ANC-leierskapkonferensie: Só staan sake tans

Gwede Mantashe. Foto: ANA

Saterdag 25 November is die laaste dag waarop ANC-takke nominasies vir die party se verkiesingskonferensie kan ingee.

Gwede Mantashe, die sekretaris-generaal van die ANC, sê 90% van die party se takke het reeds hul leiersvoorstelle ingedien. Hy het die syfer Woensdag tydens ʼn mediakonferensie bekend gemaak waar hy terugvoering verskaf het oor die party se voorbereidings vir dié konferensie.

Mantashe sê die party het sowat 70%-bevestiging van takke nodig om met die konferensie voort te gaan, maar het uitsteltyd gegee sodat alle takke hul algemene jaarvergaderings en die nominasieproses vir leiers sal kan afhandel.

“Ons het nog ʼn week toegelaat sodat daar ʼn soort opvee-proses kan plaasvind. Ons wil graag verseker dat alle afgevaardigdes aan die konferensie kan deelneem om die toekoms van die ANC te help vorm,” sê Mantashe.

Die logistieke reëlings is reeds gereed om dié konferensie van 16 tot 20 Desember by die Nasrec-eksposentrum in Johannesburg te laat plaasvind.

“Ek dink almal sal verstaan enige gerugte dat die Desember-konferensie nie gaan plaasvind nie, is nou nek omgedraai.”

Meer as 5 000 stemgeregtigde afgevaardigdes word by die konferensie in Desember verwag.

ANC-logo

ANC se logo op ‘n muur in Soweto, Johannesburg. Foto: Ben Sutherland/Flickr.com

Is die ANC gereed vir sy leierskapkonferensie?

Verskeie politieke ontleders meen egter daar hang nog talle vrae oor hoe billik die nominasieprosesse was, en of dit enigsins deeglik geoudit kan word.

“Die ANC het sy huis nog glad nie in orde nie en die verloorder by die ANC-leierskapkonferensie sou hom- of haarself beslis kon beroep op ʼn hofsaak gegrond op die uitdagings, problematiek en vrae hieroor,” sê prof. André Duvenhage, ʼn politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit.

Prof. Willie Breytenbach, emeritus professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, sê dit was vir hom opmerklik dat die provinsies waar dr. Nkosazana Dlamini-Zuma veronderstel is om die meeste steun te geniet, ook die provinsies is wat die meeste gesukkel het om die nominasieprosesse af te handel.

Wie loop tans voor in die leierskapstryd?

Michael Morris, hoof van media by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding (SAIVR), het Woensdag aan Maroela Media gesê met die syfers tot die instituut se beskikking blyk dit dat Cyril Ramaphosa die gunsteling van die meeste takke is.

Duvenhage sê egter daar is tans baie weersprekende inligting hieroor beskikbaar. “Ek besef ANN7 is ʼn omstrede televisiekanaal, maar hy het onlangs beweer Dlamini-Zuma het ʼn voorsprong van tussen 300 en 500 nominasies. Ramaphosa se veldtog het wel in die afgelope tyd sterk momentum opgebou, selfs onder die premiersliga.

“Indien die konferensie wel plaasvind en die stemmery vir ʼn nuwe presidentskandidaat redelik vry en regverdig geskied, behoort Ramaphosa in die proses die wenner te wees.

“Ek is egter nie oortuig dat die Zuma-groepering dit sal aanvaar nie. Wat ook al die uitkoms, ek twyfel sterk of ons ooit weer ʼn verenigde ANC sal sien.”

dr-zweli-mkhize

Dr. Zweli Mkhize tydens sy afskeidsfunksie wat gehou is om hom te bedank vir sy diens aan die gemeenskap as premier van KwaZulu-Natal in September 2013. Foto: GCIS.

Is daar nog ʼn kans vir ʼn buiteperd om tot die leierskapstryd toe te tree?

Ontleders sê dr. Zweli Mkhize, die tesourier-generaal van die ANC, is steeds iemand in dié leierskapstryd vir die ANC om dop te hou.

Volgens Morris word hy wyd beskou as iemand wat eenheid in die ANC kan skep, maar volgens die data tot die SAIVR se beskikking staan hy nie tans uit as ʼn gunsteling in die nominasieproses nie en het hy slegs 5% van die nominasies ontvang.

“Ons betree nou ʼn fase van sogenaamde ‘horse trading’ waar mense magbasisse sal verkoop. In hierdie geval is Mkhize en David Mabusa, die premier van Mpumalanga, vir my die twee mense wat moontlik die spel kan verander.

“Maar ons sal nie presies weet hoe sake staan tot ná die stemmery plaasgevind het nie en dit sal eers aan die einde van die leierskapkonferensie gebeur. Intussen kan daar ook nog ʼn mate van omkopery plaasvind,” verduidelik Duvenhage.

Wat is die kans dat Zuma iets kan doen om die konferensie te verhoed?

Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die SAIVR, waarsku gereeld dat mense nie vir pres. Jacob Zuma moet onderskat nie en dat hy eintlik ʼn uitstekende strateeg is. Morris het ook aan Maroela Media gesê dit sal beslis verwoestende gevolge vir die Zuma-kamp inhou indien hulle beheer oor die ANC sou verloor.

Duvenhage sê dit is ook hoekom hy nie glo lede van die Zuma-faksie binne die ANC sal dit sommer goedsmoeds aanvaar as hulle by die ANC-leierskapkonferensie sou verloor nie.

“Die Zuma-kamp bly sterk en as dit lyk of hy nie mag gaan behou nie, kan hulle dalk gemenespel toepas en die konferensie ontwrig of selfs verhoed dat dit plaasvind. Dit is die scenario wat hom tot dusver in provinsies en op takvlak uitgespeel het.

