ANC maan SAUK-raad oor Motsoeneng-salaris

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die ANC het gesê die ekonomiese klimaat moet in ag geneem word voordat staatsamptenare se salarisse bepaal word, in reaksie op die jongste salarisverhoging wat die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, ontvang het.

“Die ANC versoek omsigtigheid wanneer openbare fondse gebruik word,” het Zizi Kodwa, woordvoerder van die party, Donderdag in ʼn verklaring gesê. Dit kom ʼn dag ná die SAUK se jaarlikse verslag aan die parlement voorgehou is en dit aan die lig gekom het dat Motsoeneng se jaarlikse pakket met byna R1 miljoen na R3.78 miljoen gestyg het.

“Die raad van die SAUK moet nie buite die raamwerk van die nasionale tesourie optree nie,” het Kodwa bygevoeg. “Dit is ons siening dat ekonomiese neigings besluite oor die vergoeding van staatsamptenare moet bepaal.”

Kodwa het gesê die regerende party is oortuig dat enige salarisaanpassing gebaseer moet word op “regverdigbare gronde” soos die inflasiekoers wat in die staat en privaat sektor as ʼn riglyn gebruik word.

“Ons regering het homself daartoe verbind om die gordel stywer te trek. Ons versuim om hieraan te voldoen kan ʼn gevaarlike presedent skep wat nie volgehou of geregverdig kan word nie,” het Kodwa gesê.

Volgens die jaarlikse verslag het die SAUK ʼn verlies van R401 miljoen in die afgelope finansiële jaar gely.

Maroela Media het berig Motsoeneng het vrae oor sy verhoging as rassisties afgemaak toe hy aan verslaggewers gesê het dit is nie ʼn sonde vir swart mense om meer geld te verdien nie.

Die Demokratiese Alliansie het die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, Donderdag formeel versoek om die verhoging te ondersoek. Gavind Davis, woordvoerder vir die party, het in die skrywe aan Madonsela gesê Motsoeneng se salarisverhoging blyk onbehoorlik te wees, veral in die lig daarvan dat sy reeds in ʼn verslag in 2014 bevind het dat sy salaris binne een jaar drie keer verhoog het. Madonsela het tugstappe teen Motsoeneng aanbeveel. Hy was in daardie stadium waarnemende bedryfshoof. Hy is egter in Julie permanent in dié amp aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sue ·

Liewe aarde, hulle moet dit onmiddellik stop. Wat het hy gedoen wat so wonderlik was, NIKS! Dit is ‘n skande wanneer der duisende nie eers weet of hulle vandag ‘n snytjie brood gaan kry nie. Dit maak my SIEK! ANC julle kan dit stop!

Gerhard Bezuidenhout ·

die man is soos n wildehond wat hompe vleis uitskeur en net nie genoeg kan kry nie . Sy SAUK het n reuse verlies gemaak en dan kry hy nog n bonus en dan pluk hy nog bowenal die raskaart uit . SIEK BAIE SIEK.

Hennie van der Merwe ·

Suid-Afrika word bankrot besteel! Zim, hier kom ons! Geepad voor!!!!!

Sue ·

Dit help veel die regering tik die SAUK op die vingers as hulself miljoene vermors! Stel die voorbeeld ANC, dan sal die res volg. Al wat huidiglik gebeur is dat jul sirkus by die dag groter word

Dan ·

Hoe het dit gebeur dat hy spesifiek die pos by die sauk gekry het, hy het nie die kwalifikasie nie. Baaitjie vir boeties???

CR ·

Ek soek ook ‘n salaris van R315,000.00 ‘n maand….. Met een verskil, ek sal hard werk vir my geld en nie maak asof ek weet wat in my werk aangaan nie.

Meraai ·

Mense met visie, lewe nie net vir die hier en nou nie….gebruik jou verstand, en so terloops, dit het niks met ras te doen nie, dit is ‘n lewensvaardigheid en te doen met emosionele intelligensie…. iets wat die persoon van die SAUK definitief tekort skiet. As ek sulke uitgangspunte lees besef ek net hoe ver…..bitter ver ons van ‘n eerste wereld uitgangspunt is….evolusie is ‘n blik@#$#$%!!!!

Jacques ·

Maak toe die deure wie kyk na hulle nog in elkgeval.
Hier by ons het elke plakkershut n dstv skottel so dit is nog net eintlik die arm witmene wat na hulle kyk en julle worry mos nie oor hulle nie.

Peet Schabort ·

“Kan ‘n gevaarlike presedent skep” word gemaan. Wat van “‘n gevaarlike president” wat reeds bestaan ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.