ANC ontvang ‘regsbrief’ oor verwydering van Zuma

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Die nie-winsgewende organisasie Transform RSA het Woensdag ʼn regsbrief aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gestuur wat dien as “ʼn dringende waarskuwing” teen enige voornemens om pres. Jacob Zuma uit sy amp te verwyder.

Die regerende party het tot Vrydag kans om op die brief te reageer, wat Transform RSA meen in reaksie sal wees op die nuutverkose NUK se eerste vergadering wat Woensdag gehou is.

Terwyl daar tans wyd bespiegel word dat Zuma se verwydering dalk op die NUK-vergadering se agenda was, het Ace Magashule, die nuutverkose sekretaris-generaal van die ANC, dit vroeër ontken en gesê die vergadering van die nuwe NUK het slegs gegaan oor Cyril Ramaphosa, ANC-president, se 8 Januarie-verklaring.

Die nuwe ANC-leier sal sy verklaring Saterdag in Oos-Londen lewer as deel van die ANC se 106de verjaarsdagvieringe.

In die Transform RSA-brief sê Maubane Mphahlele Inc. hy tree op namens lede van die publiek wat “ʼn direkte, wesenlike en  gevestigde belang in die bogenoemde aangeleentheid het ingevolge bepalings van die grondwet van Suid-Afrika wat die verkiesing en verwydering van die president beheer”.

Die brief stel dit dat Transform RSA “ʼn geregistreerde regsentiteit” is wat sedert Julie 2016 onder die naam Manovision (Edms) Bpk bedryf word.

Volgens die brief het Transform RSA bewus geword van die ANC NUK se vergadering wat gehou is “om die voorgenome verwydering van [Zuma] te bespreek”. Transform RSA meen hy het gevestigde belange by dié kwessie, aangesien hy ʼn nie-regeringsorganisasie is wat ʼn sekere kiesafdeling verteenwoordig en in die openbare belang optree.

Die brief lui verder dat lede van Transform RSA en die “breër algemene publiek” se regte “wesenlik geraak” sal word deur die NUK se besluit om Zuma uit die kussings te lig en dat dit teenstrydig sou wees met die gees van die land se grondwet aangesien dit potensieel tot landwye onstabiliteit kan lei.

Die brief voer ook aan dat die ANC NUK nie by magte is om enige persoon uit sy amp as president van Suid-Afrika te verwyder nie, ongeag die feit dat Zuma die ANC se voorkeurkandidaat vir die posisie was voor en na die algemene verkiesing in 2014.

“Die prosedures vir die verkiesing en verwydering van die president van Suid-Afrika word duidelik in die grondwet uiteengesit en dit is nie ons bedoeling om met hierdie brief oor elke grondwetlike voorsiening te gaan nie, behalwe om die NUK daaraan te herinner dat julle nie ʼn aanstellings- of verwyderingsgesag is oor enige persoon wat die president van Suid-Afrika is nie.”

Transform RSA eis in die brief ʼn “ondubbelsinnige en onvoorwaardelike onderneming” deur die party en sy NUK, alliansies en vennote dat daar geen voorneme sal wees om die moontlikheid van die verwydering van Zuma te bespreek nie.

Khusela Diko, die ANC se woordvoerder, het ten tyde van publikasie nie op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pierre ·

Nou wat is die verskil toe Zuma vir Mbeki laat lig het as President, selfde Grondwet net op ander manier toegepas. Transform RSA behoort van beter te weet as om Zuma daar te wil hou, wat wil hulle Transform.

Blits ·

Wie is die klomp? ek het nog nooit eers van die klomp gehoor nie en nou tree hulle in belang van die publiek op? asb ek voel beslis nie dieselfde as die klomp nie, tien teen een weer n zuma faksie onder n dekmantel, hoe kan di in ons beste belang wees om die zuma te hou as president?? hy vernietig ons land saam met sy pelle, My eerlike meening is dat dit Suid Afrika meer gaan baat as hulle zuptas verwyder as om die knaap daar te hou.

Hulle praat van in die belang van die publiek, dalk moet daar gevra word om te wys en te se wie die sogenaamde publiek is?, Dis hoekom hulle naam MONOVISION is wat hulle sien en hoor niks in STEREO nie, Tonnel vissie wat skrik vir niks.

Jacobus ·

Transform RSA is ‘n Gupta organisasie wat voorbrand maak vir hul geliefde Zuma.

