ANC neem Wes-Kaapse munisipaliteit oor

Die sekretaris van die ANC in Wes-Kaapland, Faiez Jacobs. (Foto: Facebook)

Die Cederberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap is in omstrede omstandighede deur die ANC oorgeneem nadat die DA-speaker van die raad, Bertie Zass, in ʼn verrassende en klaarblyklik onregmatige stap ʼn mosie van wantroue in sy DA-kollegas laat dien het, toe bedank en hom by die ANC aangesluit het.

Die munisipaliteit Cederberg bedien ʼn gebied net noord van die Piekenierskloofpas aan die Weskus en sluit dorpe soos Citrusdal, Paleisheuwel, Wuppertal, Clanwilliam, Graafwater, Lambertsbaai en Elandsbaai in.

Die DA het sedert 2016 se munisipale verkiesing die munisipaliteit met ʼn meerderheid van een setel beheer saam met ʼn klein plaaslike party genaamd die ADC. Maar in gister se raadsvergadering het Zass vanuit die speakerstoel ANC-mosies van wantroue in homself, die DA-burgemeester William Farmer en die ADC-onderburgemeester, Francina Sekhuyokha, laat dien.

Hy is deur die munisipale bestuurder gemaan dat sy optrede onwettig is omdat die Wes-Kaapse plaaslike regeringsregulasies vereis dat mosies van wantroue slegs kan plaasvind met vooraf kennisgewing.

Hieraan het Zass hom nie gesteur nie, en die ANC het, met sy steun, ʼn nuwe burgemeester (Sylvia Qunta), ʼn nuwe onderburgemeester (Mariaan Nel) en ʼn nuwe speaker (Paul Strauss) verkies gekry voordat Zass as raadslid en DA-lid bedank het en hom by die ANC aangesluit het.

Zass se bedanking beteken ʼn tussenverkiesing sal binnekort plaasvind in wyk 3 van die munisipaliteit. Dit is die wyk in Clanwilliam.

Die leier van die DA in Cederberg, Lorraine Botha, het gesê wat plaasgevind het, is onwettig, ongeldig en niks anders as ʼn staatsgreep nie.

Die sekretaris van die ANC in Wes-Kaapland, Faiez Jacobs, meen egter dis ʼn aanduiding dat gemeenskappe hulle al meer tot die ANC wend, en dat dit nie die laaste keer is dat so iets gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Beveg dit, moet net nie die uitslag gelate aanvaar nie

DIT IS NIE OPREGTE DEMOKRASIE NIE !!!

Koos

Die ANC kan mos niks wettig doen, is altyd besig met iets verdag.

Gebelowe

Leer nou een les: NIKS in die land is onwettig nie! Die DA moet ophou huil en hul kiesers gelukkig hou, dan sal sulke dinge nie kan gebeur nie. LUISTER na die kiesers se probleme en hou op beloftes maak.

Henk

Die saak sal, soos so dikwels in SA, in die hof draai en die ANC se “bewind” sal maar kort van duur wees.

Jerry

Die DA was gewaarsku dat die anc en eff van hulle lede binne die DA geplant het en wie toe reeds begin aandring het op Steenhuisen se pos. Dit is dus tewagte dat daar meer sulke verrassings sal plaasvind!