ANC-konferensie: Wat nou van Zuma?

Uitgaande pres. Jacob Zuma en sy adjunk, Cyril Ramaphosa, Sondag by die ANC se nasionale konferensie in Johannesburg. Foto: @MyANC/Twitter.

Terwyl die laaste stemme vir die ANC se nuwe president nog Maandagmiddag by Nasrec-sentrum in Johannesburg getel is, het talle Suid-Afrikaners begin wonder wat gaan nou met president Jacob Zuma gebeur as die regerende party se nuwe leier eers aangewys is.

Volgens Theo Venter, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sal Zuma volgens die grondwet steeds tot Mei 2019 die amptelike staatshoof van Suid-Afrika wees, al is hy dan nie meer die party se leier nie.

“Suid-Afrika het dan twee sentrums van mag – ʼn nuwe politieke leier in Luthuli-huis in Johannesburg en ʼn staatshoof in die Uniegebou in Pretoria.

“Dit kan die bestuur van die land kompleks maak veral indien die twee leiers nie eintlik saamstem in terme van beleid nie soos in die geval toe Zuma as partyleier destyds by Thabo Mbeki oorgeneem het, maar daar is ook voorbeelde waar dit gewerk het soos toe Mbeki by oudpresident Nelson Mandela oorgeneem het,” het hy verduidelik.

Venter reken daar is drie moontlike scenario’s oor hoe Zuma se toekoms kan uitspeel na afloop van die ANC se leierskapkonferensie.

“Indien dr. Nkosazana Dlamini-Zuma sou wen, sal Zuma in alle waarskynlikheid sy termyn as staatshoof voltooi met sekere beperkings. Zuma kan dalk steeds onder geweldig baie druk vanuit ander oorde kom omrede daar steeds hofsake teen hom hangende is en regters reeds gesê het hoe die ondersoek na staatskaping moet plaasvind.

“Sou adjunk-president Cyril Ramaphosa met ʼn oorweldigende meerderheid wen, sal Zuma waarskynlik vinniger uit sy pos ontruim word. Dit kan wettig gedoen word deur hom te vra om uit te tree of te bedank.

“Die derde scenario is egter ook baie belangrik. Die liggaam wat besluit of die president moet uittree, is nie die nuwe president nie maar die nuwe nasionale uitvoerende komitee (NUK), wat uit 80 lede bestaan. As die NUK byna gelykop verdeel is tussen Dlamini-Zuma en Ramaphosa sal hulle niks aan Zuma doen nie en hy sal sy termyn ook voltooi en die land kan daaronder ly.”

Venter het gesê Suid-Afrikaners sal dié scenario sien indien Ramaphosa met ʼn minderheid die presidentskap van die ANC gewen het.

“As die NUK sterk Ramaphosa-georiënteerd is, sal daar ʼn groter kans wees dat Zuma sy amp as staatshoof vinniger ontruim. Alles hang dus af van hoe die NUK saamgestel word.”

Volgens Venter sou die NUK-verkiesing volgens die oorspronklike program vir die ANC-konferensie ook reeds Maandagmiddag afgehandel wees, maar dié konferensie is reeds ver agter volgens die program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

snoefie ·

tel Zuma self die stemme dat dit so lank vat? nou gaan hulle oortel. hy het seker weer deurmekaar geraak.

jaco ·

dis maklik: doen net wat die wit mense in die ou SA gedoen het:
PW Botha het eenvoudig vir John Vorster uitgejaag. FW de Klerk het weer dieselfde met PW Botha gedoen

Frikkie Geld en huis ·

Uitgetrede presidente, soos De Klerk, geniet polisiebeskerming. Ek hoop, as Ramaphosa sou oorneem as president, dit nie nodig sal wees vir polisiebeskerming aan Zuma nie. Die tronkbewaarders kan hom oppas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.