‘ANC laat toe dat misdaad WK versmoor’

(Argieffoto ter illustrasie: SA Polisie)

Die burgerregtegroep Action Society pleit nie net dat Bheki Cele, minister van polisie, uit sy pos verwyder word nie, maar ondersteun ook oproepe vir desentralisasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Wes-Kaap.

Dit volg nadat die SAPD vandeesweek bevestig het dat dié provinsie nie die aantal polisierekrute sal ontvang waarvoor aanvanklik begroot is nie.

Die Wes-Kaap sal slegs 1 118 polisierekrute in die huidige boekjaar ontvang – byna 1 000 minder as wat Cele vroeër beloof het.

“Die ANC probeer letterlik om die Wes-Kaap met misdaad te versmoor. Deur minder polisielede te ontplooi as waarvoor begroot is, sal meer onskuldige mense aan geweldsmisdaad, verkragting en moord onderwerp word – veral in die misdaadgeteisterde gebiede van Khayelitsha en Manenberg,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Cameron meen die desentralisasie van die SAPD in die Wes-Kaap sal beteken dat burgers nie van ’n nasionale liggaam afhanklik sal wees “wat al jare lank deur politieke inmenging” geteister is nie.

“Dit sal beter wees vir die veiligheid van Suid-Afrikaanse burgers om die diens waarvoor hulle eintlik stem, in die Wes-Kaap te kry. Op die oomblik is hulle gyselaars van die ANC se kaderontplooiingsramp wat wetstoepassingspogings nasionaal verlam.

“Die Wes-Kaap het baie jare reeds die meeste vakante poste in die polisie in vergelyking met ander provinsies. ’n Verslag deur die Staatsdienskommissie wat in 2018 gepubliseer is, het bevind dat 85% van polisiekantore in die Wes-Kaap onderbeman is. ’n Jaar later, in 2019, het die Wes-Kaapse polisie-ombudsman aangedui dat die verhouding van beamptes tot bevolking in die Wes-Kaap ver tekort skiet van die Verenigde Nasies se aanbeveling van 1 tot 200. SA se verhouding staan op 1 tot 383.”

Cameron sê indien desentralisering nie in die SAPD plaasvind nie, sal polisiëring verder versleg.

“Burgers sal nie net toenemend op gemeenskapsveiligheidstrukture aangewese wees nie, maar ook op wetstoepassingstrukture op provinsialeregering‑ en plaaslikeregeringsvlak, wat nie altyd dieselfde mandaat as die polisie het nie.

“As ons nie die manier waarop die regering probeer polisieer verander nie, kan ons ook geen positiewe verandering verwag nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.