ANC moet opdok ná wantrouemosie in Msimanga

Solly Msimanga (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Die hooggeregshof in Pretoria het beslis die ANC moet opdok vir die regskoste van die saak waarin hy Tshwane se metroraad wou dwing om ʼn wantrouemosie in die burgemeester, Solly Msimanga, per geheime stemming te beslis.

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, sê die administrasie is tevrede met die uitspraak in die saak wat die Tshwane-streek van die ANC teen die speaker van die raad gemaak het.

Die respondente in die saak het die uitvoerende burgemeester, die stadsraad, DA, EFF, Cope, ACDP, PAC en VF Plus ingesluit.

Die hof het in sy uitspraak gesê daar was geen gronde om die uitspraak te hersien en die beslissing van die speaker ter syde te stel dat die mosie van wantroue in Msimanga op die raadsvergadering van 27 September 2018 met ʼn openbare stemming gehou word nie.

Die hof het ook beslis dat die ANC se argument met betrekking tot die feit dat die vergadering nie ʼn behoorlike kworum gehad het nie, swak en teenstrydig was, sê Mgobozi.

“In die algemeen het die hof beslis hul argument vir ʼn geheime stemming was heeltemal gebrekkig, onoortuigend en swak op meriete.”

Regtens mag die speaker sy of haar oordeel gebruik om te bepaal watter wyse van stemming die beste sal wees. Mgobozi sê al die partye in die raad was terdeë bewus hiervan, behalwe die ANC, wat gemeen het dat dit nodig was om die hof te nader om uitspraak te lewer.

Die hooggereregshof het die ANC se aansoek van die hand gewys en die party gelas om alle regskoste in die saak te betaal. Die ANC sal nie net vir die senior advokaat moet betaal wat die stadsraad in die saak gebruik het nie; die party sal ook vir die DA se regsverteenwoordiger moet opdok.

“Hopelik sal dié duur regs- en finansiële les die ANC leer om beter in die raad te stry, pleks daarvan dat die party die hof se tyd mors,” sê Mgobozi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan H. ·

1 stappie in die regte rigting,egter nog myle oor op te loop as jy na Bossasa luister.Kom tannie helen ek ondersteun jou bekasting boykot!!!

H.A. ·

En so mors die anc maar net weer geld. En die geld kom uit wie se sakke ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.