ANC-LP dreig om joernalis te skiet

Die ANC-LP Boy Mamabolo. (Foto: Twitter)

Die ANC het die gedrag van een van sy parlementslede ten sterkste veroordeel nadat die LP ʼn joernalis gevloek en gedreig het om hom te skiet.

Die telefoonoproep tussen ANC-LP Boy Mamabolo en die joernalis Ngwako Malatji is opgeneem en bevestig Mamabolo se uitlatings.

Malatji, ʼn joernalis by Sunday World, het intussen ʼn aanklag van intimidasie teen Mamabolo aanhangig gemaak. Die koerant het die opname van die gesprek op sy webtuiste beskikbaar gemaak.

“Die ANC vind hierdie optrede onaanvaarbaar en strydig met die waardes van die organisasie. Hierdie gedrag is ook nie in ooreenstemming met wat van ’n openbare verteenwoordiger verwag word nie,” het Pule Mabe, nasionale ANC-woordvoerder, gesê.

Die party het gesê die intimidasie van joernaliste kan nie in ʼn demokrasie geduld word nie. “Joernaliste kan nie beledig en gedreig word net omdat hulle hul werk doen nie.”

Volgens Mabe moet die reg sy gang gaan. Die toepaslike strukture van die ANC sal Mamabolo se optrede ondersoek en die nodige stappe doen.

“Die ANC is van mening dat ’n vry en robuuste media die lewensbloed van ons grondwetlike demokrasie is. Mediavryheid is vir die ANC heilig en ons sal voortgaan om die media se reg om sonder vrees of guns verslag te doen, verdedig.”

Dis nie die eerste keer dat Mamabolo in die sop is oor sy uitlatings nie. Hy het tydens die staatsrede vir EFF-leier Julius Malema daarvan beskuldig dat hy sy vrou mishandel. Malema het die hof genader en skadevergoeding van R2 miljoen van Mamabolo geëis.

Die twee partye het ʼn skikking bereik waarvolgens Mamabolo ʼn verskoning moes uitreik en Malema se regskoste moes betaal.

Die Suid-Afrikaanse nasionale redakteursforum (Sanef) het Mamabolo intussen veroordeel vir sy jongste uitlatings.

“Sanef vind hierdie dreigemente uiters ontstellend. Sulke dreigemente het geen plek in ’n demokratiese samelewing nie en beklemtoon die risiko’s wat joernaliste in die gesig staar wanneer hulle die aktiwiteite van politici op alle vlakke, insluitend takke, streke en provinsies, dek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Spyker ·

Sy straf gaan n bevordering wees. Ek sie n nuwe Adjunk minister!!

Jaco ·

Swart LP dreig om swart joernalis te skiet. Wat dan nou van Black lives matter?

Ansie ·

Julius moes hom nie so maklik daarvan laat afkom het nie. Nou dink hy hy is onaantasbaar.

Pieter ·

Hy is onaantasbaar, die sterk veroordeling was sy straf. Hy gaan darem nou n verhoging kry vir al sy leiding gedurende hierdie onregverdige beproewing wat hy moes deurmaak.

Josh ·

MAG mens dreigemente maak om iemand te skiet?? Gaan kla hom aan! As dit ‘n witman was, was hy klaar in die selle..

Scalla ·

Kla hom aan en laat hul ook vir Boy onbevoeg verklaar om n vuurwapen te besit.

Kosie ·

Hoop sy wapen word weggevat, dit is wat met iemand anders sou gebeur, jy mag nie iemand dreig jy gaan hom skiet nie.

Oros Soros ·

Korrek, daar moet ‘n ondersoek itv Art 102 van die Vuurwapenwet gehou word indien die persoon ‘n vuurwapen het.

marius ·

Die joernals moet maar vir hom ‘n wapen kry , dan kan hy die gesprek verder voer .

Scalla ·

Koerantopskrif gaan seker lees, Boy se wapen word weggeneem.

Snowball ·

Kostelik hoe die ANC hom uitspreek teen wangedrag en arrogansie van LP’s – nogal ‘strydig met die waardes van die organisasie” – WATTER WAARDES?
Is dit nou dieselfde waardes vergestalt in Korrupsie, Staatskaping, Tenderbedrog, Diefstal van Covid fondse, Oortreding van Covid regulasies en Wanbestuur in die algemeen. Dat hulle die vermetelheid het om die woord WAARDES in dieselfde asem as ANC te noem, is verstommend.

Aai ·

“I withdraw my comment” altyd na die saaitjie klaar geplant is die nuutste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.