Die ANC het Maandag hulle bekommernis oor die “rassistiese ondertoon” van die staking deur die vakbond Solidariteit se lede teen die personeelaandeleskema wat op swart werknemers gemik is, uitgespreek.
Pule Mabe, woordvoerder van die ANC, het gesê Solidariteit het alle reg om te staak. “Ons moet egter bekommerd raak wanneer die regte waarvoor ons geveg het en wat vervat is in ons Handves van Menseregte misbruik word vir afstootlike redes wat ons demokrasie wil ondermyn.”
Mabe het gesê Sasol het in die verlede altyd skemas gehad waarby wit werknemers gebaat het, maar wat hul swart eweknieë uitgesluit het.
Volgens Mabe is een van die fundamentele beginsels van demokrasie om swart ekonomiese deelneming te bewerkstellig as deel van die proses om historiese ongelykhede aan te spreek.
“Ons prys die inisiatief wat Sasol geneem het en verwelkom hul toevoeging tot die verwesenliking van ons konstitusionele plig om die rykdom van die land met al haar burgers te deel.”
Mabe het gesê om Sasol se inisiatief as uitsluiting op grond van ras te karakteriseer is op die beste kwaadwillig en op die ergste oneerlik.
“Die doelwit om 25% direkte swart eienaarskap in Sasol Suid-Afrika te behaal is ʼn stap in die regte rigting en is in lyn met die breë basis swart ekonomiese bemagtiging-wetgewing en moet ondersteun word. Ons doen ʼn beroep op Solidariteit om deel te word van dié nasiebouprojek wat ʼn vooruitstrewende nasie wil bou waar alle inwoners in die land se rykdom kan deel en gelyke geleenthede het om ten volle aan die ekonomie deel te neem.”
Mabe het gesê Solidariteit se obsessie met die voortsetting van rassepolarisasie doen niks vir die nasie se voorwaartse momentum nie.
Maroela Media het vroeër berig lede van Solidariteit het vandag by Sasol begin staak oor die maatskappy se personeelaandeleskema wat wit werknemers uitsluit.
Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat wit werknemers oor rasse-uitsluiting staak. 89% van die Sasol-werkers van Sasolburg en Secunda het ten gunste van die staking gestem.
“Die oorweldigende steun vir die staking dui op die frustrasie van die werknemers. Ons het ses massavergaderings by die verskillende aanlegte van Sasol gehou. Van die vergaderings was so vol dat mense op die grond moes sit,” vertel dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
“Die onderliggende boodskap was: Genoeg is genoeg. Die werknemers is moeg daarvoor om uitgesluit te word. Sasol het ’n aggressiewe regstellendeaksiebeleid en die nuwe skema het werkers laat voel dat daar ’n streep getrek moet word. Sasol het net te ver gegaan.”
Sasol het onlangs ʼn nuwe personeelaandeleskema, Khanyisa, bekend gemaak. Ingevolge die skema is wit werknemers asook buitelanders van dié tienjaarskema uitgesluit. Khanyisa volg op ʼn vorige skema, Inzalo, wat wel wit werknemers ingesluit het.
Inzalo word nou in die eerste been van Khanyisa afgesluit.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
55 Kommentare
Sowaar ???
Sulke gedrag is algemeen aanvaar vanuit ANC-geledere …. hulle verwysende rassistiese verskonings is ook al hol gery. Dis tyd dat die spieelbeeld van hulle eie gedrag openbaar word. Die Sasol debakel moes lankal op die lappe gekom het. Die ANC hou net nie daarvan om uitgevang te word nie. Blok-myself is te algemeen. Doe bal ruil nou net bietjie kante.
Die ANC is die grootste klomp rasiste. Lekker, die skip is vining besig om te sink, en ek sit lekker en kyk hoe hulle probeer swem.
So nou wil die ANC verkeerd met verkeerd regmaak, met die manier waarop hulle dinge wil regmaak sal rassisme nooit tot ń einde kom nie.
Ag shame. Speel alweer die ras kaart. As net swart werknemers staak is dit hul reg
Wie gee om war die anc se?