ANC-leierskap steeds in onstuimige Noordwes

Betoging in Noordwes (20 Maart 2018) Foto: Nehawu, Facebook

Die top-leierskap van die ANC was Maandag in Mahikeng in Noordwes steeds besig om agter die kap van die byl te kom omtrent voortslepende betogings om te eis dat premier Supra Mahumapelo moet bedank.

eNCA berig ʼn ministeriële taakspan gelei deur Nkosazana Dlamini-Zuma sal Woensdag ʼn verslag oor die onrus in die provinsie aan die kabinet voorlê. Ander lede van die taakspan sluit in Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering, Bheki Cele, minister van polisie, Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid en Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsekuriteit.

Die kabinet het intussen die Noordwes-gesondheidsdepartement onder administrasie geplaas terwyl dié departement gebuk gaan onder korrupsie en die impak van ʼn staking deur lede van die National Health and Allied Workers Union (Nehawu) wat reeds twee maande lank duur.

ʼn Vlaag gewelddadige betogings het verlede maand in die provinsie opgevlam waartydens winkels geplunder en eiendom beskadig is.

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Betogers eis dat Mahumapelo se kop moet rol. Die premier, wat ook die ANC se provinsiale voorsitter is, weier egter om te bedank en voer aan die betogings word aangevuur deur politieke binne-gevegte in die party.

Oor die naweek het plaaslike media berig dat ANC-leiers Mahumapelo verlede week tydens ʼn vergadering van die nasionale werkkomitee in Kaapstad gevra het om te bedank. Daar word beweer dat Thandi Modise, die voorsitter van die nasionale raad van provinsies, gereed staan om die leierskap in Noordwes oor te neem.

Intussen sal vyf verdagtes na verwagting vandag in die Mmabatho-landdroshof verskyn nadat hulle Vrydag in Seweding in hegtenis geneem is. Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê items wat vermoedelik tydens die betogings uit winkels gesteel is, is in die verdagtes se besit gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.