ANC-leierskapstryd: Zuma staan steeds sterk

anc-leierskapstryd-2017-01

Moeletsi Mbeki, Tim du Plessis, Ryk van Niekerk en Waldimar Pelser bespreek die ANC-leierskapstryd en die pad na dié party se nasionale konferensie in Desember. Foto: Marius Vermaak/Maroela Media.

Cyril Ramaphosa is allermins Suid-Afrika se ridder op ʼn wit perd. Sy ondersteuningsbasis binne die ANC is te min, terwyl die Zuma-kamp se steun steeds sterk binne die ANC bly staan. As Suid-Afrikaners dink hy gaan die ANC-leierskapstryd wen, maak hulle ʼn groot fout.

Dít is die mening van Moeletsi Mbeki, politieke ekonoom verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge, Tim du Plessis, hoof van nuus by kykNET, en Ryk van Niekerk, redakteur van die finansiële nuuswebwerf Moneyweb. Die drie het Donderdag die ANC-leierskapstryd en die pad na dié party se nasionale konferensie in Desember bespreek. Waldimar Pelser, die redakteur van Rapport en aanbieder van In Gesprek op kykNET, het die paneelgesprek by die Brooklyn-teater in Pretoria gelei.

Volgens Mbeki stem ondersteuners van die party ook nie vir pres. Jacob Zuma of individue nie, maar plaas hulle eerder hulle vertroue in die ANC. Hy reken dat Zuma nie uitgeskop sal word nie, maar eerder die ANC-leierskap aan sy voormalige vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, gaan oorhandig sodat die kiesers vertroud met haar kan raak, en gemaklik vir die ANC met haar as presidentskandidaat in die 2019-verkiesing kan stem. “Dit is die soortgelyke kompromis wat gewoonlik in ʼn land soos Botswana gevolg word,” het Mbeki bygevoeg.

Boonop steun die meeste tradisionele leiers ook vir Zuma.“Zuma het hard gewerk om die huis van tradisionele leiers op te bou en hulle magte uit te brei, ʼn belangrike element om steun op die platteland vir die ANC te behou. Hierdie leiers sal Nkosazana aanvaar omdat Zuma dit gedoen het. Boonop is sy ʼn mediese dokter en dit dwing ook ʼn groot mate van respek af.”

Die agste mosie van wantroue

Op Pelser se vraag aan die paneel of die agste mosie van wantroue teen die president sal slaag – iets wat hy self betwyfel – het Van Niekerk en Mbeki gesê hulle glo nie die speaker Baleka Mbete sal ʼn geheime stemming toelaat nie, en wat ook al tydens die mosie gebeur, sal Zuma dit weereens oorleef.

“Die ANC het reeds ʼn geleentheid gehad om van Zuma ontslae te raak tydens die Nasionale Uitvoerende Komitee se vergadering ʼn maand of wat gelede, maar dit is bloot in die kiem gesmoor. Ek dink die ANC het laer getrek en wil hulle probleme intern uitsorteer,” het Van Niekerk gesê.

Volgens Mbeki is daar ʼn eenvoudige rede waarom geen ANC-LP ʼn mosie van wantroue teen die president sal steun nie: “Selfs ʼn lid van die parlement wat in die agterbanke sit, verdien sowat R80 000 per maand net om in die parlement te wees. Niemand gaan ʼn stem uitbring wat so ʼn salaris in die gedrang sal bring nie.”

Du Plessis het egter uitgewys dat hierdie mosie van wantroue in Zuma om een rede anders sal wees omdat daar twee, moontlik vier, ANC-LP’s sal wees wat beslis die mosie van wantroue gaan steun. “Dit gaan gevolge hê vir die party, en vir hierdie spesifieke LP’s wat besluit om dit te doen. Ons sal egter nog agterkom wat die gevolge sal wees.” Du Plessis reken Makhosi Khoza, Pravin Gordhan en moontlik Derek Hanekom sal hulle stemme by die opposisiepartye voeg.

Koalisieregerings

Mbeki glo daar bestaan ʼn goeie kans dat die ANC die Gauteng-provinsie aan ʼn DA-en-EFF-koalisie in die 2019-verkiesing gaan afstaan. “Dit is bloot omdat ʼn stedelike bevolking minder afhanklik is van die regering. Stedelinge het inderwaarheid meer ruimte vir keuses.”

Mbeki het bygevoeg dat die meeste ondersteuners van die ANC steeds werkloses is: “Die meeste werklose Afrikane is van die platteland, dit bly die ANC se grootste ondersteuningsbasis en daar is vaste ekonomiese redes waarom hierdie kiesafdeling aanhou om vir die ANC te stem.”

Hy sê terwyl die ANC se steun toenemend na die platteland skuif, maak die meeste opposisiepartye nie daadwerklik planne om ʼn program vir arm mense in die landelike gebiede bekend te stel nie. “Hoe verwag hierdie partye dat arm mense die ANC moet los, wat vir hulle toelaes verskaf, en nou vir partye moet stem wat niks het om vir hulle te bied nie?”

Van Niekerk reken egter die koalisieregering is nie vir ewig volhoubaar nie: “Ek reken dit is iets meer soos ʼn teen-ANC-besluit en dit sal voortduur tot daar ʼn ander alternatief is.”

