ANC krabbel terug oor Reserwebank

SA Reserwebank (Foto: ANA)

Die ANC het gister teruggekrabbel en ‘n omstrede parlementêre mosie oor die nasionalisering van die Reserwebank teruggetrek.

Die mosie, in die naam van die senior ANC-LP en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, Joan Fubbs, is teruggetrek enkele ure voordat dit voor die nasionale vergadering sou dien.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die ANC-koukus, wou vanmiddag niks meer oor die onverwagse wending sê as dat die ANC meen verdere raadpleging is oor die kwessie nodig nie.

Dit is ‘n verdere aanduiding van verdeeldheid in die ANC, en ‘n teken dat die linkervleuel van die ANC, wat ná verlede week se aanvaarding van die omstrede mosie oor grondonteiening sonder vergoeding heel diknek rondloop, ‘n terugvegaksie van die gematigde vleuel in die party kan verwag.

Prof. Jannie Rossouw, ekonoom aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê dit is meer ʼn simboliese as ‘n substantiewe argument wat oor die kwessie woed. Hy het aan Maroela Media uitgewys dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank een van net agt sentrale banke wêreldwyd is wat nie genasionaliseer is nie.

“Die vorige sentrale bank om te nasionaliseer was die Bank van Oostenryk agt jaar gelede, en dit het só min opspraak verwek, dat daar nie eens literatuur in Engels daaroor bestaan nie,” het Rossouw uitgewys.

Hy het gesê die Suid-Afrikaanse Reserwebank het sowat 650 private aandeelhouers en dit sal die regering net sowat R20 miljoen kos om hulle uit te koop.

Die private aandeelhouers kan slegs ‘n minderheid van die direksie benoem en het dus geen beheer oor monetêre beleid nie. Die staat benoem die meeste direkteure, en die president benoem die goewerneur en adjunkgoewerneurs van die bank.

“Die enigste rede hoekom dit ‘n kwessie is, is weens staatskaping. Die onderlinge vertroue tussen die staat, die burgery en die sakesektor is verbreek. Daar is dus ‘n huiwering om die staat volkome beheer te gee,” het Rossouw verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard ·

M.a.w. die Kaders het agter gekom hulle het nie nodig om dit te doen nie en mors hulle tyd en kosbare Soustrein geld.

Johanna Botha ·

En intussen het die Rand geval en maak die dom anc die ekonomie weer en weer seer ! Anc leer nie !

Nico ·

Die private Reserwe Bank ‘skep’ die geld uit niks (dit word nie meer met goud ens ‘geback’ nie) en leen dit dan met rente aan die hele land. Hoe lyk hulle sous privaat straler teen die ANC se ou soustreintjie?

Ben ·

Skade is reeds gedoen. Buitelandse beleggers kom nie meer hier belê nie. Dit is nou te laat om terug te draai!

kla-kous ·

Net 8 banke wat nie genasionaliseer is nie. Maar wie is hulle? Seker van die grootste Westerse ekonomieë?

Nita ·

As hul eers die Reserwebank nasionaliseer is dit nag in s.a….ons geld gaan beslis nie meer veilig wees en hul gaan gebruik tot als op is…my geld het ek ontdek uit s a bank..het dit by Orania gaan belê.. Dawie Roodt het in rapport gesê kry jou geld hier uit..ANC en EFF gaan saamsmelt in 2019..banke nasionaliseer..myne nasionaliseer..en so gaan dit aan tot als in staat se mag is tot pensioen fondse..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.