bekendgemaak. Die benoemdes vir president is Nkosazana Dlamini-Zuma deur 1 094 takke en Cyril Ramaphosa deur 1 469 takke. Albei het die benoeming aanvaar.

David Mabuza, Zweli Mkhize, Lindiwe Sisulu en Naledi Pandor is almal vir adjunkpresident benoem, maar Pandor het die benoeming van die hand gewys en Mkhize het kort ná die benoeming ook onttrek. Mabuza is deur 1 128 takke benoem, terwyl Sisulu deur 619 takke benoem is.

Benoemdes vir die posisie van sekretaris-generaal is Senzo Mchunu deur 1 479 takke en Ace Magashule deur 930 takke. Albei het die benoeming aanvaar.

Benoemdes vir nasionale voorsitter is Gwede Mantashe deur 1 499 takke en Nathi Mthethwa deur 807 takke. Albei het die benoeming aanvaar.

Die benoemdes vir adjunk-sekretaris-generaal is Jessie Duarte deur 845 takke en Zingiswa Losi, adjunkpresident van Cosatu, deur 361 takke. Albei het die benoeming aanvaar. Twee ander kandidate het benoemings van die hand gewys.

Benoemdes vir die posisie van tesourier-generaal is Paul Mashatile deur 1 581 takke en Maita Nkoana-Mashabane deur 275 takke. Nomvula Mokonyane, minister van water en sanitasie, is deur 289 takke benoem, maar het die benoeming van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariné Lourens ·

Dagsê Marius

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Eugene ·

Is die tyd wat die stemproses begin het 00:27 (maw net na middernag) of 12:27 ?

Mariné Lourens ·

Dagsê Eugene

Die stemproses het net na middernag, dus Maandag in die vroeë oggendure, begin. Die berig is aangepas om enige verwarring te voorkom.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

John ·

Spaar ons uit…. hierdie verskriklike sirkus word deur ons grondwet toegelaat…. erg verby. ‘Wheeling and dealing’ se moses van ompraat, omkoop, oorloop, uitverkoop, verraad, sluwe planne, lieg en bedrieg en dit onder die vaandel van demokrasie… met geen respek vir die Vader se alsiende oe nie en dan beveel ons arrogant: ‘God bless Africa’…. En nou stem hierdie slaapwandelaars onder die invloed van wat-nog in ‘n donker hool vir ons land se toekoms. Ons beweeg nader aan Afrika se wyse van bestuur… chaos kom natuurlik…

Veritas ·

Die ANC is vrot tot in sy diepste binneste. Wie ookal die nuwe president gaan wees, gaan absoluut geen verskil maak aan die politieke chaos in die land nie. Al wat sal verander is die name en handtekeninge van diegene wat voor in die ry by die trog staan. Die vermoë en die wil om die land reg te bestuur, ontbreek geheel en al. Die binnegevegte in die ANC het niks te make met wat reg is en wat nie reg is nie, dit gaan oor persoonlike gewin en niks anders nie. Net soos wat dit met alle politici, wêreldwyd die geval is. Demokrasie is net ‘n ander woord vir wettige skelmstreke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.