ANC-leierskapkonferensie: As Dlamini-Zuma leier van die ANC sou word

Nkosazana Dlamini-Zuma ná sy vroeër vanjaar by die parlement ingehuldig is. Foto: ANA

Maroela Media het met verskeie politieke ontleders en kommentators gesels om uit te vind wat Nkosazana Dlamini-Zuma se oorwinning op die komende ANC-leierskapkonferensie vir die party en die land sou beteken.

Het die tyd vir ʼn vrouepresident in Suid-Afrika nou aangebreek? Diegene wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as die volgende leier van die ANC steun dink die party en die land is gereed daarvoor.

Die ANC in die Vrystaatse algemene raad het Dlamini-Zuma Dinsdagaand as die provinsie se voorkeurkandidaat benoem om pres. Jacob Zuma as partyleier op te volg.

Thabo Meeko, provinsiale woordvoerder van die ANC, het gesê die provinsie glo sy is die regte kandidaat om die party vorentoe te neem.

Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, het onlangs tydens ʼn byeenkoms in Mpumalanga gesê Dlamini-Zuma moet die volgende president van die regerende party word want “sy praat nie net nie” het Maroela Media berig.

Dlamini-Zuma se agtergrond

Dlamini-Zuma se teenstanders verwys dikwels na haar as Zuma se eksvrou en sê Suid-Afrika kan nie nog ʼn Zuma in die presidensie bekostig nie. Hulle verbind haar direk aan haar “beleërde eksman” en voer aan dat sy hom teen vervolging sal beskerm sodra sy leier van die party en die land word.

Haar ondersteuners hou voet by stuk Dlamini-Zuma se politieke loopbaan is “skoon” en nie geraak deur enige groot skandale nie. Haar prestasies is deur haar eie harde werk behaal en nie verkry deur haar verbintenis met die president nie.

Dlamini-Zuma (68) was minister van gesondheid van 1994 tot 1999 in oudpres. Nelson Mandela se kabinet. Daarna was sy minister van buitelandse betrekkinge van 1999 tot 2009 in pres. Thabo Mbeki en pres. Kgalema Motlanthe se kabinet, waarna sy as minister van binnelandse sake in Zuma se eerste termyn aangewys is.

Sy het in haar tyd as minister van gesondheid wette ingestel wat die rook van tabakprodukte in openbare geboue verbied het. Sy het egter ook teëspoed opgetel toe dit aan die lig gekom het dat sy gejok het oor die befondsing van die Sarafina II-musiekspel en die kwakmiddel Virodene vir die behandeling van MIV/vigs gesteun het.

In haar tyd as minister van buitelandse betrekkinge is sy skerp gekritiseer vir haar “stille diplomasie- beleid” in reaksie op Zimbabwe se gewelddadige grondgrype en anti-wit rassisme in die 2000’s.

Sy is egter weer wyd geloof as dié minister van binnelandse sake wat daarin geslaag het om wanbestuur in die departement in die bek te ruk en die eerste skoon oudit in 16 jaar te behaal.

Dlamini-Zuma is verkies tot die eerste voorsitter van die Afrika-unie (AU) op 15 Julie 2012 en het die pos tot in Januarie vanjaar beklee. Dit blyk egter sy was ongewild en talle AU-amptenare het nie veel van haar gehou nie Hulle het haar as afsydig, onbelangstellend en afwesig beskryf.

Haar leierskap as voorsitter word gereeld as ʼn teleurstellende mislukking beskryf hoewel sy geprys is vir die bestuursverandering wat sy by die AU ingestel het.

Minister Nkosazana Dlamini-Zuma vertoon haar eie slim ID-kaart in 2012. Foto: EWN

Waarvoor staan sy in haar veldtog as die ANC se leier?

Volgens Dlamini-Zuma se webwerf beywer sy haarself vir ʼn opleiding- en vaardigheidsrevolusie en die bemagtiging van vroue en die jeug. Sy staan ook vir grond- en landbouhervorming terwyl sy werksgeleenthede uit die blou ekonomie (skeepvaart-, vis- en oliebedrywe) wil uitbrei.

Voorts glo sy die ekonomie moet geïndustrialiseer word en ʼn vierde industriële revolusie moet help om die ekonomiese groeivooruitsigte tot by die ontwykende 7% te stoot.

Haar veldtog fokus ook op gesondheidsorg en die waarde van kultuur in maatskaplike ekonomiese ontwikkeling en groei.

