ANC-LP’s beskerm ‘plunderaars, verwoesters’

Die DA se mosie van wantroue in die kabinet is die afgelope week in die parlement verslaan. (Foto: DA/Twitter)

Die DA se mosie van wantroue in die hele kabinet is Woensdag verslaan, maar die leier van die amptelike opposisie sê dit is ingedien omdat elke enkele lid van die ANC-kabinet regstreeks verantwoordelik is vir die droewige stand van die ekonomie, die versuim om dienste te lewer en die veiligheid en waardigheid van mense te verseker.

Die mosie is Woensdag in die parlement oorweeg met 131 stemme van grootliks DA-LP’s en hul eweknieë by die EFF, VF Plus, ACDP en UDM ten gunste van die mosie, teenoor 231 stemme daarteen afgehandel. Een lid het buite stemming gebly.

Die ANC het steeds ʼn meerderheid van LP’s in die parlement en het sy getalle vantevore al ingespan om lede, ministers en presidente te beskerm.

“Die onbevoegdheid, ongevoeligheid en korrupsie het lyding vir miljoene Suid-Afrikaners veroorsaak wat nie werk kan kry nie en dus ʼn ongelooflike taai lewe van armoede en wanhoop leef. Tog hou die president nie een van die ministers wat hy aangestel het, verantwoordbaar nie,” sê John Steeenhuisen, leier van die DA.

Hy sê LP’s het ʼn eed afgelê om die mense van Suid-Afrika te dien en hulle het ʼn plig om die regering aanspreeklik te hou.

“Ons doen dit selfs al weet ons die getalle tel teen ons en dat die kanse skraal is dat ANC-LP’s skielik hul gewete gaan ontdek en die regte ding doen.

“Ons is dit aan alle Suid-Afrikaners, nie net diegene wat vir die DA gestem het nie, verskuldig om alles moontlik te doen om die regering aanspreeklik te hou. Dit beteken ons gebruik elke beskikbare manier – in die parlement, provinsiale wetgewers, in munisipale rade, in howe en deur die media. Dis ons werk,” het Steenhuisen Vrydag gesê.

Steenhuisen sê nes ANC-LP’s oudpres. Jacob Zuma jare lank met hul stemme in die parlement beskerm het – terwyl hulle “almal geweet het hy is ʼn misdadiger” – het hulle dit nou weer gedoen. Tydens sy termyn as president is vyf mosies van wantroue teen Zuma ingedien en daar is een keer gestem om hom in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Hy het elkeen van die mosies oorleef.

Talle ANC-lede probeer dalk nou hul deelname aan dié beskerming van Zuma wegpraat, maar hul name staan langs hul stemme opgeskryf, sê die DA-leier. “Hulle sal die skande vir altyd moet dra.”

Woensdag het ANC-LP’s weer luidkeels uitgeroep dat hulle volle vertroue in die kabinet het, en dit ondanks stapels objektiewe bewyse en onafhanklike verslae wat die katastrofiese mislukkings en openlike misdadigheid van kabinetsministers uitwys, sê Steenhuisen.

“Baie van hulle het gelag en gejuig terwyl hulle die plunderaars en verwoesters in hul midde beskerm het. Hulle gaan hierdie skandelike stem ook eendag uit die geskiedenis probeer vee, maar sal dit nie regkry nie.”

Hoewel die DA se mosie dus nie geslaag het nie, het dit tog gewys watter staatsamptenare hul land dien en watter net hul party dien. Dit sluit ander LP’s benewens dié van die ANC in, “met partye soos GOOD, die NFP en Al-Jammah wat op dieselfde noot as hul moederparty gesing het”, sê Steenhuisen.

Volgens hom lê die grootste mosie van wantroue in 2024 voor – wanneer mense vir ʼn nuwe regering moet stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Kommunisme op sy beste.

JohanR

2024 kom dan kan die kiesers die klomp ANC skelms uitstem!

FC

Weet jy wat sal korrupsie die hok slaan?
Slegs 3x amptelike partye,
1. Regerende party
2. Oppsissie party
3. Nog laaste oppsissie party.

Dit sal maak dat regerende party opgecheck word, sy beloftes doen en nakom, geen maklike korrupsie nie en as jy nie jou deel doen nie is jy uit.
Finish en klaar.

Julia

Die ANC is soos radioaktiewe besoedeling wat die land geleidelik totaal en al vernietig. As n witmens moet ek ook se, dit gaan nie eens vir my persoonlik oor velkleur nie. Ek het al BAIE swartmense ontmoet,net gewone mense, wat genoeg intelligensie, integriteit, “common sense” en hardwerkendheid het om n Veel beter kabinet te vorm en die land te bestuur. Maar hulle is maar net gewone mense met geen manier om in sulke posisies te kom nie want hulle is te besig om te werk om n dak oor hul koppe te hou en kos te voorsien vir hul gesinne.

Renier johannes

Anc moet val en gou ook