ANC ontken hy het SAUK ‘geboelie’

Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die ANC het Sondag walgegooi nadat daar berig is dat die regerende party die SAUK vermaan het omdat die openbare uitsaaier “te min mediadekking” aan die ANC se verkiesingsaktiwiteite in Noordwes gee.

City Press het berig ʼn vergadering is tussen Fikile Mbalula, die ANC se hoof van verkiesings, en senior redakteurs van die SAUK gehou waartydens Mbalula glo gekla het dat die uitsaaier nie genoeg nuusdekking aan ANC-geleenthede gee nie. Die SAUK het na bewering tydens die vergadering geskerm en gesê daar is te veel verkiesingswerwingsgeleenthede om by te woon en die SAUK moet sy beriggewing balanseer om aan ander partye ook nuusdekking te gee.

Die ANC het Sondag in ʼn verklaring gesê die berig is “kwaadwillig” en het ten doel om die ANC in ʼn negatiewe lig te stel.

Die party erken in die verklaring dat hy Vrydag met Phathiswa Magopeni, die SAUK se groephoof vir nuus, sou vergader “om kwessies van gedeelde belang en die uitsaaier se benadering tot verkiesingsdekking te bespreek”. Volgens die ANC het daar onverwags egter ʼn aantal ander redaksionele personeellede ook die vergadering bygewoon.

“Die vergadering was veronderstel om ʼn platform te wees waar sienings gedeel word sodat ons die SAUK se planne in aanloop tot die 2019-verkiesing kon hoor. Ons glo ook die SAUK se perspektief sal verryk word deur ons ervarings van en sienings oor belangrike kwessies,” lui die verklaring.

“Die ANC ontken onomwonde dat daar enige eise gestel is of enige pogings aangewend is om die SAUK te boelie. Ons is jammer dat ʼn welwillende vergadering, waar daar ʼn gesonde wedersydse deel van sienings en inligting plaasgevind het, as ‘boelie’ gedefinieer kan word. Ons sien hierdie weergee van ʼn valse narratief oor die vergadering met die openbare uitsaaier as oneties en iets wat in die kiem gesmoor moet word.”

Die regerende party voer verder aan hy respekteer ʼn wye verskeidenheid van stemme in die openbare diskoers en ʼn onafhanklike media waarin die stemme gehoor kan word. “Onafhanklikheid van die media in die algemeen, en veral die openbare uitsaaier, moet egter nooit beskou word as die uitwerp of marginalisering van die ANC en sy leierskap nie,” sê die party.

“Ons sal voortgaan om met die SAUK samesprekings te voer wanneer ons glo ons word onregverdig behandel. Die ANC sal veg vir ruimte om sy stem te laat hoor net soos enige ander politieke party en sal nie stilgemaak word deur mense wat die kwessie as afskrikmiddel wil gebruik nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

jakes ·

Fikile moet die Guptas gaan vra vir meer dekking want hulle het hom tot minister bevorder.

leser ·

die sauk is in elk geval ‘n ancheee speelbal, alles moet om hul g#tte draai

Adam ·

Om watter rede sou so’n vergadering in die eerste plek nodig wees met wat veronderstel is om ‘n onpartydige openbare uitsaaier te wees indien die motief nie was om die SAUK onbehoorlik te beinvloed nie. Jammer Fikile, maar jou argument kan nie water hou nie.

Manie ·

Lyk my die ANC begin sy Guptas se ANN se se valse nuus mis.

Wilma ·

Hukom sal ons die anc se liegstories glo. Hul lewe draai om leuens

Spike ·

ñ comrade en kader is nooit verkeerd en erken nie ñ fout nie. Ken hulle baie goed, het saam met hulle groot geword.

Johanna Botha ·

Die oomblik as die anc ontken kan jy maar weet dis 100 % waar …tog so voorspelbaar !

John ·

Waar trek diè minister al met die bal… Gee dit onder deur die tafel aan, dit kan dalk help… met ‘n paar Oosters-gekruide woorde by vir effek. Beide die ANC en die DA soek eenpartystate… net hulle alleen… Vote for the most beautiful leader with the most beautiful English tongue… promising the most beautiful life… in the most beautiful speeches… wha, wha, wha!

Huh ·

Ja ontken ontken ontken. Netsoos julle NUK oor jare nooit geweet het v enige korrupsie, Zuptas, Bosasa ens ens nie, ne. Dit sal so 300 jaar vat om julle geloofwaardigheid te herstel as julle nou ophou lieg

alida ·

Hierdie nar weet nie meer watse minister hy nou eintlik moet wees nie. Gaan net huistoe asb en geniet jou goue handdruk Fikile.

J. van Rensburg ·

Hierdie kaders sou wat wou gee dat GEEN ander party behalwe hulle s’n nuusdekking kry nie – dit kllink my baie asof hulle besef dat hulle vir die qafgelope 25+ jaar so drooggemaak het dat hulle droogmakery hulle nou baie stemme in Meimaand gaan kos…

Robert ·

Dis nie jou lugtyd wat jou die stemme sal laat kry nie maar die resultate op die grond. Julle ry al te lank op leuens om stemme te werf.

riaan ·

So fikilie is toe tog bang want hy skrik hom oor ‘n mik to daar ‘n paar redalsionele personeel opdaag. Het seker geding hy kan die sabc bamboozle as hy one-on-one vergader??

Dink CancER regtig ons stel belang in hulle “ervarings van en sienings oor belangrike kwessies”???????? Ten spyte van alles wat die laaste tyd oopgevlek is bly hulle die toppunt van arrogansie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.