ANC ontwrig Zille se provinsiale rede

Helen Zille

Helen Zille

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, se provinsiale rede is Vrydag twee keer opgeskort nadat ANC-lede dit ontwrig het.

Zille het skaars met haar toespraak begin toe dit vir die eerste keer deur ANC-LP Pierre Uys onderbreek is op ʼn punt van orde oor ʼn vorige beslissing deur die Wes-Kaapse speaker, Sharna Fernandez.

Uys het die wetgewer gekritiseer oor besluite wat blykbaar verander het. Dit behels optrede teen Zille ná ʼn beweerde rassistiese opmerking in Desember. Aanvanklik was die saak aan ʼn regter-president vir hersiening verwys, maar daar is later besluit om dit na die wetgewer se reëlskomitee te verwys.

“ʼn Reëlskomitee maak reëls, nie ʼn beslissing nie. Ons was geskok om dit te hoor, en jy het ons nie in kennis gestel nie,” het Uys gesê terwyl DA-lede hom uitgejou het.

Verrigtinge is verdaag sodat die speaker met die hoofswepe van die partye kan vergader. Zille het ʼn halfuur later haar toespraak hervat.

Fernandez het gesê sy is nie van plan om enige verdere kommentare oor die aangeleentheid te hanteer nie, en die saak sal later bespreek word.

Marius Fransman, provinsiale voorsitter van die ANC, het die verrigtinge kort daarna weer onderbreek. Hy het beweer die regstreekse uitsending van die verrigtinge is onderbreek.

Die speaker het ondersoek ingestel en gesê dit is nie die geval nie.

Fransman het daarna beweer dat daar privaat veiligheidswagte in die gebou is, wat wag om in die vergadering in te kom. Hierdie bewering is vinnig verwerp.

Fernandez het na president Jacob Zuma se reaksie op die debat van sy staatsrede verwys toe sy gesê het: “Ons moet die waardigheid van die Parlement bewaar. Dit is wat ons president gesê het.”

ANC-lede het geweier om te bedaar, waarna Fernandez verrigtinge opgeskort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anton Smit ·

Mens kan darem duidelik sien waar die anc vandaan kom uit hulle optrede. Jy kan hulle aantrek maar jy kan hulle nerens heen vat nie.

Chris ·

Ek stem saam met Anton Smit se kommentaar. Ek sou dit net baie baie krasser gestel het. Sy
idioom laat klink sy mening te ordentlik volgens my

Sollie ·

Hierdie tipe van optrede is SO infantiel. Ons is “loosers” so nou gooi ons ons speelgoed rond en blêr as ander (volwasse)mense praat.

Dave ·

Nou pes die anc die anc-lite op hul vergaderings. Interessant.

KOWIE ·

wil net graag weet hoe werk die wet in sa,
vir vee diefstal kry in man 80jaar tronkstraf,
vir moord net 5jaar of jy kom skotvry los

zahn ·

Pierre Uys het in die 80’s vir my klas gegee toe ek nog geswot het. In my opinie was hy briljant, het sy vak geken, was baie konsekwent, duidelik isn sy verwagtinge, het die reëls stiptelik nagekom, en altyd objektief. Ek wonder in my hart wat het met die man verkeerd geloop. Al wat ek kan dink is dat hy ‘n kortbroek ventjie slaafs gevolg het, dié trein heeltmal ontspoor het, en Uys nou nog die kluts kwyt is. Duidelik nog nie herstel nie. Tog jammer, dat so ‘n eens briljante brein nou so opgevreet word deur die bollie waarmee hy homself meng.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.