Google hulle net en julle sal sien waarvoor hulle staan.

Dit is nie die Grondwet nie maar om hulle meesters lees Gupta en Zumas te dien.

Op hulle Facebook blad het hulle geskryf “Johann Rupert – a white monopoly capital racist”; so wat sê dit vir julle, BLF, Gupta en Zuma kamp sit agter die.

The New Age koerant en nuus stasie haal hulle aan “THE issue of re-appropriation of land will be tackled tomorrow at Sankopano Hall in Alexandra by civil organisation Transform RSA on behalf of community” nog bewys wie agter hulle sit.

Google is maar ‘n wonderlike ding.

MADELEIN ISAAKS-SHIKULO ·

Nee hy moet onmiddellik verwyder word laat CYRIL kan op om ons land te red. Seker net die wat in sy belange op tree wat nog steeds besig is om die bietjie van die koek wat hulle nog eet hom beskerm. HY MOET VERWYDER WORD OF VERWYDER HOM SOOS SY VRIEND ROBERT MUGABE. SUID AFRIKA STAAN SAAM ASB.

Loeis ·

Hulle is heeltemaal reg dat nie die ANC nie, maar die parlement die land se president kan verwyder. Maar, die ANC in die parlement (of ten minste ‘n klomp van hulle LPs) se steun sal nodig wees om die Zuma as president van die land te verwyder, so dit kom terug na ‘n denkskuif binne die ANC. Noudat die ANC ‘n ander leier het, is die kanse baie beter dat ‘n mosie in die parlement kan slaag. Dit sal baie interessant wees om te sien hoe dinge gaan ontwikkel.

Sleg wat hy is hoop ek eintlik ou Zuma bly nog so ruk aan, want dit gaan die ANC volgende jaar stemme kos. Dalk genoeg dat hulle en die EFF nie meer met die grondwet kan peuter nie.

Jacobus ·

As die ANC NUK besluit om Zuma te verwyder en dit bekend maak sou die meerderheid van die ANC lede in die parlement hulle steun in so ‘n besluit en Zuma uitstem.

Moenie hoop dat die ANC as hulle die verkiesing in 2019 verloor dat hulle gaan mag opgee nie, hulle sal dit met geweld behou self Ramaphosa sal dit doen, die ANC is en was nog nooit ‘n Demokratiese organisasie nie, hulle wil vir altyd regeer en plunder.

Die wat sê Ramaphosa gaan Suid Afrika red en sal ‘n goeie leier wees, gaan in wees vir ‘n baie groot skok en ontnugtering.

Cor ·

Die onbekende groep se hulle praat namens die algemene publiek van die land. Hulle het my, my familie en vriende nie genader nie. Ek wonder wie gee hierdie groep en ook andere die reg om te se hulle praat namens al die inwoners of sekere groepe. Hou n referendum en kyk wat se die publiek en handel daarvolgens.

moeks ·

Praat defnitief nie namens my nie. Nog nooit van hulle gehoor nie. Gaan Transform RSA nou die land wil voorskryf? Klink meer na ‘n dreigement as hulle begin eise stel.

DG ·

Hoe het die onbekende onbenullige groep se brief by die media uitgekom. Partykeer is die media so maklik om aan die neus rond te lei, die inbraak by my bure se huis beteken meer. Hierdie is net nog ‘n sensasie soekende aksie, my raad is moenie veel aandag daaraan gee nie. As die media bietjie oordeel gebruik sal baie onbenullige berigte nie so uit proporsie geblaas word nie.

Jacobus ·

Andwoord ” The New Age” en die internet, dit is aan die media gestuur deur die “organisasie”

Johan ·

Gaan kyk bietjie op wie se payroll is die ouens…..shame…..julle het julle nou net ontbloot vir die organisasie vir wie julle eintlik werk….

Antjie ·

Die feit dat hulle hulself ʼn regsentiteit / regspersoon noem impliseer geensins ʼn “regsbrief” of selfs geregtelike kennis nie! Dit lyk na ʼn skrikmakery met groot woorde en geen inhoud. Vreemd dat dit deur enigiemand ernstig opgeneem word vir publikasie!

Willie Kok ·

Ag siestog, …. nou hoe verduidelik hulle dan die verwydering van Thabo Mbeki destyds?? Dis nog dieselfde ANC, en ons praat nog van dieselfde grondwet. Wat is die verskil? Lyk my daars nou meer geslepe mense wat die hele land wil manupuleer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.