ANC-leierskapkonferensie: Is daar sprake van skikking soos in Zim?

zuma-se-aandete-vir-kandidate-MyANC-Facebook

Foto: MyANC Facebook-blad.

ʼn Interessante verwikkeling het verlede week in die leierskapstryd om die ANC-topposisie plaasgevind. Politieke ontleders meen dit kan verreikende gevolge vir die leierskapkonferensie inhou wat oor drie weke in Johannesburg plaasvind.

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand die sewe lede wat hulle as presidentskandidate vir die ANC beskikbaar gestel het, vir aandete onthaal. Dit was die eerste keer dat Zuma om een tafel gesien is met adj.pres. Cyril Ramaphosa, nasionale voorsitter Baleka Mbete, tesourier-generaal Zweli Mkhize, die nasionale uitvoerende komiteelede, Nkosazana Dlamini-Zuma, Lindiwe Sisulu en Jeff Radebe, asook die voormalige tesourier-generaal Matthews Phosa.

Vrydagoggend ná die ete het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, en sy adjunk, Jessie Duarte, albei bevestig die stemproses vir die topses posisies in die ANC sal by dié konferensie verander.

Afgevaardigdes sal nou gevra word om ʼn plan goed te keur waar die stem vir die leier eerste sal plaasvind. Dit sal gevolg word deur ʼn soort pouse voor die volgende stemmery sal plaasvind. Die idee is om te verseker dat verloorders in die wenner se kamp opgeneem kan word. Dit beteken indien kandidaat A byvoorbeeld kandidaat B so klop in die leierskapstryd, kan kandidaat A vir B nader en vra of hy of sy vir die adjunkposisie beskikbaar sou wees.

Suid-Afrikaners wonder egter of daar dalk reeds ʼn moontlikheid bestaan dat daar tydens die ete ʼn skikking vir die leierskap binne die ANC bereik is.

Dit is dalk nog ʼn bespiegeling, maar só ʼn skikking kan behels dat Dlamini-Zuma, wat lank deur Zuma as sy voorkeurkandidaat voorgehou is, net soos Grace Mugabe van Zimbabwe haar planne vir presidentskap moet vaarwel toeroep. In ruil hiervoor sal Zuma soos Robert Mugabe terugstaan vir immuniteit van vervolging en Ramaphosa sal dan soos Emmerson Mnangagwa as die wenner uit die stryd tree.

Hierdie scenario kan gesien word as ʼn wen-wen-situasie vir die ANC omrede:

  • So raak die ANC stilletjies ontslae van Zuma, wat die party groot skade berokken het.
  • Ramaphosa, ʼn voorkeurkandidaat van talle afgevaardigdes, grondvlakondersteuners en die media, word die nuwe president van die ANC en later ook die land.
  • Ramaphosa wen ook verder guns met oog op die 2019-verkiesing. Hy verenig die party en hulle kan weer sterk staan in die komende algemene verkiesing en onder meer weer die steun van Gauteng terugwen.
zuma-se-aandete-vir-kandidate-MyANC-Facebook-02

Foto: MyANC Facebook-blad.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê dit is tans te vroeg om te sê of daar reeds ʼn skikking binne die party bereik is.

Hy sê as ʼn wenner homself eers in die leierskapstryd binne die ANC en Afrika se kultuur duidelik gedefinieer het, sal die verloorders met onderhandelinge begin om vir hulself ʼn beter posisie in die wenner se kamp te beding.

“Daar was so ʼn paar weke gelede ook sprake van ʼn ontmoeting tussen Dlamini-Zuma en Ramaphosa, maar sy het dit ten sterkste ontken. Ek dink dit is ʼn geval van waar ʼn rokie trek, is daar ʼn vuurtjie. Alle aanduidings is daar dat Dlamini-Zuma se veldtog stoom verloor.”

Volgens Duvenhage is daar ook ʼn tweede scenario wat mense moontlik kan miskyk. “Zuma het nog nie hierdie geveg verloor nie en ek dink hy het ʼn plan B, C of selfs D. Ek verneem ook van my kollegas, die media en selfs studente dat daar tans ʼn geweldige hoeveelheid omkoopgeld die ronde doen. Boonop het ek al geleer Zuma is op sy gevaarlikste as hy begin praat oor kompromieë.”

Duvenhage glo die mense wat tans die troefkaarte in die leierskapstryd besit, is steeds Mkhize en David Mabuza, premier van Mpumalanga. “Mabusa is ook aangewys as die voorkeurkandidaat vir ʼn adjunkpresident, sou Dlamini-Zuma die leisels van die party oorneem. Hy is deesdae egter besonder stil.”

Alle aanduidings wys daarop dat Ramaphosa se veldtog net meer momentum kry. Daar is selfs gerugte dat van sy organiseerders reeds aan sy staatsrede vir volgende jaar begin werk het. “Dus dalk bietjie voortydig, maar dit wys net hoe oortuig sy kamp van ʼn oorwinning is. Ek lees net nie dieselfde lyftaal uit Dlamini-Zuma se veldtog nie.”

Duvenhage sê daar bestaan by hom geen twyfel dat die ANC ʼn skeuring in die party vrees nie. “Die strukture binne die party is veral bekommerd dat die persoonlikhede groter as die party geword het en dit kan die party uitmekaar skeur en hulle die algemene verkiesing in 2019 kos.

“Dit sal ʼn regime-verandering beteken, nie net ʼn demokratiese verandering nie, en die ANC vrees hulle kan letterlik alles verloor, daarom wil die party eenheid tot elke prys behou.”

Soos wat die steunbasis duideliker begin lyk nader aan die konferensie se afskopdatum, kan daar kompromieë bereik word en dit beteken ʼn veel stiller en stabieler konferensie as verwag word.

Stephen Grootes, ʼn senior politieke korrespondent vir EWN, het in ʼn meningstuk op Daily Maverick geskryf daar word wyd bespiegel oor die voorlopers in die leierskapstryd, maar die blote feit dat daar moontlike onderhandelinge op die tafel geplaas is, is ʼn bewys dat dit ʼn kop-aan-kop-stryd is. Niemand is nog verseker van ʼn oorwinning nie en dit is ook waarskynlik om te verseker dat die konferensie sonder ontwrigting sal voortgaan. “As almal steeds glo hulle is deelnemers in die spel, is dit nie vir hulle nodig om die konferensie te ontwrig nie,” het Grootes gesê.

Daar is egter nog drie weke wat voorlê voor die ANC-leierskapkonferensie op 16 Desember by die Nasrec-eksposentrum in Johannesburg begin – dit is ʼn lang tyd in die politiek. Baie dinge kan nog gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

kuifie ·

ek stem saam. by moet ten minste antwoord vir all die gemors en kirrupsie wat wonder sy vaandel gebeur het en wat by toegelaat en n aandeel ingehad het.

Justice ·

Anders as Mugabe is Zuma nog jonk genoeg om vir sy dade verantwoording te doen.

Chilli ·

Ja goeie vergadering hoop hulle het lekker aan die boere se kos gev bedoel geeet hoe dink julle hoe om te vergader sonder ons boere se kos?

kat ·

Chilli jy is reg – dalk besef hulle nie dit kom van die boere af nie- hulle dink seker dit kom net van die rakke af. Besef nie dit het ‘n ander oorsprong voordat dit by die rakke uitkom nie.

LODEWYK ·

Ja, ek het altyd geweet hierdie korrupte nes gaan oopgekrap word. Hulle het hulle eie ondergang bewerk deurdat die hele gebroedsel hulle hande nie uit die geldlaaie kon hou nie. Sies man.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.