Dlamini-Zuma is glo ook ʼn groot voorstander van radikale ekonomiese transformasie, maar sy het dit self nog nie in duidelike terme probeer definieer nie.

zuma-se-aandete-vir-kandidate-MyANC-Facebook

Die sewe lede wat hulself as presidentskandidate vir die ANC beskikbaar gestel het, het onlangs met pres. Jacob Zuma aandete geniet. Voor staan Lindiwe Sisulu, Dlamini-Zuma en Baleka Mbete en agter is Zweli Mkhize, Cyril Ramaphosa, Zuma, Matthews Phosa en Jeff Radebe. Foto: MyANC Facebook-blad.

Wie steun haar tans?

Zuma het reeds so vroeg as in 2015 aangedui dat Dlamini-Zuma sy voorkeurkandidaat is om die leisels by hom oor te neem as die volgende leier van die ANC en die land.

Terwyl die Vrystaatse ANC pas sy steun amptelik aan haar toegesê het, geniet sy ook wye steun in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Noordwes, het prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, gesê.

“Die ANC Vroue- en Jeugliga het reeds gesê Dlamini-Zuma is hulle gunsteling-kandidaat terwyl die veteraneliga steeds erg verdeeld is,” het Duvenhage gesê. Hy sê die nasionale uitvoerende komitee is in hierdie stadium ongeveer 60/40 verdeeld, met die beherende aandeel wat pro-Zuma is en daarom vir Dlamini-Zuma sal steun.

Sou Dlamini-Zuma op 20 Desember as die president van die ANC aangewys word sal mense soos David Mabuza, Ace Magashule, Nathi Mthethwa en Duarte van die ander top-posisies in die party beklee.

Kan Dlamini-Zuma ʼn goeie leier vir die ANC en die land wees?

Diegene wat in beheer staan van Dlamini-Zuma se veldtog glo sy is die leier wat die ANC nou nodig het. Sy is die beste kandidaat om die organisasie te verenig en dit te lei tot ʼn oorwinning in die 2019 algemene verkiesing.

Maroela Media het met drie ontleders gesels en moes hulle hard druk om redes te vind waarom Dlamini-Zuma ʼn goeie leier vir die party en Suid-Afrika sou wees.

“Ek sien haar ongelukkig nie as ʼn dinamiese persoon wat werklik leiding kan neem in die moeilike politiese en ekonomiese omstandighede waarin die land tans is nie. Ek vermoed sy gaan eerder ʼn handpop van die Jacob Zuma-regering wees,” het Duvenhage gesê.

Prof. Willie Breytenbach, ʼn emeritus professor in politieke wetenskappe aan Universiteit Stellenbosch, het gesê Dlamini-Zuma beskik oor uitstekende akademiese kwalifikasies, maar is na sy mening glad nie charismaties of dinamies nie.

“Ek dink net ons moet besef Dlamini-Zuma is nog glad nie uit die leierskapstryd nie, hoewel Ramaphosa se veldtog al meer momentum gekry het.

“Die regime ondersteun haar en in Afrika wen die sogenaamde ‘incumbent’ elke keer. Kyk ook maar vir Zuma, hy het nog elke keer ʼn krisis deurstaan.

“Sy beskik ook oor meer ervaring as minister in die kabinet en sy was die eerste voorsitster van die AU. Boonop kan sy die gender-kaart speel,” het Duvenhage bygevoeg.

Ekonome is ook nie juis opgewonde oor die vooruistig van ’n Dlamini-Zuma-ANC nie. Foto: GCIS.

Wat sê die politieke ontleders?

Sou Dlamini-Zuma as die leier van die ANC op die konferensie seëvier sal dit nie met ʼn oorweldigende steun wees nie, reken die ontleders.

Kenners meen ook haar oorwinning sal tot ʼn skeuring in die ANC lei en die skeuring sal reeds duidelik op die konferensie gesien kan word, sou dit gebeur.

Volgens Breytenbach het daar in die laaste dekade ʼn groot demografiese verskuiwing in die ondersteuningsbasis van die ANC plaasgevind. “Onder Zuma se bewind het die ANC ʼn landelike party geword, terwyl die ANC altyd hoofsaaklik ʼn stedelike party was.”

Dlamini-Zuma se ANC sal volgens die ontleders byna onmiddellik die steun van stedelinge verloor en ʼn plattelandse party word. Die kanse is ook goed dat Cosatu en die SAKP, die ANC se alliansievennote, finaal hul rug op die party sal keer.