“Ek sien Zuma maklik as ʼn soort Simson-figuur wat die pilare van die struktuur op homself omtrek en die Zuma-groepering is moontlik selfs tot meer in staat om hul mag te beskerm,” het Duvenhage gewaarsku.

Cyril Ramaphosa

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

Hoekom sal Ramaphosa ʼn goeie leier vir die ANC wees?

Duvenhage sê Ramaphosa het wye ervaring, veral in die mynboubedryf, korporatiewe omgewing en regering. Hy was ook deel van die groep mense wat in 1996 gehelp het om die Grondwet saam te stel.

“Hy het beslis ook die vermoë om die drieledige alliansie bymekaar te hou en die buitewêreld en ekonomie sal veel makliker in ʼn Ramaphosa-bedeling belê.

“Verder beskik Ramaphosa ook oor veel beter leierskapskenmerke wat Dlamini-Zuma beslis oorskadu,” sê Duvenhage.

Ramaphosa geniet tans sterk steun in Gauteng en het glo ook die meerderheid steun van takke in Limpopo en die Oos-Kaap, terwyl hy ook ʼn gunsteling in die Wes-Kaap en Noord-Kaap is.

Hy het selfs al ʼn redelike steunbasis in die Vrystaat en Noordwes opgebou, maar is volgens Duvenhage minder gewild in die provinsies van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noordwes.

“Ramaphosa is ook gewild by die SAKP en Cosatu en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat deel is van die ANC se breër kerk,” het Duvenhage bygevoeg.

Nkosazana Dlamini-Zuma. Foto: ANA/David Ritchie

Kan Dlamini-Zuma ʼn goeie leier vir die ANC wees?

Duvenhage sê ʼn mens moet egter nie vir Dlamini-Zuma al in dié stadium afskryf nie. “Die regime ondersteun haar en in Afrika wen die sogenaamde ‘incumbent’ elke keer. Kyk ook maar vir Zuma, hy het nog elke keer ʼn krisis deurstaan.”

Dlamini-Zuma beskik ook oor beter kwalifikasies en het meer ervaring as minister in die kabinet. Sy was ook die eerste voorsitster van die Afrika-unie.

“Boonop kan sy die genderkaart speel, maar ongelukkig sien ek haar net nie as ʼn dinamiese persoon wat werklik leiding kan neem in die moeilike politiese en ekonomiese omstandighede waarin Suid-Afrika tans is nie,” het Duvenhage gesê.

Dlamini-Zuma geniet tans die meeste steun vanuit KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Vrystaat en Noordwes. Die vroue- en jeugliga het haar ook aangewys as gunstelingkandidaat terwyl die veteraneliga steeds erg verdeeld is.

Duvenhage sê hierdie ligas is ʼn kritieke faktor en kan bepalend wees in of Dlamini-Zuma die leierskapstryd sal wen.

Breytenbach sê daar het in die afgelope paar jaar ʼn groot demografiese verskuiwing in die ondersteuningsbasis van die ANC plaasgevind. “Onder Zuma se bewind het die ANC ʼn landelike party geword, terwyl die ANC altyd hoofsaaklik ʼn stedelike party was.

“Ramaphosa het waarskynlik meer steun van die swart middelklas en opereer goed in hierdie moderne omgewing, terwyl Dlamini-Zuma die plattelanders en Zoeloes se steun het. Dlamini-Zuma en Ramaphosa verteenwoordig vir my onderskeidelik die ou en nuwe ANC.”

ʼn Laaste paar gedagtes

Morris herinner dat die uiteindelike uitkoms van die ANC-leierskapkonferensie bepaal sal word deur die keuses wat die sowat 5 000 afgevaardigdes in die geheim by die stembus aan die einde van die Desember-konferensie sal maak. Hy sê ʼn mens moet ook onthou dat die SAIVR se navorsing deurlopend toon dat die meeste mense gematig is in hul politieke beskouings en hulle nie met vérlinkse, of vérregse, uitlatings vereenselwig nie.

“Onthou net die leierskapkonferensie is nie die einddatum van alles nie, daar is nog die algemene verkiesing in 2019 wat voorlê,” het Morris gesê.

Breytenbach het ook gesê die interne politiek van die huidige ANC is ʼn krisis vir die party, maar nie noodwendig vir die groter Suid-Afrikaanse publiek nie.

Hy reken Zuma wil tot elke prys ʼn scenario voorkom waar die nuwe president van die regerende party iemand anders as die land se president is. “Dit het destyds met PW Botha en FW de Klerk gebeur, en toe later ook met Thabo Mbeki en Jacob Zuma – dit was telkens ʼn reusekrisis vir die regerende party.”

Breytenbach sê egter hoe langer Zuma uitstel, hoe meer speel hy in die hande van sy opposisie. “Ek dink die ANC gaan sy meerderheid in die 2019-verkiesing verloor. Hoe langer die ANC aan bewind bly, hoe beter nuus is dit vir opposisiepartye.”

  • Luister gerus na die podsending bo aan hierdie artikel waarmee Michael Morris van die SAIVR met Esté Meyer Jansen oor die ANC se leierskapkonferensie gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

So moet ons nou hieruit aflei dat die ANC ‘n gematigde hoofstroomparty is? Gematig in wat? Toyi-toyi en diefstal? My kristalbol se ook vir my die ANC mag dalk sy volstrekte meerderheid in 2019 verloor as Cyril dit lei en regtig probeer om die land en die ANC reg te maak, maar as Team Z lei sal hulle by hook or by crook wen.

Mike ·

Dankie Maroela Media vir n baie goeie weergawe van gebeure in ons eie land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.