ANC ontken bewerings van verkiesingsongerymdhede

Argieffoto

Argieffoto

Die ANC in KwaZulu-Natal het Dinsdag gesê bewerings dat die party betrokke was by verkiesingsbedrog in die KwaDukuza-munisipaliteit is “belaglik”.

Thabani Mdlalose, ANC-streeksekretaris, het gesê hy is nie bewus van enige strafregtelike aanklagte wat in dié verband aanhangig gemaak is nie. “Dit is die eerste keer dat ek van die sogenaamde aanklagte hoor. Ons weet niks van aanklagte teen enige ANC-raadslid nie,” het Mdlalose gesê.

Maroela Media het vroeër berig bewerings het Maandag aan die lig gekom dat pensioenarisse in ʼn wyk van die munisipaliteit toegelaat is om spesiale stemme uit te bring ʼn dag voor die verkiesing en weer op verkiesingsdag. Daar word ook beweer dat die verkiesingsbeamptes by die stempunt aktief betrokke is by die ANC in die streek.

Nadat die bewerings aan die lig gekom het, het die DA ʼn strafregtelike aanklag by die KwaDukuza-polisiestasie aanhangig gemaak. Die IVP en EFF het ook klagtes by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ingedien. Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn klag van verkiesingsbedrog ondersoek word.

Die ANC se Dumisani Ndimande is uiteindelik as die wenkandidaat in die betrokke wyk aangewys. Die DA se Thokozani Gumede het Maandag beweer dat die pensioenarisse wat twee keer gestem het, op die verkiesingsdag deur ʼn verkeersbeampte in Ndimande se motor opgelaai en na die stemstasie geneem is. Gumede het gesê die verkeersbeampte is die kleinseun van een van die pensioenarisse.

Ndimande het Dinsdag gesê hy weet nie hoe om op die bewerings te reageer nie omdat dit so “belaglik” is. “Die OVK moet maar op die bewerings reageer. As jy jou stem op 2 Augustus uitgebring het, hoe kan jy weer op 3 Augustus gaan stem? Al die partye se agente was daar en het geteken dat die verkiesing vry en regverdig was. So hoe kon iemand twee keer gestem het? Dit is onmoontlik,” het hy gesê.

In ʼn verklaring van een van die pensionarisse wat by die polisie ingedien is en waarvan ʼn afskrif in African News Agency se besit is, erken die persoon die bewerings. “Ek het op 2 Augustus gestem en weer op 3 Augustus. Toe ek die eerste keer gestem het, het hulle nie ink op my vinger gesit nie en ek het gedink ek het dus nie gestem nie. Toe het ek weer op 3 Augustus gegaan en weer gestem. Die OVK was nalatig, want hulle kan sien ek het twee keer in dieselfde verkiesing gestem,” het die persoon gesê.

Alex Gumede, ʼn EFF-kandidaat, beweer dat hy op 2 Augustus sy spesiale stem uitgebring het en gesien het hoe die stemme in ʼn bokslêer geplaas word in plaas van die amptelike OVK-stembokse. Toe hy daaroor navraag doen, is daar aan hom gesê dit word gedoen om die stemme te verdeel en dit so makliker te maak vir beamptes om dit later te tel. Volgens Gumede het hy probeer om by die voorsittende beampte van die stemstasie te kla, maar sy het hom weggejaag.

Gumede sê hy het later ʼn klag by die OVK ingedien, maar het nooit enige terugvoer gekry nie.

Kate Bapela, die OVK se nasionale woordvoerder, het vroeër gesê sy sal Dinsdag kommentaar lewer, maar het steeds geen terugvoer oor die bewerings gegee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Waar die ANC betrokke is, is daar ALTYD ongerymdhede. Dit is mos nie meer nuus nie. Ek hoop die ander partye gee hulle hel.

Lance ·

Anc ontken beken verwerp aanvaar ….soos dit hulle sakke pas ….ek glo net mooi niks wat die diewe se nie !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.