Swak ekonomie

Du Plessis glo die swak ekonomie kan wel die rigting van die spel verander: “Die regering is basies bankrot en die ekonomie is in ʼn resessie terwyl die wonderlike maatskaplike toelaes se geld steeds van iewers af moet kom. Die regering sal eenvoudig die ekonomie aan die groei moet kry om steeds hierdie toelaes uit te kan betaal.”

Van Niekerk sê die markte het tot dusver nie oorreageer op Suid-Afrika se politiek nie. “Ons benodig die privaat sektor om te belê in die land, maar die sektor het tans geen vertroue in die ekonomie nie.”

Die toekoms

Pelser wou by die paneellede weet hoe hulle oor die toekoms van die land voel waarop Van Niekerk gesê het instellings soos die regsbank, Reserwebank en media hou Suid-Afrika tans tot ʼn mate nog regop.

“Ek is egter bekommerd oor Suid-Afrika se toekoms. Ons sal die land se skuldvlakke streng moet dophou. Ons is dalk nog nie heeltemal bankrot nie – die skuld-tot-BBP-verhouding is tans 52%, die rooi vlae word gewoonlik by 60% gehys en ons moet seker maak ons kom nie daar uit nie,” het Van Niekerk gewaarsku.

Du Plessis meen dat Suid-Afrika in die land se geskiedenis nog altyd van die een na die ander krisis beweeg het om dit aan die gang te hou. “Ek verwag ongelukkig ʼn ekonomiese krisis, maar daar is natuurlik niks so goed soos ʼn krisis om ons te help fokus op dit wat die land werklik benodig nie.”

Mbeki was egter nie so angstig oor Suid-Afrika se toekoms nie: “Suid-Afrika het meer faktore wat ons stabiel hou as wat ons ontwrig. Een daarvan is die privaat sektor. Die ANC het baie gedoen wat dit kon ontwrig, maar dit staan steeds en is gesond. Ek is beslis nog nie bekommerd oor die land se toekoms nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hans ·

Die land word deur voorvader aanbidders regeer.Daar is ook baie undercover rassiste onder blankes.As ons weg beweeg van hierdie haatlike woord (rassis),wegdraai van sondes en voor God kniel dan sal Hy ons red.Rassisme is n katalisator vir moord.

Liezel L ·

Ek sou dink dat ‘n veralgemeende verwysing na “voorvaderaanbidders” rassisties van aard is. Jy plaas ‘n hele volksgroep in ‘n negatiewe kraal as gevolg van ras. Dalk moet jy eers voor jy eie deur vee en jou huis in orde kry. Ek ken ‘n magdom Afrikane wat net so lief is vir God soos ek. Wat Christus as hul Verlosser erken. Hulle hang nie voorvadergeeste aan nie. Een van hulle is ‘n LP en voorsitter van ‘n suksesvolle komitee wat korrupsievry bestuur word. God vereis liefde van ons. Ongelukkig is menige Christen wat met sy geloof op sy mou rondloop liefdeloos.

Hendrik ·

Ek voel as die parlement nie die mosie van wantroue ondersteun nie dit ‘n baie negatiewe effek op die ekonomie gaan he. Die privaat investering wat nodig is om die ekonomie te laat groei gaan eenvoudig nie gebeur a.g.v die wantroue in die regering. Op die oomblik groei net die Wes-Kaap.

Poot ·

Zuma voor Zuma agter. Gupta voor Gupta agter.
Het die mense al gehoor God die Vader, Seun an Heilige Gees? Die God wat ‘n afsku het in als wat ons land aangaan.
Gal 6:7-8
7. Be not deceived; God is not mocked: for whatsoever a man soweth, that shall he also reap. 8. For he that soweth to his flesh shall of the flesh reap corruption; but he that soweth to the Spirit shall of the Spirit reap life everlasting.

Liezel L ·

Aardse regeerders is nie onbekend in die Bybel nie. God self het konings aangestel. Baie van hulle was swak, patetiese leiers. Maar die Bybel se opdrag is duidelik:

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.
1 TIMOTEUS 2:1‭-‬2 AFR83
http://bible.com/6/1ti.2.1-2.AFR83

Eish ·

Hierdie artikel is die akkuraatste oor die onderwerp van enige vorige artikels op MM.

Lynne ·

Die 8ste Mosie van Wantroue op die 8ste dag in die 8 ste Maand van 2017! Net in Suid~Afrika….

Tessa ·

Wanneer gaan du Plessis ooit tot die besef kom, dat die huidige krisis geensins vergelykbaar is met ander insidente uit die verlede nie? Dis die 1ste keer in die Geskiedenis van die Land wat ons ‘n korrupte President met 783 aanklagtes het en daarmee saam ‘n Staatskaping moet beleef! Die Skrif is aan die Muur Tim …..hoe gouer jy dit besef…hoe beter vir jouself! Moenie met jou broek op jou knieë gevang word nie….

John ·

… maar in die Bybel word ook aangedui dat ons Hemelvader hardhandig werk met sluwe en roekelose landsvaders wat volhard op hul verkeerde wee en Hom nie aanbid nie. Die ANC-jeugliga het reeds uit die huis gepraat deur aan te dui dat die land maar kan val, die ANC sal dit weer optel. Chaos is dus op die kaarte om verdere verandering te bewerk; skadebeheer is nie ter sprake nie, maar ‘n doelbewuste aanbrand van die goudpot. Die Zuma-clan het groot drome en die ‘muti’-dokter se naam staan reeds in die annale van dwingende vergrype opgeteken. SA ra fina… is drie woorde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.