ANC meen Ramaphosa-rondpratery oor Bosassa is in die haak

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto

Die ANC se parlementêre koukus het die geledere gesluit agter pres. Cyril Ramaphosa en sy regstelling oor die skenking deur die omstrede sakeman Gavin Watson aan sy ANC-leierskapveldtog aanvaar.

Vroeër die maand is Ramaphosa deur die DA-leier, Mmusi Maimane, gevra oor ’n skenking deur Watson, hoofamptenaar van die maatskappy Bosassa, aan Ramaphosa se seun, Andile.

Die president het destyds gesê die geld is deur Watson aan Andile oorbetaal as vergoeding vir konsultasiewerk, maar die president het sedertdien gesê dis geld wat in ’n trust inbetaal is as geldinsameling vir sy ANC-leierskapveldtog.

Die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, het vanmiddag aan die parlementêre perskorps gesê die president het per ongeluk die verkeerde inligting verskaf, en uit eie beweging die korreksie aangebring nadat hy verdere inligting aangevra het.

“Die ANC-koukus is tevrede met die gebeure, en onderskryf die president se eerlikheid en eerbaarheid. Alle politieke leiers wat aanvoer die president het willens en wetens gelieg, is skuldig aan goedkoop politiekery,” het Mthembu gesê.

Ramaphosa het aanvanklik tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie in die nasionale vergadering beweer ʼn R500 000-betaling van Bosasa aan sy seun was vir konsultasiewerk wat Andile vir Bosasa gedoen het.

Ramaphosa het egter dié week daarna in ʼn skrywe aan speaker Baleka Mbete erken dit is nie die geval nie. Die president sê hy het dié vraag in die parlement onbedoeld verkeerd beantwoord en wil daarom nou die regstelling maak om enige verwarring op te klaar.

Die presidensie het gesê Ramaphosa se antwoord op ʼn vraag oor dié betaling, was gegrond op die inligting wat toe tot sy beskikking was rakende die sakeverhouding tussen Andile en African Global Operations (voorheen Bosasa).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Thinus ·

Ramaphosa moet BOSASA vergeet en Coca Cola, Unilever en Statebond Besigheidraad. En die Kolonisasie van die Demokrasie as n Republiek van die Statebond. Coca Cola en die OVI en FIFA terwyl Pravin Gordhan aan die stuur was by die OVI.

Ekke ·

Die Liegbrigade! En dan onderskat Jackson Mthembu mense se intelligensie! Wat ‘n sirkus!

Paul ·

Jackson het na die ANC parlementslede gekyk toe hy dit gesê het, hulle het hul koppe instemmend geknik en CR geloof vir sy integriteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.