ANC: ‘Planne om Ramaphosa te ondermyn is bog’

ANC-se-vlag-deur-ANA

ANC Foto: ANA.

Sihle Zikalala, die ANC in KwaZulu-Natal se tydelike koördineerder, het Sondag mediaberigte wat beweer dat ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma deel is van geheime planne om pres. Cyril Ramaphosa te diskrediteer en uiteindelik uit sy posisie verwyder, as onwaar afgemaak.

Zikalala het die berig in Sunday Times afgemaak as ʼn “propagandaveldtog” om verdeeldheid te saai in die reeds verdeelde party.

“Talle mense sal ʼn aanval teen die ANC van stapel wil stuur deur propaganda en verdelende metodes te gebruik om die eenheid in die ANC te ondermyn. Dit is belangrik vir lede van die ANC om laer te trek en die opposisie in die oë te kyk en die ondersteuning van die massas te wen,” het Zikalala aan die SAUK gesê.

Volgens hom sal niemand die ANC ondersteun as die party verdeeld is nie en is dit die rede hoekom Ramaphosa hom vir eenheid beywer. “So hierdie is net gerugte. Ons kan nie in die hande speel van mense wat gerugte versprei nie.”

Hy sê hy het nog nie een keer gehoor dat iemand in KwaZulu-Natal voorstel om vir iemand anders te stem nie.

Sunday Times het berig dat ʼn nuwe politieke party deur Caesar Nongqunga, ʼn bondgenoot van Zuma, op die been gebring is – na bewering met Zuma se goedkeuring. Nongqunga is president van die Twelve Apostles Church in Christ.

Leiers van dié kerk het glo ʼn vergadering gehou op Umgababa waartydens daar ʼn brief wat aan die ANC geskryf is oor die besluit om die nuwe party, die African Transformation Congress, te stig voorgelees is. Volgens die berig is verskeie vergaderings al gehou om planne te beraam om Ramaphosa te ondermyn.

Volgens die berig sluit dié planne in om te verseker dat Zikalala, ook ʼn bondgenoot van Zuma, weer as die ANC se voorsitter verkies word wanneer die provinsie nuwe leiers kies. Dié uitvoerende liggaam sal dan onder leiding van Zikalala eis dat daar ʼn vroeë ANC algemene vergadering gehou word en dit dan in ʼn nasionale verkiesingskonferensie omgeskakel word om Ramaphosa te verwyder.

Ramaphosa sal volgens die berig daarvan beskuldig word dat hy nie die party se resolusies wat tydens die 2017 konferensie aanvaar is geïmplementeer het nie. Volgens die berig was Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, bewus van die plan.

Sou die plan nie slaag nie, sou Zuma se ondersteuners na bewering ʼn beroep op ANC-ondersteuners in die provinsie doen om nie vir die ANC te stem nie, om sodoende die party op nasionale vlak in die verleentheid te stel.

Zuma geniet baie steun in sy tuisprovinsie. Honderde van sy ondersteuners het Vrydag by die Durbanse hooggeregshof opgedaag waar hy uiteindelik verskyn het op aanklagte van korrupsie teen hom. ʼn Nagwaak ter ondersteuning van die voormalige president is die vorige aand gehou.

Zikalala, premier Willies Mchunu, Des van Rooyen, voormalige minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, en Hlaudi Motsoeneng was almal by die hof om hul steun aan Zuma toe te sê.

Zuma is op waarskuwing vrygelaat en die saak is tot Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dinarie ·

As die Sondsg koerante (mv) beweer dat daar n geheime onderneming bestaan om Ramaphosa te ondermyn, dan is dit tog logies dat sulke bewering ontken sal word.

Dit is tog die essensie van geheimhouding.

Die ironie is juis dat.openbate ontkenning die teenoorgesyelde onbeplande gevolg het. Meerdere persone glo tog juis dat Z wel deeglik besig is om sulke ongrondse planne te smee

Gerrit ·

Die geskiedenis het geleer dat waar n rokie is moet n vuurtjie brand.

Jerry ·

Dit is alombekend dat die Zuptas en hulle lojaliste smoorkwaad is vir CR vir die voor die hand liggende redes dat CR vir Zuma ontsetel het as president en dat CR toelaat dat die gereg sy gang gaan met Zuma en dat CR staatshulp vir Zuma regskostes onttrek het. Zikalala lieg deur sy tande en CR weet dit nou. Die eenheid wat CR homself voor beywer is eenheid in die party teen korrupsie en teen die korruptes.

PJ ·

Ok in naweek koerant gelees n sekere faksie in die anc gesè hulle kan nie deur n Venda regeer word nie . Ek is seker ek in verlede gehoor het die ” Regses” het voorspel Afrika stamme verstaan mekaar nie

Casper Labuschagne ·

Vra ook maar vir die deursnee ANC lid of die volgende staatspresident ‘n Shangaan (Mabuza) moet wees en jy sal ‘n besondere opvoedkundige antwoord ontvang. Daarom moet Mabuza probeer om vir Malema en sy eie EFF terug te kry in die vou van die ANC. Die EFF sal doen presies wat Malema beveel en sodoende kry Mabuza ‘n magsbasis as teenvoeter vir die ander ANC faksies.

Theresa B ·

Hulle sê, waar ‘n rokie trek………………………………….

Oom Kalahari ·

Dot sal nie verbasend wees as gerugte wel meriete het tot aanloop van 2019 se stemdag nie. Die manier wat JZ uit die kussings gelig is asook sy Gupta maatjies se lang uittog met baie miljoene meegemaak het le hom baie na aan die hart vir sy aandeel. Ook die aanloop met sy hofsake wat CR oor korrupsie toelaat en die feit fat die opvolg eintlik vir Nkosasana Dlamini Zuma geresserveer was en nie toegestaan is nie. CR loop opdun ys en Zumpies gaan agter die skerms ‘n wig tot verdeeldheid bring. Hou maar dop hoe Mag en gulsigheid homself gaan afspeel.

Casper Labuschagne ·

En dan is daar die ou reël dat geen gerug ooit waar is tensy dit amptelik ontken word nie. En vir dekades al is daar al ‘n beproefde manier om uit te vind wat in die binnekringe van die ANC gebeur, en dit is om hul ontkennings te bestudeer.

Anders gestel, die opbrengs is ruim vir diegene wat sal baat by Ramaphosa se ondermyning. Aan die een kant is daar die Zuma faksie wat skaars drie maande gelede nog die sterkste faksie in die ANC was. Maar as Ramaphosa sou val is die pad na ‘n presidentskap oop vir David Mabuza. Mabuza se eie magsbasis is erg beperk tot sy eie provinsie Mpumalanga, maar hy het ‘n troefkaart in die voorgestelde terugkeer na die ANC van Julius Malema en Malema se EFF wat eenvoudig Malema se eie persoonlikheidskultus is en presies sal doen wat Malema ook al sou sê. Sodoende kan Mabuza ‘n breë magsbasis en steun verkry as ‘n teenvoeter vir die ou garde van die ANC.

Op die partykongres in Desember het Mabuza vir Zuma in die rug gesteek ten gunste van Ramaphosa se sakke vol silwer sikkels en daar is geen waarborg vir Ramaphosa dat hy nie self ‘n dolk in die rug sal kry nie, veral omdat die hoogste pos in die land tans net-net voor Mabuza se drumpel lê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.