ANC ontken planne om Ramaphosa te ontsetel

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Die ANC het ʼn berig in die Sunday Times, “Exposed: Zuma plot to oust Cyril”, verwerp.

“Die ANC sal nie eers waarde gee aan hierdie blatante leuens met ʼn gedetailleerde reaksie nie,” het woordvoerder Pule Mabe Sondag gesê. “Ons wil graag daarop wys dat ons hierdie skaamtelose geskinder verwerp. Ons verwerp ook enige pogings om ons sekretaris-generaal, Ace Magashule, te verbind met hierdie beweerde plan om die president van die ANC, Cyril Ramaphosa, te ontsetel. Dit is duidelik dat hierdie kwaadwillige skinderpraatjies berekend is om die beeld en integriteit van ons sekretaris-generaal skade te doen.”

Magashule, soos ander ANC-leiers, is daarop gefokus om eenheid in die party te herstel, volgens die Nasrec- nasionale konferensie, het Mabe bygevoeg. “Magashule en die hele ANC-leierskap verwerp dus enige pogings om die aandag af te lei van hernuwing en eenheid. Die leierskap beskou die eenheid van die ANC as onaantasbaar en sal enige pogings, wat verdeling in die party wil bring, teenstaan.”

Die ANC het ʼn beroep op sy lede en die publiek gedoen om nie mislei te word deur hierdie “storie wat nie op enige feite gebaseer is nie”.

“Ons is teleurgesteld dat die Sunday Times op ʼn baie onverantwoordelike en gevaarlike manier voortgegaan het om dié misleidende storie te berig. Ons maan die Sunday Times om dadelik die storie terug te trek. Dit is niks anders nie as politieke skinderpraatjies wat moontlik die eenheid van die regering kan ondermyn,” het Mabe bygevoeg.

Hy het gesê die ANC ondersteun vryheid van die pers, maar glo dié vryheid moet met sorg en verantwoordelikheid uitgeoefen word.

Die berig beweer voormalige pres. Jacob Zuma en sy ondersteuners beplan om die huidige ANC-leierskap, veral Ramaphosa, te ontsetel.

Sekretaris van die ANC-jeugliga in KwaZulu-Natal, Thanduxolo Sabelo, het intussen ook ontken dat hy betrokke was by ʼn vergadering met Zuma om die huidige ANC-leierskap te ontsetel. Hy het regsadvies bekom ná die artikel in die Sunday Times.

Hy het gesê hy is in kennis gestel oor ʼn artikel in die Sunday Times oor ʼn vergadering, wat na bewering Donderdag by ʼn hotel in Durban gehou is, waar planne gemaak is om die ANC-leierskap, veral Ramaphosa, te ontsetel. “Die artikel beweer ek was by dié vergadering teenwoordig waar die plan beraam is,” het hy in ʼn verklaring gesê.

“Ek was nooit by só vergadering betrokke nie. Ek is nie deel van ʼn sameswering nie en ek sal ook nie deel wees van ʼn plan om die huidige leierskap van die ANC te ontsetel nie. Ek het ʼn goeie werksverhouding met pres. Cyril Ramaphosa, die president van die ANC en die republiek, en sal nie deel wees van ʼn plan om hom te ontsetel nie.”

Hy het intussen regsadvies bekom en sal die persombudsman nader om ʼn klag teen die artikel aanhangig te maak. “Dit wek die indruk dat ek by ʼn vergadering betrokke was om die leierskap te ontsetel,” het Sabelo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Thinus ·

Mmmm. Waar daar ‘n rokie trek……
Mens kan enige iets van die Zuma kamp af verwag.

IK ·

Gaan dit nou werklik saak maak? ‘Ontsetel’ of ‘ontstel’; ‘skinderpraatjies’ of ‘kinderpraatjies’. Gaan dit SA se toekoms verander? Vinkel en koljander . . .

Ace van Estina ·

Dis nou Ace van Estina melkplaas faam wat so opgehemel word. Ace, Zuma se grootste boetie, wat nou skielik Ramapouse se grootste broer is ?

Marie ·

Methinks the lady doth protest too much. As die ANC so vinnig reageer is daar vir seker waarheid aan die storie. Behoed ons as Zuma terugkom.

Nettie ·

As die ANC eers só protesteer en sê “Nee, dit is nie so nie” dan moet ons weet dit ÍS INDERDAAD SÓ!!! Die ANC, al sy kaders en ondersteuners is van lieg aanmekaar gesit. So terloops, kyk maar wat gebeur middel aanstaande jaar: die EFF gaan weer ontbind en deel word van die ANC.

Ronel ·

Cat on a hot tin roof? Hulle kraai koning van liegstories en verskonings uit dink.

Cornelia ·

“Onaantasbaar” anc en bondgenote? Al gesien hoe val die toring van Babel sonder mense toedoen?

Jerry ·

So n klandestine vergadering sou tans eerder gegaan het oor die staatskapingkommissie en n plan om voornemende getuies te laat intimideer. Cornelia die toring van babel gaan val, maar voordat dit sal gebeur gaan n sekere forum se babbel eers bars!

Mielie ·

Waar daar n rokie is? Ek glo vas die mense is verskriklik benoud en hulle trek nou swaar. Sal alles in hulle vermoë doen om die ondersoeke te stop. Hier gaan nog lelike dinge gebeur. Ons, die publiek trek alreeds swaar agv van ANC

Hansie Slim ·

Natuurlik sal die ANC alles ontken.
Waar daar ‘n rokie is…..

Irma ·

Regtig ? En mnr Pule Mabe se stellings is nou die heilige waarheid? Kom ons kyk hoe dinge uitspeel, daar is mos al bewys dat die stellings meeste van die tyd vér van die waarheid verwyder is.

Jannie ·

WHATEVER! Wat is die verskil tussen satan #1 en satan #2? Albei is boos en nutteloos in ‘n beskawing!!!

Jakkalsdraai ·

Hier kom ‘n burgeroorlog, nou gaan ons eers ware Afrika beleef.

Jacques ·

En mens moet die anc nou glo ? Hoeveel keer het hulle al iets ontken en dan kom dit tog uit dat dit so is ? Hou op om die belasting betalers te bedrieg , almal is nie dom nie .

Corne ·

Sou dit onwaar wees, waarom die geheime vergadering ? Waaroor het jul besprekings met oud Pres. Zuma dan gegaan?

honourable member ·

Hoekom. Is dit omdat hy nie rassisties genoeg is nie.

Casper Labuschagne ·

Vraag: Is daar binne die ANC ‘n komplot teen Ramaphosa? – Verseker.
Vraag: Is Zuma die hooffiguur in hierdie komplot? – Verseker.
Vraag: Is die oorblyfsels van Zuma se premiersliga, Mabuza en Magashule betrokke? – Veseker.
Vraag: Is Mabuza en Magashule besorg dat die lot van Supra Mahumapelo vir hulle mag tref? – Verseker.
Die tafel is dus gedek vir ‘n opstand teen Ramaphosa en die ANC ontkennings kan dit nie verander nie.

Interessant genoeg berig DIe Volksblad vandoggend op hul voorblad, “Komplot bewerings – Moeilikheid lê voor.”

Andre ·

Die een is net so useless soos die ander een, maak nie rerig saak wie aan bewind is nie. Die land is in sy maai met die patetiese ANC.

Ek sal dit glad nie verby Zuma sit nie, nou dat Abrahams nie meer daar is om hom te beskerm nie, gaan hy vir seker tronk toe. Tensy hy natuurlik weer president word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.