ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir ‘geheime verkiesingsveldtog’

Mmusi Maimane, leier van die DA

Mmusi Maimane, leier van die DA

Die ANC moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die onetiese sogenaamde ‘koverte verkiesingsveldtog’ tydens die munisipale verkiesing op 3 Augustus verlede jaar, het Mmusi Maimane, leier van die DA, Sondag gesê.

Die vrystelling van geheime bandopnames bewys dat Ignatius Jacobs, hoofbestuurder van die ANC-hoofkantoor, geweet het van dié “black ops”-kommunikasieveldtog deur lede van die ANC en hul ondersteuners.

Die groep het, teenstrydig met die gedragskode van die verkiesing, en moontlik onwettig, doelbewus vervalste inhoud oor die ANC se politieke opponente, insluitend die DA, vervaardig en versprei, het Maimane gesê.

“Dit is tyd dat die ANC nou skoon kom en volledig en openlik aan die publiek meedeel presies wat hul vals nuuseenheid gedoen het en aan wie. Hulle kan nie bloot bly ontken dat enigies oneties of onwettig gebeur het nie. Die bewyse is moeilik om te ontken,” het hy bygevoeg.

Maimane het gesê hy gaan hierdie “baie ernstige kwessie” met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bespreek wanneer hy Dinsdag sy geskeduleerde vergadering nakom. Hy neem kennis van ʼn verklaring wat die OVK uitgereik het dat “die regsproses die geleentheid gebied moet word om afgehandel te word en dat dit voortydig sal wees om op dié bewerings kommentaar te lewer”.

Die ANC se propagandaveldtog oortree die gedragskode van die verkiesing, wat ontwerp is om die beginsel van “vry en regverdige verkiesings” te bevorder. Die gedragskode, waaraan alle partye moet voldoen, bepaal kragtens artikel 89(2)(a) en (c) dat “Geen persoon vervalste inligting mag publiseer met die doel om vrees of vyandigheid te skep om die uitslag van die verkiesing te beïnvloed nie”.

“Dié oortredings kan tot ʼn boete van R200 000 lei, tesame met ander sanksies, en/of die registrasie van die party kan gekanselleer word. Dit is ʼn baie ernstige saak wat deur alle Suid-Afrikaners veroordeel moet word wat glo in die basiese vereiste van vry en regverdige verkiesings,” het Maimane bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johannes van Staden ·

Die dag as die anc verantwoordelikheid neem vir iets eet ek my hoed op …skelm , lamsakkig en uiters onbekwaam en onkundige met n leier wat maar net n std 3 het en 780 of iets aankagtes van bedrog …daar het ons die antwoord !

John ·

Waarom kla, dit is hoogmode in die buiteland. As Trump oor dieselfde ding kla se almal hy is ‘n rassehater en skiet elke woord af. Die Demokrate speel dit fyn, so ook die ANC. Vuilspeel is ‘n kenmerk van politiek. Tamaties en vrot eiers word nou in ‘n ander vorm verwerk voor dit na die opposisie geslinger word. Die stank het deesdae ‘n veel wyer trefkrag en hang ook langer in die lug.

Frikkie ·

Soos die ou gesegte lui “waar daar ‘n rokie is is daar moes ‘n vuurtjie” Maar in die geval klink dit te veel na waar daar ROOK is, is daar ‘n helse VELD BRAND. Laat hulle wat betrokke was/is verduidelik en boet vir hulle optredes. Ons het regverdigheid nodig nie kullery nie. Ek glo vas dat Nelson Mandela dit nie sou toegelaat het nie. Waar hy nou is laat sak hy sy kop in skaamte, want dit is nie waarvoor hy na gewerk het nie..

snoefie ·

Nelson Mandela het soos die graf geswyg terwyl hy gelewe het en zuma se sondes op die lappe gekom het. same old….. same old……

Max ·

Jy is doodreg Mandela sou dit nie toelaat nie want hy moes die grondslag daarvoor le.

Anoniem ·

Hahahaa….. en ten spyte van hul duister plannetjies het die ANC 3 metropole afgestaan! Wonder hoe ver sou hulle verloor het as hulle nie vuil gspeel het nie – dan was dit dalk nie nodig vir die DA om in koalisie met die EFF te gaan nie. Vir my is dit ‘n aanduiding hoe bekommerd die ANC is dat hulle besig is om greep op hul stemvee te verloor.

broos ·

wat help ‘n R200,000 boete as jy R50miljoen basies gesteel het?????

Johann ·

Reeds vanoggend is die ANC aant vure doodslaan en sê dis ‘n interne aangeleentheid…ja shure. Kruip al hoe dieper in die selfgegroude gat van lieg!

Jan maak n Plan ·

Die ANC doen die tipe ding al lankal. Dis beslis nie die eerste keer nie.

Piet Pompies ·

Soos alle ongeruimthede, ingesluit politiek, is dit nie volhoudbaar en dit kom een of ander tyd uit in die openbaar en die oortreders betaal dan die prys.
Doen die regte ding en jy hoef nooit oor jou skouer te loer….

Jean ·

WAARVOOR HET DIE ANC AL VERANTWOORDELIKHEID AANVAAR? Ek praat nou van enige foute, flaters en ander mislukkings?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.