ANC-LP wou saak van die rol laat skrap

Sibusiso Kula (Foto: Verskaf)

Die voormalige ANC-parlementslid Sibusiso Kula (34) se aansoek om sy moordsaak van die rol te skrap, is in die Orkney-landdroshof van die hand gewys.

Die saak is tot 30 Junie 2023 uitgestel vir verdere ondersoek, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Kula se verdediging het aangedui dat hulle ʼn hersieningsaansoek sal indien ná die uitspraak. Hulle het ook ʼn lys van getuies versoek, soos wat die hooggeregshof beveel het toe hy op borgtog vrygelaat is.”

In die aansoek het die verdediging aangevoer dat Kula se regte nie aan hom verduidelik is nie en dat dit in ʼn hofsaak teen hom gebruik kan word nie. Hulle het ook die aanklagte teen hul kliënt bevraagteken.

Staatsaanklaer adv. Phuti Sekoadi het die aansoek teengestaan en aangevoer die saak word nog steeds ondersoek en dat die huidige aanklagte behoorlike opgestel is, kragtens bewyse in die dossier.

Sibusiso Kula saam met sy vrou Jennifer (Foto: Facebook)

Hy het verduidelik dat wanneer die ondersoek afgehandel is, sal die staat besluit of die aanklagte gewysig moet word of nie. Hy het die hof gemaan om die aansoek te verwerp, aangesien dit nie enige impak het op die aanklagte wat teen Kula aanhangig gemaak is nie.

Die hof het ten gunste van die staat beslis.

Maroela Media het vroeër berig Kula is vrygelaat op borgtog van R50 000 in die hooggeregshof in Noordwes, ná hy appèl aangeteken het toe die Orkney-landdroshof nie sy borgtog wou toestaan nie.

Hy is beveel om sy paspoorte in te dien, twee keer per dag by die naaste polisiestasie aan te meld, die ondersoekbeampte in kennis te stel van sy werkskalender en dat hy moet aanmeld indien hy buite die jurisdiksie waar hy woon, moet beweeg. Hy mag ook nie enige direkte of indirekte toegang hê met sy kinders nie.

Intussen is daar ook ʼn aansoek by dr. Rachel Makhari, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, ingedien dat die saak na ʼn hoër hof geskuif moet word, weens die erns van die oortreding. Dié uitspraak is nog hangende terwyl die ondersoek voortduur.

Mamothame sê die ondersoek is byna afgehandel, soos wat die staat vir die hofsaak voorberei.

Polisieverslae onthul dat Kula se vrou, Jennifer Mohlomi, op 27 November 2022 dood aangetref is ná ʼn vermoedelike rooftog. Sy het ʼn meswond in haar rug gehad, maar die moordwapen is nooit gevind nie. Die hospitaal waarheen Kula haar vervoer het, het die voorval by die polisie aangemeld. Kula het aan die polisie gesê hy was nie by die huis tydens die voorval nie.

Deur die polisie se ondersoek is Kula met die vermeende moord verbind en hy is op 20 Januarie 2023 in hegtenis geneem op aanklag van moord. Hy moet op 30 Junie 2023 weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Ek is ANC. ANC’s gaan nie tronk toe nie. Hulle word ambassadeurs iewers.

Papsak ·

Skrap dan alle moord van die rol af wat is hy beter as ander kom se my

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.