ANC-leiers in sop oor VBS

Twee belangrike magshebbers in die ANC se Limpopo-leierskap se koppe is opnuut in ’n byenes nadat dokumente wat hulle ten nouste koppel aan die geknoei by Venda-bouvereniging (VBS) Maandag gepubliseer is.

Die twee senior ANC-politici wat betrek word, is die party se tesourier in Limpopo, Danny Msiza, en die ANC-burgemeester van die Vhembe-distriksraad, Florence Radzilani, berig Daily Maverick.

Die Vhembe-distriksraad is in die noordelike uithoek van die land en omvat die munisipaliteite Thulamela (wat setel in Thohoyandou, Makhado (gesetel in Louis Trichardt), Collins Chabane (gesetel in Malamulele) en Musina (gesetel in die dorp wat voorheen as Messina bekend was).

Die VBS-skandaal sentreer om die plundering van meer as R2 miljard se bates van die VBS, wat in 1982 gestig is om spaargeleenthede en finansiering aan die brandarm inwoners van die gebied te bied.

Die vermeende baasbrein agter die VBS-bankskandaal Tshifhiwa Matodzi in die hof. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Sowel Msiza as Radzilani is tydens die aanvanklike onthullings oor die VBS-plundering deur die ANC uit hul poste onthef. Verlede week is albei weer in hul poste aangestel deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Nou is daar opnuut lig op die onderwerp gewerp met dokumente wat aandui dat Msiza die groot kokkedoor was wat onbehoorlike druk geplaas het op munisipaliteite soos Elias Motsoaledi (gesetel in Groblersdal) om belastingbetalersgeld wederregtelik by VBS te belê.

Luidens dokumente het Radzilani belastinggeld van haar distrik vas belê by VBS en alles is nou verlore. Boonop word in die dokumente gesê dat sy aangedring het dat VBS-toplui haar betaal vir die wyse waarop sy beleggingsgeld wat nie haar eie was nie, vir hulle aangestuur het.

“Toe ek haar R300 000 aanbied, was sy huilerig, want ons het ander mense R1,5 miljoen betaal,” lui een van die onthullende stellings in die dokumente.

Dit is nog nie duidelik wanneer die Nasionale Vervolgingsgesag tot optrede sal oorgaan om op Msiza en Radzilani toe te slaan nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herpiet ·

“So what?” In die sop en vingertjies tik met onthefte poste en hofsake wat uitgerek word en dadels van kom. Dis nie asof hulle die geld gaan terug gee nie.

Suzette ·

Dit is ongelooflik hoe die anc geleenthede sien en skep om te plunder en uit te suig. Ek wonder of hier enigiets van gaan kom. Tot dusver het daar ook nog niks gekom van die Zondo kommissie se ondersoeke nie. Die name en bewyse is op die tafel, maar niemand word tot verantwoording gebring nie. Die teendeel is eerder waar – die einste diewe word of in dieselfde posisie behou of in ander hoë posisies aangestel. Ek is verby keelvol vir die spul.

Kokerboom ·

Die totale ANC bestuur kry 0 uit 10 as dit by behoorlike bestuur kom maar 12 uit 10 as dit kom by beplanning en uitvoering van bedrog, korrupsie en nepotisme

Jakes ·

Tydens die borgtogaansoek van die 7 mans wat verskeie aanklagte in die gesig staar kon ek nie glo dat hierdie mense getuig het dat meeste van hulle verskeie grade agter hulle naam kon skryf en verskeie belangrike posisies in bestuur beklee het. Dit is ook tiperend dat hierdie gedrag die norm geword het en dat diefstal en korrupsie nie deur diue regering as n misdaad beskou word nie. Ek kan nie aan een persoon dink wat in n hof skuldig bevind is of wat tronkstraf uitdien nie.

Henk ·

Die NVG is tans maar net nog een van die land se ANC-geïnspireerde tragedies. Ek hou nie my asem op vir daadwerklike effektiewe optrede nie.

Adam Adriaan ·

Ja die ANC is ‘n rowerbende van die kop tot by die tone

Genis ·

Mr President your people… dis darem weer n skande en wys wie en wat julle is…

Marthinus Johannes ·

Sluit hulle toe, nie net afdank nie, sluit toe en die sleutel weg.

Eerlik ·

ANC het geen bevoegde “leiers” nie, kan jou net baie leer van korrupsie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.