ANC nader MRK oor spotprent, DA-twiet en OB-uitlatings

anc-vlagDie ANC het ‘n amptelike klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien oor ‘n “rassistiese” en “beledigende” spotprent, ‘n twiet deur ‘n DA-LP en uitlatings deur die openbare beskermer.

“Sedert die vyfde demokratiese verkiesing op 7 Mei is daar ‘n ongekende openbare aanval op die meerderheid wat gestem het vir die regering van hul keuse, in die geval die ANC,” het Stone Sizani, ANC-hoofsweep, gesê.

Hy sê die “neerhalende rassemateriaal en beledigende kommentaar in die media” ondermyn die grondwetlike regte van ANC-kiesers.

Sizani het versoek dat die MRK ondersoek instel na ‘n spotprent wat deur Eyewitness News (EWN) gepubliseer is waarin daar na kiesers as “narre” en “poeph*ls” verwys word. Die ANC het verlede maand ‘n optog gehou oor die spotprent. EWN en die spotprenttekenaar het intussen om verskoning gevra vir die spotprent. Sizani sê die “spotprent verteenwoordig volgehoue rassisme, die skending van inherente menseregte en waardigheid in ons samelewing, en moet dus aan ‘n formele ondersoek onderwerp word.”

Die ANC het ook versoek dat daar ondersoek ingestel word na ‘n twiet wat deur Mike Waters, DA-LP, uitgestuur is. Waters het Maandag ʼn spotprent getwiet wat wys hoe honde in ʼn ry staan om teen ʼn plakkaat van president Jacob Zuma te urineer. “Die foto is erg vernederend en rassisties,” sê Sizani in die klagte. Waters het die twiet verwyder en om verskoning gevra.

Die ANC het verder ook gevra dat ‘n artikel waarin Thuli Madonsela, openbare beskermer, ANC-kiesers vergelyk met ‘n mishandelde eggenoot ondersoek moet word. Die artikel wat in The Star gepubliseer is beweer dat Madonsela tydens ‘n funksie by die Universiteit van Johannesburg gesê het Suid-Afrikaners het nie vir die huidige bestel gestem nie aangesien hulle wanadministrasie onderskryf.

“Mishandelde vroue bly nie omdat hulle die misbruik geniet nie maar omdat hulle hoop dinge sal verander,” het sy glo gesê. Sizani sê die uitlatings wat deur Madonsela gemaak is “is hoogs onregverdigbaar vir ‘n persoon in haar posisie.” Hy sê die metaforiese vergelyking wat deur Madonsela gebruik word om kiesers te spot is ook “aanstootlik vir baie vroue wat gebuk gaan onder seksuele- of geslagsgeweld.”

Sizani sê in sy klag dat hy glo dat die drie “aanvalle” die reg tot vryheid van assosiasie, politieke keuse en die waardigheid van ANC-kiesers skend.

Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, sê intussen Waters het om verskoning gevra vir sy tiwet. Sy sê gegewe die baie werk wat die MRK het, is die ANC se klag “dalk ‘n bietjie van ‘n oormatige aksie.”

Katy Katopodis, EWN se hoofredakteur, sê hulle neem kennis van die ANC se klag.

Oupa Segalwe, Madonsela se woordvoerder, sê hulle sal binnekort kommentaar lewer oor die saak.

Lees ook:
Spotprent-twiet: “DA is ‘n spul rassiste”
Herrie oor spotprent van honde wat been lig teen Zuma-plakkaat
ANC gewalg deur ‘poeph*ls’-spotprent
EWN vra om verskoning vir ‘poeph*ls’-spotprent

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alet ·

Plaas dat die ANC die spotprent uit los en dat die President hom lig en kyk wat in sy reenboog land aangaan . Wat is prent net n stuk papier gooi die ding weg as dit hulle pla.kyk na jou mense wat dood gaan vd honger en nie huise het nie of bied vir hulle slaap plek aan by jou paleis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.