ANC pos vier Limpopo-burgemeesters

anc-vlagDie ANC het Dinsdag gesê hy het vier burgemeesters van Limpopo afgedank.

“Die ANC se provinsiale uitvoerende komitee het Maandag besluit om die burgemeesters te herroep,” het Nocks Seabi, die party se provinsiale sekretaris, gesê. Hy het gesê die besluit is geneem nadat die “tekortkominge” en “uitdagings” van die verskillende munisipaliteite bepaal is. “Ons wil seker maak dat die munisipaliteite beter dienslewering kan verskaf.”

Die burgemeesters wat herroep word, is Lawrence Mapoulo van die Capricorn-munisipaliteit, Joshua Matlou van die Mopani-distrik, Wendy Matemane van die Elias Motsoaledi-munisipaliteit, en Nkosi Mahlake van die groter Tubatse-munisipaliteit.

Volgens gerugte word dié burgemeesters glo verbind aan Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF). Seabi het egter gesê die besluit het niks te doen daarmee dat die vier glo bande het met Malema of Cassel Mathale, die provinsie se voormalige premier, nie. “Dit is nie vir ons ʼn kwessie of hulle vriende is of nie. Vir ons is dit ʼn prioriteit om die munisipaliteite se prestasie te verbeter,” het hy bygevoeg.

Die Sowetan het Dinsdag berig die burgemeesters is afgedank omdat hulle glo die EFF gehelp het.

Seabi het gesê daar is nog nie tussentydse burgemeesters aangestel nie. “Ons vergader nog met die verskillende strukture. Ons sal na verwagting teen die einde van die week kandidate in gedagte hê,” het hy gesê. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.