ANC-lid in KZN vermoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn ANC-ondersteuner is Woensdagaand buite ʼn stempunt in KwaDukuza, in KwaZulu-Natal, doodgeskiet.

Volgens Jackson Mthembu, ʼn woordvoerder van die ANC, is die ondersteuner vermoedelik deur ʼn lid van ʼn opposisieparty doodgeskiet. Die skietery het omstreeks 21:30 buite die Lindelani-stempunt plaasgevind.

“Die man het by ʼn ANC-tafel buite die stempunt gesit toe hy geskiet is,” het Mthembu in ʼn verklaring gesê. “Die moord is klaarblyklik ʼn poging om ʼn vrye en regverdige verkiesing te ondermyn.”

Die party versoek die polisie en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) om die voorval dringend te ondersoek.

Kapt. Thulani Zwane, ʼn provinsiale woordvoerder vir die polisie, het die voorval bevestig. Zwane het egter gesê die rede vir die aanval is nog nie bekend nie en die ondersoek duur voort. Hy het ANC-ondersteuners gemaan om selfbeheersing toe te pas.

Thabani Ngwira, ʼn woordvoerder van die OVK in die provinsie, het gesê hy is nie van die voorval bewus nie.

Phumla Williams, waarnemende uitvoerende hoof van die staat se kommunikasiediens (GCIS), het vroeër in ʼn verklaring gesê twee sterftes is Woensdag buite stempunte aangemeld, maar het nie meer inligting verskaf nie.

Sy het gesê 97 mense is in hegtenis geneem weens misdrywe wat verband hou met Woensdag se algemene verkiesing. Klik hier om meer te lees.  – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.