ANC neem twee Inkatha-wyke af in KZN

Argieffoto

In ʼn onrusbarende verwikkeling vir opposisiepartye het die ANC hierdie week teen alle verwagting in twee wyke by die IVP in KwaZulu-Natal afgeneem.

Benewens die uitslae het die ANC vier wyke landwyd behou, en die DA en IVP een elk.

Die eerste wyk wat die ANC by die IVP afgeneem het, is wyk 3 van die Endumeni-munisipaliteit. Die wyk sluit ʼn landelike gebied tussen Glencoe en Dundee in.

Die nuwe raadslid is Mathula Nkosi (ANC) wat 1 706 stemme getrek het teen 1 138 vir die IVP, 110 vir die EFF en 32 vir die NFP. Die swaai van die IVP na die ANC is 15 persentasiepunte.

Die ander ANC-wins was wyk 7 van die Umhlabuyalingana-munisipaliteit (terloops die munisipaliteit met die langste naam in die land). Die wyk bestaan uit ʼn landelike gebied wat grens aan die vliegveld by Mbazwana, naby Sodwana.

Die wyk is vir die ANC afgeneem deur Eric Nxumalo wat 1 929 stemme gekry het teen die IVP se 1 432, die EFF se 56 en die Zulu Royal Property Party se 10. Die swaai van die IVP na die ANC is 9 persentasiepunte.

Die DA se oorwinning was in wyk 2 van die Nelson Mandelabaai-metro. Dit is die welvarende woonbuurt Somerstrand in Port Elizabeth.

Renaldo Gouws is die DA se nuwe raadslid nadat hy 3 400 stemme op hom verenig het. Die ANC was tweede met 145 stemme gevolg deur die ACDP met 71, die EFF met 13 en Cope met 13 stemme. Dit verteenwoordig groei van 3 persentasiepunte vir die DA.

Die IVP het beter nuus ontvang uit die Nongoma-munisipaliteit in Zoeloeland wat gemaklik deur die party se kandidaat, Elliot Shiba, behou is. Hy het 1 695 stemme gekry teen 1 049 vir die ANC, 223 vir die NFP, 50 vir die NPF en 38 vir die EFF. Dit verteenwoordig ʼn swaai van 6 persentasiepunte na die IVP.

Van die ANC se verdere vier oorwinnings was een in Limpopo, twee in Durban en een in Newcastle in die KwaZulu-Natalse steenkoolvelde.

Die uitslag uit Limpopo kom uit Sekhukhuneland, wyk 5 van die Tubatse-munisipaliteit, wat setel in Burgersfort.

Dit is gewen deur Motlabaile Lewele van die ANC met 1 127 stemme, gevolg deur die EFF met 476, Azapo met 16, die stokvel-gebaseerde party Sameba met 14 stemme, die Socialist Agenda met 7 en die PAC met 5 stemme. Dit is ʼn swaai van 4 persentasiepunte teen die ANC.

Die twee Durbanse wyke is in verskillende uithoeke van die Ethekwini-metro geleë. Wyk 88 is die Zwelethu-gebied in die township Umlazi ten suide van die stad. Dis vir die ANC ingepalm deur Thembinkosi Mathe met 2 649 stemme, gevolg deur die IVP met 350, die EFF met 292 en die NFP met 268 stemme. Dit is ‘n swaai van 4 persentasiepunte na die ANC.

Wyk 91 lê aan die metro se westelike uithoek as deel van die township Mpumalanga naby Hammarsdale. Philani Hlengwa van die ANC het gewen met 2 912 stemme teen 773 vir die EFF en 509 vir die IVP. Dis presies dieselfde persentasies as in 2016.

Die laaste tussenverkiesing was in Newcastle wyk 22, wat ʼn deel van die township Madadeni is. Sizwe Mngomezulu het die wyk vir die ANC behou met 1 280 stemme teenoor 404 vir die EFF, 247 vir die IVP en 19 vir die NFP. Dit verteenwoordig ʼn swaai van 7 persentasiepunte weg van die ANC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik UAE ·

Natuurlik moet die klomp verwoesters aanhou stem vir die party wat hulle toelaat om te brand ,staak en afbreek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.