ANC-konferensie: Stemproses kan nou voortgaan

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris, en Zizi Kodwa, die party se woordvoerder, spreek joernaliste toe (17 Desember 2017). Foto: Getrude Makhafola/ANA

Die afgevaardigdes by die ANC-leierskapskonferensie by Nasrec in Johannesburg het Sondag uiteindelik die geldigheid van afgevaardigdes wat aan hulle voorgelê is aanvaar, wat beteken die stemmery vir die party se nuwe leierskap kan nou begin word.

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris, het joernaliste tydens ʼn mediakonferensie oor die jongste verwikkelinge ingelig en gesê dit is nie ongewoon vir die aanvaarding van die geldigheid van afgevaardigdes om vertraag te word nie.

“Die vertraging van die aanvaarding van afgevaardigdes se geldigheid is gedoen vir die geloofwaardigheid van die proses en sodat ons die moontlikheid van hofinterdikte kan vermy. Ons is uiters versigtig om nie die moontlikheid te laat om weer op daardie roete geneem te word nie,” het Duarte gesê.

Dit het gekom ná skeptisisme en verwarring rondom die twee dag lange registrasieproses van die konferensie wat toe eers Saterdagmiddag tot ʼn einde gekom het.

Die konferensie het gevolglik ure later begin as wat beplan is, ook omdat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) Saterdagoggend eers ʼn onbeplande vergadering rondom hofuitsprake gehou het. Die party het aan die hofbeslissings gehoor gegee, wat onder meer die uitsluiting van 35 takke in Noordwes behels na aanleiding van die hofuitspraak oor die Bojanala-streek.

“Gegewe die beslissings van die hofsake oor KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Bojanala in Noordwes: Ons het besluit dat gegewe die uitsprake rondom die provinsiale uitvoerende komitees van KwaZulu-Natal en die Vrystaat, sal die takafgevaardigdes nie stemafgevaardigdes word nie sodat ons gehoor gee aan die hofuitspraak. Die 35 takke van die Noordwes is ook gediskwalifiseer.”

Die afgevaardigdes wat vir die stemproses gediskwalifiseer is, mag steeds aan die konferensie-verrigtinge deelneem.

Duarte het gesê in die Wes-Kaap het twee takke wat weggelaat is appèl aangeteken, die nodige dokumentasie verskaf en is toe weer aanvaar as stemafgevaardigdes.

Gwede Mantashe, die uitgaande sekretaris-generaal, sal vandag sy organisatoriese verslag voorlê. Afgevaardigdes sal dan met die benoemingsproses begin en later stem.

Volgens mediaberigte sal 4 776 afgevaardigdes aan die stemproses deelneem. ‘n Kandidaat kort 2 389 stemme of meer om as die nuwe president van die ANC aangewys te word.

Die uitslae van die stemmery sal na verwagting Maandag bekendgemaak word, het Duarte gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

franje van spanje ·

Ek wil graag hoofmeisie word, maar net my vriendinne mag stem….. hehehe.

John ·

Dit gaan op ‘n babelse verwarring uitloop… presies waarop Zuma hoop. Baie soet koffie is al wat moreoggend sal help en ‘n disprin daarby vir diegene met hartprobleme…

Anoniem ·

Waar kom die pibliek ter sprake in die gestemmery.
Waarom mag ons nie ook stem?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.