ANC-konferensie: Twitter behoorlik aan’t gons

ANC-se-vlag-deur-ANA

Die ANC se vlag. Foto: ANA.

Die ANC se nasionale leierskapkonferensie skop eers amptelik Saterdag by die Nasrec-eksposentrum in Johannesburg af, maar Twitter is reeds behoorlik aan’t gons soos wat daar op dié sosialemediaplatform oor die konferensie gesels en gedebatteer word.

ʼn Mens kan hierdeur ʼn blik kry van net hóé fel die stryd binne die ANC is wat die party se leierskap betref. Nie net is daar hofsake rakende die provinsiale algemene raad se konferensies in die Noordwes, Vrystaat, Oos-Kaap en Mpumalanga aanhangig gemaak nie, maar in die digitale wêreld van sosiale media is die sogenaamde stryd om idees nou heftiger as ooit.

fikile-mbalula-se-omkoopgeld-twitter

Die foto wat ter illustrasie gebruik is by Mbalula se twiet oor omkoopgeld waarop die polisie voor die ANC se leierskapkonferensie beslag gelê. Foto: Twitter.

Stryd om idees

Derek Hanekom, die voormalige minister van toerisme, en Fikile Mbalula, minister van polisie, het mekaar Dinsdag op Twitter aangevat oor die beslaglegging op R2,5 miljoen kontant wat glo bestem was om ANC-afgevaardigdes voor die party se nasionale konferensie om te koop.

Mbalula, wat sy steun reeds aan Nkosazana Dlamini-Zuma as die volgende presidensiële kandidaat vir die party toegesê het, het Dinsdagmiddag ʼn foto van ʼn sak geld getwiet en beweer die polisie het op dié kontant tydens ʼn intelligensiegedrewe operasie beslag gelê.

Mense op Twitter het vinnig teruggekap en gesê die minister het dieselfde foto gebruik wat verlede jaar tydens ʼn inhegtenisneming in Kaapstad versprei is. Mbalula is daarvan beskuldig dat hy valse inligting gebruik om propaganda te versprei.

Hy het vinnig hierop reageer dat hy die foto net ter illustrasie gebruik het, maar Hanekom, wat weer ʼn ondersteuner van adj.pres. Cyril Ramaphosa is, het geëis Mbalula moet “gaan” omdat hy nog nie al die geskenke wat hy ontvang het, verklaar het nie.

Hanekom het Mbalula ook uitgedaag om weg te breek van die Guptas, die mense wat die omstrede broers beskerm en diegene wat deur hulle gekaap is.

Mbalula het weer teruggekap en beweer hy was die eerste mens wat homself teen die invloede van die Guptas uitgespreek het.

Ná die woordewisseling op dié sosialemediaplatform het Mbalula getwiet daar is geen werklike vyandigheid tussen die twee nie: “Goeienaand, kameraad Derek, dit is wat ʼn mens die stryd om idees noem en ondanks my politieke bedenkinge oor jou is jy steeds my kameraad – geen vyandigheid [nie].”

helen-zille-en-rupert-se-fopnuus-epos-twitter

‘n Skermskoot van Helen Zille se twiet oor die fopnuus wat versprei word. Foto: Twitter.

Fopnuus oor Rupert en Zille se invloed

Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, en Johann Rupert, voorsitter van Richemont, het Dinsdag ʼn skermskoot van ʼn e-posgesprek tussen hulle as fopnuus afgemaak.

Ene @MusiAmos1 het die skermskoot van ʼn e-pos wat Rupert kwansuis van die e-posadres [email protected] aan Zille by [email protected] op 11 Desember gestuur het in die aanloop tot die ANC se konferensie op Twitter gedeel.

Zille het gesê dit is duidelik ʼn amateuragtige poging van #GuptaBots om fopnuus te versprei. Sy reken die doel is om te insinueer dat Rupert en sy probeer om die uitslag van dié konferensie te beïnvloed, wat onsin is.

Rupert het ook ontken die e-posadres in die skermskoot behoort aan hom en aangevoer die persoon wat die inligting versprei, dink sekerlik Suid-Afrikaners is heeltemal onnosel.

  • Volg gerus die hutsmerke soos #ANC54, #ANCconference en #WeAreReady om op die hoogte van die konferensie te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Loeis ·

Mbabula se verweer laat mens bietjie dink aan daardie mannetjie wie ‘n foto van republiekvlak vir ‘n berig oor Swart Maandag gebruik het. ‘n Foto wat hy nie daar geneem het nie. Seker ook net ter illustrasie. Van sy eie persepsies. Mbabula het juis baie oor lg te se gehad. Sies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.