ANC-konferensie: Talle vertragings, verrassings en die wenners

Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Indien jy een van die Suid-Afrikaners is wat wonder hoe nou gemaak met die nuus dat die ANC sal voortgaan met grondonteiening sonder vergoeding, kan jy jouself moontlik berus by die feit dat dit nie ten koste van die ekonomie, landbouproduksie en voedselsekuriteit gedoen mag word nie.

“Hierdie voorwaardes vir grondonteiening laat ʼn mens eintlik wonder net hoe die ANC beplan om die een sonder die ander te doen. Dit is ʼn voorbeeld van ʼn klassieke ANC-paradoks. Daarom voel ek dit was ʼn dramatiese politieke aankondiging, maar is met dié voorwaardes heelwat versag. ʼn Mens moet onthou die staat het nog altyd die reg gehad om in sekere gevalle grond te onteien sonder vergoeding,” het Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

Maroela Media het berig Enoch Godongwana, uittredende voorsitter van die ANC se ekonomiesebeleidskommissie-transformasie, het gesê die party sal voortgaan om wysigings aan afdeling 25 van die grondwet aan te bring wat onteiening van grond sonder vergoeding sal bewerkstelling. Die aankondiging is Woensdagaand tydens ʼn terugvoersessie op die laaste dag van die ANC se nasionale verkiesingskonferensie by die Nasrec-sentrum in Johannesburg gemaak.

Die aankondiging het talle Suid-Afrikaners warm onder die kraag. Agri SA het Donderdagoggend gesê die landbou-organisasie neem met ontsteltenis kennis van die ANC se besluit en dat onteiening sonder vergoeding ʼn ekonomiese tydbom is.

“Daar is geen rasionele grondslag vir hierdie besluit van die ANC nie. ʼn Hoëvlakpaneel, gelei deur voormalige pres. Kgalema Motlanthe wat sleutelwetgewing vir die versnelling van verandering geassesseer het, het onlangs bevind die grootste uitdaging in die pad van grondhervorming is nie die eiendomsregtelike klousule nie, maar die implementering van grondhervormingsbeleid, prosedures en die korrupsie in die stelsel.”

Die burgerregtewaghond AfriForum sê die ANC se besluit om Suid-Afrika se grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, kom neer op ’n besluit om diefstal te pleeg en die land op dieselfde vernietigingspad te plaas as wat deur Zimbabwe gevolg is met die ondermyning van eiendomsreg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is respek vir eiendomsreg ’n kernvereiste vir ’n suksesvolle ekonomie. “Lande wat eiendomsreg skend word gekenmerk deur werkloosheid, armoede en ekonomiese agteruitgang. Die ANC se besluit om eiendomsreg te skend, sal dus almal in die land benadeel, behalwe die klein groepie elite wat voordeel uit die ANC se diefstalplan sal trek.”

Venter, wat die konferensie bygewoon het, het gesê die ANC-afgevaardigdes het selfs in ʼn stadium tydens die debat oor onteiening handgemeen met mekaar geraak. “Dit is ʼn aanduiding van hoe geweldig groot hierdie uitdaging vir die ANC is om te hanteer.”

Die ANC se nuwe nasionale uitvoerende komitee is Donderdag in die vroeë oggendure aangekondig. Foto: ANA

Ramaphosa lê groot klem op ekonomie

Cyril Ramaphosa het vroeg Donderdagoggend in sy eerste toespraak as nuutverkose president van die ANC bykans twee derdes van sy toespraak afgestaan aan sake soos ekonomiese groei en die afstof van die nasionale ontwikkelingsplan. Hy het ook gevra dat alle Suid-Afrikaners die geleenthede in die land gegun word.

“Hy het vir my geklink soos die ware UDF-man wat hy is en het definitief teruggegryp na die ANC se ou waardes waarmee mense hom assosieer.

“Ek kon ook nie help om op te merk dat hy sy toespraak van ʼn iPad af gelewer het nie, in goeie, duidelike Engels sonder om te sukkel met die syfers of die uitspraak van woorde,” het Venter bygesê.

Hy reken die wenner van die konferensie, met al die vertragings en teenstrydige, was beslis Ramaphosa en sy ondersteuners, terwyl die verloorder die Guptas en hulle geld was.

“Ek dink nie ons moet vir ʼn oomblik onderskat hoe fel hierdie stryd was nie. Pres. Jacob Zuma, as uitgaande president van die ANC, was ʼn leidende figuur en aktief betrokke by dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se veldtog vir die topposisie in die ANC.

“Zuma het geweldig baie in haar veldtog ingesit en dat Ramaphosa steeds as die leier uit die stryd getree het, sê baie.”

Die ANC se nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK) is ook om 03:15 Donderdagoggend aangekondig. Volgens Venter lyk dit darem of ‘n klein meerderheid van die NUK-lede uit die Ramaphosa-kamp kom.

Venter glo twee faktore wat ʼn bepalende invloed op die uitkoms gehad het, al wil die ANC dit nie tans erken nie, is die drie hofuitsprake in die week voor die nasionale verkiesingskonferensie, asook die feit dat die ANC van Mpumalanga op die nippertjie besluit het om hulle stemme agter Ramaphosa in te gooi.

“ʼn Joernalis het geskryf Ramaphosa het ʼn ooreenkoms met die duiwel aangegaan om eindelik die president van die ANC te word nadat hy 20 jaar vir hierdie oomblik moes wag; ek is geneig om hiermee saam te stem. Dit is ʼn groot oomblik vir Ramaphosa.”

Die ander verrassingspakkie van die konferensie vir Venter was Ace Magashule, premier van die Vrystaat, se verkiesing tot die ANC se sekretaris-generaal. “Dit is beslis die tweede belangrikste posisie in die ANC en sy verkiesing tot die pos het die party in ʼn geweldige moeilike posisie geplaas met die talle bewerings van korrupsie wat om Magashule se nek hang.”

anc-2017-nuwe-top-ses-twitter

Die nuwe top ses van die ANC wat Maandagaand tydens die nasionale verkiesingskonferensie in Johannesburg verkies is. Foto: Twitter.

Baie tyd is vermors

Venter het die hele konferensie “uitputtend en uitmergelend” beskryf. “Twee dae van die konferensie is gemors om afgevaardigdes se stemreg te akkrediteer en die 68 ‘vermiste stemme’ uit te sorteer. Daar was eintlik baie min tyd vir die kommissies om die besluite van Junie se beleidskonferensie te bespreek en dit is een van die belangrikste take op die nasionale konferensie.”

Daniëlla van Heerden, ʼn verslaggewer van eNuus wat gedeeltes van die konferensie oor die naweek bygewoon het, het ook gesê die konferensie is gekenmerk deur talle vertragings.

“Dit was sekerlik te verwagte gewees; met meer as 5 000 afgevaardigdes kan en sal daar iets verkeerd loop. Die afgevaardigdes was wel vreedsaam en gedissiplineerd. In terme van veiligheid en sekuriteit het die konferensie ook goed afgeloop.

“Een van die punte van die konferensie wat vir my uitgestaan het, was verseker die aankondiging oor gratis tersiêre onderrig. Dit was heeltemal ʼn skok en niemand het dit verwag nie. Dit lyk ook nie of pres. Zuma eens die tesourie of die minister van finansies oor sy besluit ingelig het nie.

“Die gevolge van hierdie aankondiging gaan nog lank met ons wees en vir baie drama sorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christo ·

Die ANC is die wenners en Suid-Afrikaners die verloorders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.