ANC-leierskapkonferensie: As Ramaphosa leier van die ANC sou word

Cyril_Ramaphosa_1

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa op 6 Februarie 2016 by ‘n galadinee van die ANC in Polokwane Foto: ANA

Wat sal Cyril Ramaphosa se oorwinning op die komende ANC-leierskapkonferensie vir die party en die land beteken? Maroela Media het met verskeie politieke ontleders en kommentators gesels om meer hieroor te wete te kom.

Diegene wat Cyril Ramaphosa se veldtog steun, sê die ANC het nou ʼn leier nodig wat oor visie, integriteit en toewyding beskik. Die leier moet ʼn ervare kader wees wat nie net bekwaam is nie, maar Suid-Afrikaners ook sal inspireer en die land na ʼn beter toekoms kan lei. Hulle glo Ramaphosa is daardie persoon.

Ramaphosa se agtergrond

Benewens Ramaphosa se stewige struggle-getuigskrif is hy ʼn stigterslid van die Nasionale Mynwerkersunie (NUM). Hy het gehelp om die vakbond te bou tot een van die grootste en sterkste vakbonde in die land en was instrumenteel in die skepping van Cosatu.

Hy het ook aan die onderhandelinge deelgeneem om die tussentydse grondwet op te stel en het gehelp om ʼn vreedsame oorgang tussen die NP- en die ANC-regering te bewerkstellig. Verder was hy ook die voorsitter van die konstitusionele vergadering waartydens Suid-Afrika se eerste demokratiese Grondwet opgestel is.

Ramaphosa is ʼn gerekende sakeman. Hy is een van Suid-Afrika se rykste sakemense met Forbes wat sy rykdom rondom $675 miljoen reken. Hy is ook bedrywig in die landboubedryf waar hy met die Ankole-beesras van Uganda boer. Hy was ʼn mede-outeur van ʼn boek oor die beesras, wat hy met groot beslommernis in Suid-Afrika ingevoer het.

Hy is egter nie sonder omstredenheid nie. Die stof oor die Marikana-staking in 2012 wat 34 mynwerkers se lewens geëis het en Ramaphosa se aandadigheid hieraan wil maar net nie gaan lê nie. Die Farlam-komitee se ondersoek het getoon dat Ramaphosa, ʼn aandeelhouer van Lonmin-myn, gebruik is om die regering en polisie aan te spoor om ʼn reusagtige polisieteenwoordigheid by die myn te bewerkstellig en om die staking te hanteer as ʼn strafregtelike aangeleentheid, eerder as ʼn arbeidsdispuut.

In September is e-posse uitgelek wat Ramaphosa met talle buite-egtelike verhoudings verbind het en in November het die sogenaamde Paradise Papers uitgewys hoe die Shanduka-groep raad gevra het om belasting op wins uit ʼn energieooreenkoms in Mosambiek te ontduik deur dié geld in Mauritius te hou. Ramaphosa het dié groep gestig en tot in 2014 belange daarby gehad.

Tog word Ramaphosa reeds lankal as ʼn potensiële presidentskandidaat beskou en het ook in 1997 ʼn veldtog vir die topposisie van die ANC van stapel gestuur. Hy het uiteindelik teen Thabo Mbeki verloor.

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Waarvoor staan hy in sy veldtog as die ANC se leier?

Ramaphosa (65) het hom al sterk uitgespreek oor die uitdagings wat die ANC tans in die gesig staar en die werk wat gedoen sal moet word om die beweging te laat herleef.

Volgens sy ondersteuners het hy ʼn duidelike visie vir wat sal moet gebeur om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat herleef en hoe om radikale ekonomiese transformasie te versnel.

Sy ondersteuners sê Ramaphosa sal goed wees vir die ANC omdat hy reeds telkemale daarin geslaag het om verskillende partye te verenig. Hulle glo hy het homself al bewys in elke leierskapsrol wat hy vertolk het. Ramaphosa het hom ook al sterk teen korrupsie uitgespreek.

Volgens die webwerf vir Ramaphosa se veldtog staan hy vir eenheid, hernuwing en die opbou van die ANC. Hy beywer homself ook daarvoor dat die party moet terugkeer na die waardes van Nelson Mandela en Oliver Tambo.

Ramaphosa se visie vir die ANC is ʼn beweging wat weer luister na sy mense en harder sal werk om hulle probleme en bekommernisse aan te raak. Hy het ʼn plan vir transformasie, groei en werkskepping, maar die webwerf brei nie veel verder uit oor wat die plan presies behels nie, behalwe dat dit meer werksgeleenthede vir jong mense sal skep, hulle vaardighede sal opskerp en eienaarskappatrone sal verander terwyl dit Suid-Afrika se vervaardigingsbedryf sal uitbou en die ekonomie meer mededingend sal maak.

Frans Baleni (regs) saam met adjunkpresident Cyril Ramaphosa. Foto: Flickr/GovernmentZA

Wie steun hom tans?

