ANC-LP’s hou nie van waghond se byt

Cedric Frolick van die ANC is weer as huisvoorsitter van die nasionale vergadering verkies (Foto: Tracey Adams/ANA)

Cedric Frolick, ANC-LP en die parlement se voorsitter van komitees, moes verlede week ingryp omdat sommige senior LP’s meen die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor) doen sy werk té ywerig en dit laat hulle sleg lyk.

Die ontevrede ANC-lede se klagtes is verwoord deur die senior ANC-LP van Kaapstad, Khaya Magaxa, wat voorsitter is van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare rekeninge.

Magaxa het by Frolick gaan kla oor Skoor se hantering van staatsbestuurde ondernemings soos Eskom en SAL.

Skoor is die parlement se oorkoepelende waghondkomitee wat moet toesien dat belastingbetalersgeld nie vermors word nie, maar sinvol aangewend word waarvoor begroot is.

Sedert die Inkatha-LP Mkhuleko Hlengwa die voorsitterskap van Skoor verlede jaar oorgeneem het, het die waghond veel meer byt gekry. In die verlede was die inligting wat voor Skoor gedien het dikwels al uitgedien, maar onder Hlengwa se leiding word onmiddellik opgetree, wat die belangstelling in en komplimente vir die nuwe, deegliker Skoor laat inrol het, en die tekortkominge van ander komitees duideliker laat uitstaan.

Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter. (Foto: Bongani Mbatha/ ANA)

Die vorige keer wat ʼn Inkatha-LP voorsitter van Skoor was, het dieselfde soort ding oor die wapenskandaal gebeur, en is die Skoor-voorsitter, dr. Gavin Woods, uitgewerk.

Magaxa het aan Sunday Times gesê dit is waar dat hy by Frolick gaan kla het.

“Kamerade, veral in ANC-kringe, is ontevrede met Skoor,” het hy gesê. “Daar is parlementslede wat ontevrede is dat Skoor sake openbaar maak wat nog nie deur ander komitees openbaar gemaak is nie.”

ʼn Voorbeeld wat Magaxa opgehaal het, is Skoor se aandrang dat SAL sy finansiële state openbaar maak, soos wat die wet bepaal. Hiervan het baie ANC-LP’s nie gehou nie, want dit is ʼn verleentheid vir die regering.

“Ons as die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het so soort van verstaan hoekom SAL dit nie gedoen het nie, maar Skoor het bly aandring op openbare antwoorde.

“Ons (die portefeuljekomitee) het verstaan wat die konteks en omgewing was wat SAL gedwing het om daardie misdaad te pleeg. Ons wil SAL aanspreeklik hou, maar ons wil nie hê hy moet gelikwideer word nie. Ons wou nie nog ʼn kan wurms oopmaak wat die entiteit nog meer in die gedrang sou bring nie. Maar Skoor het bly druk vir die inligting.”

Hoewel Magaxa aangevoer het hy is nie daarteen dat ʼn opposisielid Skoor-voorsitter is nie, is sy voorbehoud dat hulle die posisie gebruik om die ANC-regering aan te val.

Frolick het bevestig dat hy vir Hlengwa en Magaxa ingeroep het, en dat hy Hlengwa gelyk gegee het, ten spyte van ANC-ontevredenheid.

Hlengwa het gesê hy meen Skoor funksioneer goed, en dat dit nie sy doel is om ander komitees te ondermyn nie, maar wel om tot ander komitees se werk by te dra en hulle sodoende te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Antoinette ·

Ek kan amper nie glo wat ek hier lees nie – hulle doen hulle werk te goed?

Eiervrug ·

En daar het jy die antwoord. Indien hulle volgens die boek werk sou hulle so iets seker verwelkom het???. Interessant…. Hulle het sopas gewys dat hulle baaaaie dinge het wat hulle eerder sou wou wegsteek.

Blikkies ·

Te Skaam hulle onbevoegdheid en onnosele besluite word openbaar….

Andre ·

Dit is baie snaaks…een van die beste grappe van die jaar (en met die regering in beheer was daar al baie) Die mense doen hulle werk te goed en dit pla die ANC LP’s.

Sannie ·

Kan jy dit glo… noudat daar uiteindelik iemand is wat sy werk reg doen word kapsie gemaak..ek het nie woorde nie. Te bang die korrupsie word blootgelê

Heinrich ·

Die hartseer gedeelte is dat daar enigsins iets soos Skoor moet bestaan, maar nou ja, die ‘Comrades’ is mos maar betrokke. En as daar ‘Comrades’ by Skoor betrokke is vertrou ek dié affêre ook maar niks.

Suzette ·

Natuurlik sal hulle nie daarvan hou nie, maar ek het nooit gedink hulle sal werklik omgee of hulle in ‘n slegte lig gesien word of nie – hulle doen wat hulle wil, soos hulle wil, wanneer hulle wil, met wie hulle wil en solank hulle wil.

JohanR ·

Byt hulle Skoor byt hulle. As die ANC kla oor iets dan moet jy nog verder soek as net hier by die boonste vlak, want daar onder is die vrot!

Hoekom ·

Oh wee, hulle moet net nie hulle posisies gebruik om die vet, korrupte een party staat van die ANC aanteval nie.

Hulle moet dit juis doen, anders raak die ANC net meer arrogant en meer korrup…

koos10 ·

Magaxa, as die regering, en lees asb ANC, hulle werk doen, dan sal SKOOR en die oposisie lid julle mos nou nie kan aanval nie, of hoe? Het jy jou opleiding en redenasie vlakke by Zuma gekry?
Die beste is dat Frolick, met sy foute en al, nog als die jare toe hy die voorsitter was, juis vir deursigtigheid baklei het, en nou verwag jy van hom om op te tree?

Alleen Wolf ·

Ek is sprakeloos, verdoesel jou korrupsie en as iemand aandring op die feite, verkla jy hom oor hy sy werk doen WOW! Wat nog?
SAL se bestuur moes krimineel aangekla gewees het soos enige ander maatskappy sin sou gewees het onder soort gelyke omstandighede.

Simon ·

Daai SKOOR voorsitter lyk maar nog baie jonk. Ek glo nie hy beskik oor die nodige ervaring en ondervinding of indiepte kennis van staatsfinansies om daai stoel vol te sit nie. Aan die anderkant hoef hy seker nie, want ‘n blinde kan met ‘n stok aanvoel hoe gekook die staat se finansiele state is te danke aan die OG se gebrekkige vermoe. Sit ‘n kundige in daai stoel dan sal die waghond nie net byt nie, hy sal verskeur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.