ANC pak DA oor “korrupsie”-SMS

selfoon 2Die DA het die ANC se besluit verwelkom om die hooggeregshof in Johannesburg te nader, aangesien die ANC meen dat die DA die verkiesing se gedragskode geskend het.

Die ANC het Donderdag ʼn dringende hofbevel by die hof ingedien in ʼn poging om die DA “te stop om die gedragskode te skend”. Die gedragskode verbied onder meer verkiesingsveldtogte wat op valse inligting gebaseer is.

“Die afgelope tyd het die DA kwaadwillige leuens oor die land se president versprei. Hulle het doelbewus die bevindinge in die Openbare Beskermer (OB) se Nkandla-verslag verdraai,” het Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, gesê. Volgens Mthembu is dié boodskap met grootmaat-SMS’e gestuur.

Die SMS lui: “The Nkandla report shows how Zuma stole your money to build his R246 million home. Vote DA on 7 May to beat corruption. Together for change.” [Die Nkandla-verslag bewys hoe Zuma jou geld gesteel het om sy huis van R246 miljoen te bou. Stem DA op 7 Mei om korrupsie te klop. Saam vir verandering.]

“Ons sien daarna uit om ons saak te verdedig. Ons hou die president verantwoordelik dat hy en sy familie onbillik gebaat het en miljoene rand se openbare geld op sy privaatwoning spandeer het,” het James Selfe, die DA se federale uitvoerende voorsitter, in ʼn verklaring gesê.

Selfe het aangedui dat die DA die ANC se aansoek gaan teenstaan.

“Ons sal die aansoek teenstaan want ons glo die SMS is die waarheid en in die konteks van die OB se verdoemende bevindinge,” het Selfe bygevoeg. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.