ANC maak burgemeesterskandidate bekend

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Gwede Mantashe. Argieffoto: Werner Beukes/SAPA

Die ANC het Saterdagaand sy burgemeesterskandidate vir die metropolitaanse en “strategiese” munisipaliteite bekendgemaak in aanloop tot die munisipale verkiesing op 3 Augustus vanjaar.

Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het kort voor middernag die kandidate in Pretoria bekendgemaak. “Die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het die kandidate gekies, deeglik bewus van die feit dat geen enkele individu in ons mense se behoeftes kan voorsien nie. Dit is die leierskap van die organisasie as ʼn geheel en die leierskap in die regering wat saam met ons gemeenskappe werk om mense te bemagtig,” het Mantashe gesê.

Hy het gesê die ANC is oortuig dat hul lys van burgemeesterskandidate “van die beste comrades in die ANC-range verteenwoordig” om hul program van radikale sosio-ekonomiese transformasie te bevorder.

Mantashe het genoem dat daar nog nie besluit is op ʼn burgemeesterskandidaat vir Tshwane nie. “Die streek- uitvoerende komitee het drie name aan die provinsiale uitvoerende komitee gegee, maar die provinsiale komitee was nie oortuig van die kandidate nie. Die name is aan die NUK verskaf en ons het ʼn voorstel van wat in Tshwane moet gebeur. Voordat die voorstel egter bekendgemaak kan word, sal ʼn afvaardiging van die NUK eers [Sondag] met die betrokke ANC-takke vergader,” het hy gesê.

Hy het gesê daar moet tans besluit word tussen twee kandidate vir die posisie en daarvoor sal die takke se insette gevra word “sodat die kandidaat deur almal ondersteun word”. Die Demokratiese Alliansie (DA) se Tshwane-kandidaat, Solly Msimanga, en die EFF het die afgelope paar weke uitgebreide veldtogte oor die hele Tshwane van stapel gestuur in ʼn poging om die hoofstad by die ANC te steel.

Die ANC-kandidate vir die metropolitaanse munisipaliteite is soos volg:

Mangaung – Olly Mlamleli
Buffalo City – Xola Pakati
Nelson Mandelabaai – Danny Jordaan
Stad Kaapstad – Xolani Sotashe
Ekurhuleni – Mzwandile Masina
Stad Johannesburg – Parks Tau
eThekwini – Zandile Gumede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos ·

Nog net weer n klomp zumaniste wat die land in die afgrond gaan bestuur

petra van Vuuren ·

what ever. Of hy nou president of burgermeester is, hulle is almal korrup.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.