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê Ramaphosa geniet tans sterk steun in Gauteng. Hy geniet ook ʼn meerderheid steun van die takke in Limpopo en die Oos-Kaap, terwyl hy die gunstelingkandidaat in die Wes-Kaap en Noord-Kaap is.

“Hy het selfs al ʼn redelike steunbasis in die Vrystaat en dele van Noordwes opgebou, maar is minder gewild in die provinsies van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noordwes.

“Ramaphosa is ook die gunsteling van die SAKP en Cosatu, die alliansievennote van die ANC, en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, wat deel van die ANC se breër kerk is,” voeg Duvenhage by.

Sal Ramaphosa ʼn goeie leier vir die ANC en Suid-Afrika wees?

Ramaphosa se ondersteuners beskryf hom as ʼn goeie onderhandelaar, strateeg en ʼn invloedryke leier in die ANC en land.

Duvenhage sê Ramaphosa het wye ervaring, veral in die mynboubedryf, korporatiewe omgewing en regering. Hy was ook deel van die groep mense wat die land se eerste demokratiese Grondwet saamgestel het.

“Ek dink hy het beslis ook die vermoë om die drieledige alliansie van die ANC bymekaar te hou. Die internasionale gemeenskap en ekonomie sal veel makliker in ʼn Ramaphosa-bedeling belê.

“Verder beskik Ramaphosa ook oor veel beter leierskapkenmerke wat Dlamini-Zuma heeltemal oorskadu,” sê Duvenhage.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (links) en pres. Jacob Zuma (regs) (21 Mei 2014) Foto: GCIS

Wat sê die politieke ontleders?

Prof. Willie Breytenbach, emeritus professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, meen Ramaphosa het veral die steun van die swart middelklas.

“Cyril is etnies ʼn Venda, maar hy is gebore in Soweto wat die tradisionele magsbasis van die ANC is. Met sy ondervinding in Cosatu, die kamer van mynwese en opstel van die Grondwet sal hy gemaklik in ʼn moderne, stedelike milieu opereer. Hy verteenwoordig vir my ʼn soort nuwe ANC, waar Dlamini-Zuma met haar meer plattelandse ondersteuningsbasis die ou ANC voorstel,” sê Breytenbach.

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die VF Plus en parlementslid, het in ʼn meningstuk op Maroela Media gesê hy glo die kanse is goed dat Ramaphosa die leierskapstryd kan wen.

Volgens Mulder is daar tans meer ANC-kongresafgevaardigdes wat nog politieke poste wil hê, as wat reeds politieke poste het. Hulle kan dit dus nie bekostig dat die ANC verder steun verloor en dit die party die algemene verkiesing in 2019 kos nie, want dan is die beroepspolitici inderwaarheid hulle werk kwyt.

Mulder sê Ramaphosa se oorwinning sal nie die staatsdiens kan red nie. “Nie hy óf selfs Superman gaan die staatsdiens weer regkry nie. Sedert Mbeki se tyd is die staatsdiens so ‘getransformeer’ met ANC-kaders, vriende en familie dat dit jare sal neem om weer ʼn ervare merietestaatsdiens op die been te kry.

“Ramaphosa sal goed wees vir die ekonomie mits hy net enkele eenvoudige ekonomiese waarhede ná sy verkiesing sê. Die ANC se ekonomiese beleidstellings tans skep nie werksgeleenthede nie en stimuleer ook nie ekonomiese groei nie. As Dlamini-Zuma verkies word, duik die ekonomie onmiddellik in die hek en verdamp die laaste paar beleggings uit Suid-Afrika. Ramaphosa mag die moed as ryk sakeman hê om enkele bestaande ekonomiese standpunte van die ANC in die belang van Suid-Afrika te verander.”

Dr. Eugene Brink, ʼn navorsinggenoot by Solidariteit se Navorsingsinstituut en politieke kommentator, sê Ramaphosa is inderdaad ʼn baie sjarmante en innemende man, maar waarsku ook dat hy g’n messias is nie.

“Afgesien van sy deugde, skort daar egter iets dieperliggends by hom om die land op die regte spoor te plaas. Die probleem is dat hy so ingebed is in die ANC dat hy maar net weer, die mooi beloftes ten spyt, die land in die steek gaan laat en sy party bo Suid-Afrika sal stel.

“Hy het tydens ʼn toespraak in April vanjaar by die Black Business Council dieselfde ou retoriek en mislukte beleidstellings herhaal wat voorheen deur die ANC gepropageer is.

“Die nasionale demokratiese revolusie as ideologiese leier vir die ANC is ʼn dwaas-idealistiese stuk uitgediende kommunisme. Dit is iets waarin geen moderne politieke party of leier behoort te glo nie. Maar te oordeel na Ramaphosa se opmerkings daaroor is hy net so verknog daaraan soos pres. Jacob Zuma en Gwede Mantashe.”

  • Maroela Media het ook met verskeie politieke ontleders en kommentators gesels om vas te stel wat Dlamini-Zuma se oorwinning op die komende ANC-leierskapkonferensie sou beteken. Lees dié artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.