Dit blyk ekonome is ook nie te opgewonde oor die vooruitsig van Dlamini-Zuma aan die stuur van sake nie. Standard Bank het vroeër die maand ʼn verslag uitgereik waarin hy sê Dlamini-Zuma staan ʼn goeie kans om die leierskapstryd vir die ANC te wen, maar dit sal nie goeie vooruitsigte vir die ekonomie voorspel nie omdat dit die behoud van ʼn baie onvolmaakte status quo sal beteken.

Breytenbach en dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus en parlementslid, meen egter ʼn Dlamini-Zuma-ANC sal reg in die hande van die opposisiepartye speel.

“Dan kry die ANC minder as 50% in 2019 se verkiesing en kan ʼn opposisiekoalisie regeer,” het Mulder gesê. Hy het egter bygevoeg dit is moeilik om te sê of dit die beste keuse vir Suid-Afrika sal wees. “As die Dlamini-Zuma-ANC minder as 50% kry mag die EFF aanbied om ʼn koalisievennoot van die ANC te word.

“Om in politiek te voorspel, is baie moeilik. Daar moet jy meestal tussen sleg en slegter kies. Hier is dit ook die geval,” het Mulder gesê.

  • Maroela Media het ook met verskeie politieke ontleders en kommentators gesels om uit te vind wat Ramaphosa se oorwinning op die komende ANC-leierskapkonferensie vir die party en die land sou beteken. Lees dié artikel môre op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dirk ·

Die gemors mag nie beheer van die land kry nie, sy sal dit net verder in die grond in bestuur.

jaco ·

wanneer gaan mense ophou droom van met ‘n opposisie-koalisie die land na n verkiesing in 2019 regeer? DIT GAAN NIE GEBEUR NIE, al kry die huidige opposisiepartye ook dan saam meer stemme as die ANC.
Dis nie Amerika waar die demokrate en die republikeine gewillig mekaar met verkiesings afwissel nie. Die norm in Afrika is, die “liberation movement” is die enigste bevoegtes wat mag regeer. wen ‘n ander party, word die weermag, wat vol liberation movement veterane is, dadelik ingespan om saam met die liberation movement verder te regeer, die verkiesingsuitslag word nietig verklaar en politieke opponent uit die opposisiepartye wat saam die verkiesing gewen het, word gearresteer en “stilgemaak”. Die beste droom sal een wees waar gematigde nugterdenkende mense eendag die ANC-leierskap oorvat en die land in ‘n beter rigting stuur.
Die feit dat die ANC die DA en ander partye se oorwinning in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai toegelaat het, is ook net n rookskerm: ZANU het dieselfde gedoen toe die MDC oorgevat het in Harare. Dis ok, dis ‘n “token” van demokrasie; solank dit net nie die groot parlement is wat die land regeer nie.
(MDC se ware kleure het toe ook maar gou uitgekom: hulle het DADELIK nuwe luukse motors vir al Harare se stadsraadslede gekoop)

Vermeende ·

Kultuur speel n enorme groot rol en ook die gesag van ouer mense oor die wat jonger is.
Dlamini Zuma sal verkies word tot die volgende leier deur n respek stem.
Ramaphosa het nie naastenby die gesag wat Zuma het nie.
Ramaphosa kom nie teen Dlamini Zuma testaan nie maar teen die grote Zuma homself en dit is Zuma se wens wat gaan seevier.

John Samuel ·

Wat n prestasie, om by geen “groot” skandale betrokke te wees nie!! Weet nie of ek moet huil of hardloop nie…..

#NotAnotherZuma

jaco ·

Ramaphosa is ook ‘n Venda, so ‘n Zulu en Xhosa gedomineerde ANC sal nie sommer vir hom stem nie. Dis een ook rede waarom Mandela hom aanvanklik uitgeskuif het uit die politiek. Hulle het ook maar hulle eie swart op swart rassisme op mekaar. Maar bewaar die een se siel wat dit durf waag om dit openlik as rassisme te beskryf. Rassisme is mos NET wanneer wit mense lelik is met swart mense.

alwyn burger ·

Nelson Mandela was ñ swak politieke leier( hy het te min vark in hom gehad). Hy wou destyds Ramaphosa as opvolger hê, maar toe het Mbeki sy speelgoed uit die “cot” gegooi. Tata het geswig en so het Mbeki na vore getree. Wat ñ ramp!.

Elsa vd Berg ·

Mag ons land bewaar word van Dlamini Zuma as president. Dit help veel sy het wette tov rook ingestel en dit word nie uitgevoer nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.