ANC ontken ‘transitorower’ werk steeds vir party

Errol Velile Present. Foto: ANA

Die ANC het Maandag gesê Errol Velile Present (33), voormalige werknemer van die ANC wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn transitorooftog, is sonder twyfel afgedank en is nie meer werksaam by die ANC nie.

Present, wat ten tyde van sy inhegtenisneming by die ANC se hoofkantoor as nasionale organiseerder werksaam was, het Vrydag in die Roodepoort-landdroshof gesê dat hy net die helfte van sy salaris ontvang terwyl hy in aanhouding is.

Die ANC het in reaksie hierop gesê Present is afgedank nadat hy deur die polisie met die misdaad verbind is. Die party het gesê hy wil dit onomwonde stel dat dit irrelevant is of Present ʼn vrywilliger was en of hy permanent aangestel was.

“Present het na bewering ernstige misdade gepleeg tydens die tyd wat hy werksaam was in sy pos waarna hy in sy beëdigde verklaring verwys en dit het gelei tot sy onmiddellike afdanking.”

Die ANC het bygevoeg dat sou Present ontevrede wees met die prosesse wat gevolg is, hy welkom is om enige instansie te nader wat hom sal voorsien met ʼn bevredigende oplossing. “Die ANC verwerp weer eens Present se verwronge beeld dat hy steeds vir die party werk.”

Present het berugtheid verwerf nadat Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, ʼn verklaring uitgereik het waarin hy die regerende party veroordeel het omdat hy iemand in diens het wat na bewering geen respek vir die gereg het nie.

Die ANC het kort daarna gesê Present is afgedank rakende die bewerings dat hy by “gruwelike misdade” betrokke is.

Present is een van vier beskuldigdes in die saak. Hy het saam met sy medebeskuldigdes, Zakhele Zondi, Itumeleng Manama en Bheki Biyela, verskyn. Al vier mans staan tereg op ʼn aanklag van roof met verswarende omstandighede rakende ʼn transitorooftog wat op 4 Julie in Dobsonville, Soweto, plaasgevind het. ʼn Bedrag van R220 000 is tydens die rooftog gesteel.

Present het verlede week aan die hof gesê hy was die dag van sy inhegtenisneming saam met sy vrou op pad na sy oom se huis. Hy het ook beweer dat hy en sy vrou aangerand is tydens sy inhegtenisneming.

Hy het gesê daar is geen vingerafdrukke geneem op die voertuie wat die polisie beweer hy en sy medebeskuldigdes tydens die rooftog gebruik het nie. Hy beweer die vier wagte wat beroof is, kon hom ook nie tydens ʼn uitkenningsparade uitwys nie.

Hy het by die hof gepleit om hom op borgtog van R5 000 vry te laat, en gesê hy sal nie met die staat se saak inmeng nie en dat hy nie ʼn vlugrisiko is nie. Hy het gesê hy sal sy sakevennote vra om hom te help met die borgtoggeld.

Toe die hof hom vra hoe sy vrou en kinders oor die weg kom sedert hy in hegtenis geneem is, het Present gesê sy vrou het hul motor verkoop om vir die kinders se uitgawes te betaal.

Die saak is tot 11 September uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jakkalas ·

Kan mens enige iets meer glo wat die ANC opdis. As mens naïef genoeg is om in kabouters en veëtjies te glo…….

Skande ·

Ag hy se dan nog hy kry ‘n ‘halwe’ salaris van die ANC, hoekom sal hy lieg daaroor? Die ANC het hulleself nou as ‘n party gevestig wat kriminele en fraudsters beskerm.

pinkie ·

Ek is seker die heel eerste berig hieroor het gemeld dat hy NIE ‘n werknemer van die ANC was ten tye van die voorval nie. Nou lees ek hy is afgedank na die voorval op die lappe gekom het?

Deon ·

Die ANC dank mos nie sy mense af nie, die ANC skors mos almal wat een of ander beweerde oortrede begaan het. (Ek sê maar beweerde net om uit die moeilikheid te bly).
MM maak asseblief eers seker of die man nie dalk geskors is nie.

Wondermaarnet ·

Hy werk dalk nie meer vir hulle nie, maar is steeds op die payroll en sal daar bly tot in lengte van dae.

marous ·

Dan moet hulle ‘n saak teen hom oopmaak dat hy valslik met die opset om te bedrieg aan die hof voorgegee het dat hy steeds ‘n salaris van hulle ontvang .

Marie Visser ·

Indien ‘n persoon steeds ‘n salaris van ‘n werkgewer ontvang, is daardie persoon stééds deel van die werkerskorps. In hierdie geval het nét die persoon se werkstasie verander. ANC, moenie die gemeenskap so vlak beoordeel nie, ons is slimmer as wat jul dink. Daardie misdadiger het nou ‘n beskermde kantoor waaruit hy sy skelmstreke kan voortsit

Wonder-ook ·

Is dit so moeilik om ‘n afskrif van sy salaris advies te kry?

Hanna Hoekom ·

Die ANC het ook gereken dat grond grype sonder vergoeding nie die ekonomie sal skaad nie. ANC reken ook dat geen Suid-Afrkaner onveilig in hierdie land hoef te voel nie. Die ANC beloof ook dat handel in Afrika, met Afrika genoegsaam sal wees om die ekonomie op te stoot… Moet ek aangaan? In kort: alles wat die ANC kwytraak is BOLLIE!

FrikL ·

Daardie paar woorde het my ook opgeval. Hy werk kwansuis en het sakevenote

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.