ANC KZN sê hy het nie toestemming nodig om uitspraak te daag nie

Argieffoto

Die ANC in KwaZulu-Natal het nie toestemming van die party se nasionale uitvoerende komitee nodig om te besluit of hy aansoek sal doen om appèl ná Dinsdag se uitspraak in die hooggeregshof nie.

Dit was Woensdag die siening van die leiers en verteenwoordigers van die ANC KZN se vroue-, jeug- en veteraanligas tydens ʼn perskonferensie by die party se provinsiale hoofkantoor in Durban. Verskeie streeksleiers, wat dieselfde mening huldig, was ook teenwoordig.

Die dringende perskonferensie is Dinsdag aangekondig, net ure ná die KwaZulu-Natalse hooggeregshof in Pietermaritzburg uitspraak gelewer het oor die party se provinsiale konferensie in November 2015 en dat enige besluite wat daar geneem is, “onwettig en ongeldig” is.

Sihle Zikalala, huidige provinsiale voorsitter, is by daardie konferensie aangestel in die plek van Senzo Mchunu. Mchunu se ondersteuners het dadelik beswaar aangeteken, en nadat hulle alle interne prosesse tevergeefs gevolg het, het hulle Zikalala en die hele provinsiale uitvoerende komitee (PUK) na die hof gesleep oor onreëlmatighede.

Mduminseni Ntuli, provinsiale woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê die PUK sal ʼn mosie indien om appèl aan te teken teen die hooggeregshof se uitspraak en dat dit voorlopig gedoen sal word voor daar met die nasionale leierskap vergader word.

“Dit is ons stryd. Die NUK kon nie eers hof toe kom om die ANC te verdedig nie,” het Kwazi Mshengu, provinsiale voorsitter van die ANC-jeugliga, by Woensdag se perskonferensie gesê. “Dis baie vreemd dat hulle sê, ‘los ons en ons sal die saak hanteer’, en wanneer die uitspraak kom, dan sê hulle, ‘nee dankie, julle kan nou oorneem’. Dit kan nie só werk nie.”

Mshengu het gesê dit is ook belangrik om te noem dat die hof bevind het die aansoekers het nie duidelik ʼn noodlottige onreëlmatigheid uitgewys wat die hele konferensieproses ongeldig kan verklaar nie. “Die enigste gronde waarop die hof gesteun het, is dat die konferensie gehou is voor die einde van die vier jaar lange ampstermyn en sonder die versoek van eenderde van die takke in die provinsie.”

Nomagugu Simelane-Zulu, adjunkvoorsitter van die provinsiale vroueliga, het gesê die magte wat die PUK het, is duidelik uiteengesit in die ANC se grondwet en dat dit slegs aan dié bepalings onderwerp word. “Dit wil voorkom of daar ʼn idee is dat die PUK gedelegeerde magte van die nasionale uitvoerende komitee kry. Dis nie waar nie,” het Simelane-Zulu verduidelik.

“Die PUK teken appèl aan teen die besluit en ons het nie die NUK of enigiemand anders se toestemming nodig nie,” het Thanduxolo Sabelo, provinsiale sekretaris van die ANC-jeugliga, gesê. Volgens hom was die hofsaak nie oor die provinsiale konferensie nie, maar oor die komende nasionale konferensie in Desember waar ʼn nuwe ANC-president verkies moet word.

Mchunu en sy ondersteuners is voorstanders van adjunkpresident Cyril Ramaphosa, wat teen Nkosazana Dlamini-Zuma te staan kom in die nasionale konferensie. Die ligas in KwaZulu-Natal en talle ander streke ondersteun Dlamini-Zuma.

“Dit is ligas, hulle is outonoom, hulle bestuur die sake van hul ligas, hulle bestuur nie die ANC nie,” het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, tydens ʼn telefoniese gesprek met African News Agency oor die perskonferensie gesê.

Wat betref die streeksverteenwoordigers wat appèl wil aanteken teen die uitspraak, het Mantashe gesê die streke is onder die jurisdiksie van die provinsie, “hulle kan enigiets sê, ons bestuur hulle nie”.

Hy het gesê die nasionale leierskap sal Vrydag met KwaZulu-Natal se leiers by Luthuli House vergader “om hul voorstel aan te hoor”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.