ANC-KZN sal met ontstoke lede vergader

Polisiebeamptes staan wag buite die ANC se provinsiale hoofkantoor in KwaZulu-Natal (Foto: ANA)

Die ANC in KwaZulu-Natal se tussentydse leierskapspan het aangedui dat hulle volgende week met lede van die party, wat buite die party se provinsiale hoofkantoor in Durban betoog, sal vergader.

ʼn Groep van ongeveer 60 betogers het van ongeveer 12:00 buite die kantoor in Stalwart Simelanestraat begin saamdrom en liedere gesing terwyl die sameroeper van die tussentydse leierskapspan, Mike Mabuyakhulu, en die koördineerder Sihle Zikalala, in die gebou vergader het.

Volgens die betogers, ondersteuners van die voormalige ANC-voorsitter en afgedankte premier Senzo Mchunu, is die tussentydse komitee, wat gekies is om die party na ʼn nuwe provinsiale verkiesing te lei, bevooroordeeld en ten gunste van Zikalala, ʼn openlike ondersteuner van pres. Jacob Zuma.

Zikalala was die provinsiale voorsitter voor hy en ander deur die ANC se nasionale liggaam geskors is. Zikalala is, ondanks die skorsing, gekies om op die tussentydse struktuur te dien.

Zikalala het ná ʼn vergadering met drie van die betogers, aan verslaggewers gesê daar is ingestem dat hulle volgende week met die ontstoke lede sal vergader. “Die kommernis van die betogers is dat dit lank gevat het vir KwaZulu-Natal om probleme en verdeeldheid te oorkom, en dat daar ʼn paar goed gebeur het en dat hulle nie seker is dat die ANC gereed sal wees om binne die bepaalde tydperk die konferensie te hou wat die party sal verenig nie,” het Zikalala gesê.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het die tussentydse leierskapspan aangestel ná ʼn uitspraak in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof bevind het dat die provinsiale verkiesingskonferensie in 2015 ongeldig was en die uitslag is dus nietig verklaar. ʼn Nuwe konferensie moet binne drie maande plaasvind.

Mabuyakhulu het bygevoeg die gesprek met die drie betogers het “vlot verloop”. “Ons is gereed om die proses te bespreek. Ons sal dus volgende week met hulle vergader en die proses aan hulle verduidelik. Maar ons wil in die algemeen aan ons lede sê, ons dink dat ons hierdie proses met groot inklusiwiteit wil benader,” het hy gesê.

Mabuyakhulu was die LUR vir ekonomiese ontwikkeling in Mchunu se administrasie, ʼn amp wat nou deur Zikalala gevul is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.