ANC lei Rustenburg droog

water-kraan

(Foto: Pixabay)

Inwoners van Rustenburg gaan vir etlike jare gebuk onder watertekorte wat, soos elders, onder meer veroorsaak word deur verouderde waterinfrastruktuur en die wanbestuur van reservoirs onder ANC-bestuur.

“Die Rustenburg- plaaslike munisipaliteit probeer hierdie waterprobleme en sy onvermoë om iets daaraan te doen, voor die deur van omliggende mynbedrywighede se waterverbruik te lê,” sê Abrie Rootman, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

“Die myne rondom Rustenburg is ʼn kern-ekonomiese aandrywer en kan nie die blaam dra vir die swak beplanning van die ANC-beheerde munisipaliteit nie. Die ANC sinspeel gereeld daarop dat groot probleme in die munisipaliteit eerder ‘uitdagings’ is as krisisse.”

Tydens ʼn radio-onderhoud met Rustenburg-munisipaliteit se ANC-burgemeester, Mpho Khunou, het hy erken dat Rustenburg al ʼn geruime tyd gebuk gaan onder ʼn waterkrisis. Daar is reeds in 2013 voorsien dat daar ʼn waterkrisis in die munisipaliteit gaan ontstaan.

“Magalieswater het intussen R1 miljard aangevra vanaf die departement van water en sanitasie om die Pilanesberg-waterskemaprojek te voltooi. Die skema beoog om ʼn verdere 70 megaliter water aan Rustenburg te verskaf. Die projek is slegs tot by Mafenya voltooi en verdere fondse word benodig om dit af te handel. Die projek sloer vanaf 2016,” het Rootman bygevoeg.

Rustenburg ervaar tans ʼn tekort van 50 megaliter water per dag. Indien die fondse wel ontvang word, sal dit steeds ʼn verdere twee jaar neem voordat die projek voltooi is. Indien dit nie bekom word nie, sal die inwoners van Rustenburg deur die naderende moontlikheid van beurtwater in die gesig gestaar word.

Luidens ʼn amptelike verklaring uitgereik deur die burgemeester, het Magalieswater beloof om die saak weer eens onder die nasionale regering se aandag te bring.

Rustenburg Waterdienste Trust bestuur die Bospoort-waterwerke en kan 12 megaliter water per dag bykomend aan Rustenburg verskaf, maar as gevolg van gedurige kragonderbrekings word daar tans slegs 6 megaliter per dag verskaf.

“Beloftes word deur die munisipaliteit gemaak van ʼn taakspan wat aangestel gaan word om die algehele waterkrisis van Rustenburg te ondersoek, maar tot op hede is nog geen behoorlike ondersoek gedoen nie.” Die beloofde taakspan sal na bewering bestaan uit die munisipale bestuurder, Victor Makona, sowel as Magalieswater, Randwater, Rustenburg Waterdienste Trust en ander kundiges.

“Die plan om pompe by Geelhoutpark- en Tlhabane Wes-reservoirs te vervang, gaan geringe verligting bied, maar is steeds net ʼn druppel aan die emmer,” het Rootman verduidelik. “Dit is ʼn skande dat inwoners van hierdie kern-ekonomiese spilpunt in Noordwes die spit moet afbyt vir die munisipaliteit se jarelange swak beplanning en ʼn gebrek aan infrastruktuur-onderhoud. Kiesers moet met die opkomende plaaslike regeringsverkiesings die ANC na behore by die stembus straf vir sy swak dienslewering en moet stem om beter dienslewering te verseker vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pieter ·

En ouer people sal weer vir die siek ANC stem. Daar is ongelukkig nie medisyne vir al die slim ANC narre nie

Kokerboom ·

Dis tyd dat inwoners van Rustenburg beheer neem. Te duiwel met ALLE politieke partye. Hul bly ‘n euwel!!

Nico ·

Daar is nog steeds onbevoegde mense in die munisipaliteit, raak ontslae van hulle.

Sonneblomkind ·

Kom Rustenburg inwoners neem beheer. Kry juk papierwerk reg gaan hof toe en raak ontslae van die mense wat nie hul werk doen nie

Andrew ·

Inwoners kan nie beheer neem oor lang termyn nie, die howe sal dit nie toelaat nie. So maak dit reg, dan sê die howe gee terug, dit is staat eiendom. Ek waarsku ook al geruime tyd dat suiwer afrikaanse ou model-c skole bly die staat se skole, dubbel medium is net die eerste stap, vra maar die Afrikaanse Matie studente.

Lola88 ·

Ja wel. As jy vir hulle gestem het, hoekom wil kla dan? En jy wat nie gestem het nie, want watter verskil maak jou vote tog…moet ook dan maar eerder stilbly…

Jr ·

The world is full of EVIL because GOOD men say and do nothing. Onthou dit lola88

Monique ·

Genade. Louis Trichardt in Limpopo sukkel al jare met water probleme. Die dorp sit baie kere sommer 3 tot 4 weke sonder water.

Piet parys ·

So beurtkrag en beurtwater. So wanneer besef die mense geen dienste geen betaling . BEURT BETALING . Betaal net vir iets wat gelewer word

Jr ·

Stem cANCer party want saam kan ons alles opkneuk baie meer vinniger

Korrelkop ·

Ontbind daai onbevoegde stadsraad en stel mense, wat weet wat hulle doen, in hulle plek aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.