ANC-raadslid geskors ná verkragtingsklag

Argieffoto: SAPD

Die ANC het een van sy raadslede van die Matlosana-munisipaliteit (Klerksdorp) in Noordwes geskors nadat hy van statutêre verkragting aangekla is.

Hlomani Chauke, koördineerder van die tussentydse provinsiale komitee, het gesê die ANC het met skok verneem van een van sy raadslede wat vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met die verkragting van ʼn 15-jarige tienermeisie.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die betrokke raadslid homself Maandag aan die polisie oorgegee het, waarna hy Dinsdag in die landdroshof in Klerksdorp op aanklagte van statutêre verkragting verskyn het. Die verdagte (38) is sedertdien op borgtog van R2 000 vrygelaat en sal na verwagting weer op 18 Augustus in die hof verskyn.

Volgens Mokgwabone word die raadslid daarvan beskuldig dat hy die tienermeisie tussen April en Augustus verlede jaar in Tigane, Hartbeesfontein, naby Klerksdorp verkrag het. Die saak is op 30 April vanjaar by die polisie aangemeld.

Chauke het gesê dié bewerings is skokkend en teenstrydig met die ANC se waardes. Die komitee het dus besluit dat die bewerings teen die raadslid gepaste tugstappe regverdig. Die raadslid se lidmaatskap is gevolglik opgeskort hangende ʼn ondersoek. Die raadslid is ook intern aangekla omdat hy die party in onguns gebring het.

“Die ANC, as leier van die samelewing, verwag van al sy lede, veral sy openbare verteenwoordigers, om aan die voorpunt te wees in die stryd teen die kultuur van verkragting, geslagsgebaseerde geweld en patriargie. Ons doen ʼn beroep op vroue en kinders om hierdie wreedaardige dade by die owerhede aan te meld,” het Chauke gesê.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in Noordwes het die beweerde verkragting as skokkend en veragtelik beskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Burgermeester ·

Die regstelsel is so verwronge. Hoe kan ‘n man wat ‘n 15 jarige meisie verkrag borgtog van R2000 kry, maar iemand wat sy medemense probeer help tydens die inperkingstydperk kry ‘n boete van R10 000? Waar is die logika hieraan verbonde?

JohanR ·

Het met skok verneem – en daar val ek van my stoel af van die lag! Waaneer word die raadslid bevorder tot President?

Fedup ·

What’s shocking is the R2000 bail after he destroyed a young girls feature.

ES ·

Die skokkendste is dat dit so ‘n algemene ding word, die verkragting van minderjariges. Ek voel bitter jammer vir die kind.

koos10 ·

Wag net ‘n oomblik, hy is van statutere verkragting aangekla. Dit beteken dat die meisie volgens wet nie toestemming kon gee nie, al het sy ingestem.
Ek praat dit glad nie goed of reg nie, maar die regering wil mos hê dat kinders van 10 jaar op skool moet leer van seks. Verder hoor jy gereeld dat 13 jarige meisies in kroeë rond hang, so dit is ook ouers wat verantwoordelik moet wees. Aangesien dit oor ‘n tydperk plaas gevind is is ek geneig om te glo dat hulle in ‘n verhouding was (hoe siek ookal) en dat dit die goedkeuring van moontlik haar ouers of voogde gehad het. ‘n “Blesser” miskien?

Scalla ·

Verstaan ek reg, dit is goedkoper om n minderjarige te verkrag as om jou eie sypaadie te skoffel tydens grendeltyd.

Sarel ·

Ten minste is dit ‘n nuwe wending. In die verlede sou die ???? beweer het ” onskuldig tot skuld bewys is”. Het iemand wakker geskrik oor die aanslag op ons kinders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.