ANC-raadslid het glo EFF-lid se karvenster stukkend geslaan

argieffoto

argieffoto

ʼn Hof in Rustenburg het Vrydag gehoor hoe ʼn raadslid van die ANC glo lede van die EFF aangeval het toe hulle vroeër vandeesmaand in dié gebied ʼn verkiesingsveldtog wou hou.

Luvuyo Tolo Maqwane (54) word daarvan beskuldig dat hy op 15 Julie by die Popo Molefe informele nedersetting naby Rustenburg in Noordwes lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) geïntimideer en aangerand het. Hy staan tereg op aanklag van opsetlike saakbeskadiging, intimidasie en aanranding.

Hy het in die Rustenburg-landdroshof verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Die hof het gehoor hoe hy die ruit van ʼn motor stukkend geslaan het om EFF-lede te verhoed om die informele nedersetting te betree.

Die EFF wou in die gebied ʼn verkiesingsveldtog hou voor hul tweede herdenking wat vandag [Saterdag] by Olympiapark-stadion plaasvind.

“Die raadslid het die ruit aan die regterkant van my motor stukkend geslaan, voordat hy vir my gesê het ander politieke partye word nie in Popo Molefe toegelaat nie,” het Stanley Komapi getuig.

Komapi (35) van Soshanguve in Pretoria, het aan die hof gesê daar was vyf mans, gewapen met spiese, sambokke en klippe, by Maqwane. Die groep het die EFF-lede voorgekeer en gesê hulle is nie welkom in die gebied nie.

“Ek het in die voorste motor gery, en die groep het gesê ek moet omdraai, omdat ander politieke partye nie die gebied mag betree nie. Toe ek vorentoe beweeg, het hy my ruit stukkend geslaan.”

Volgens Komapi het Maqwane ander gemeenskapslede geroep en die EFF wou met Maqwane onderhandel, maar hy was aggressief. Die EFF-lede het klagtes by die Boitekong-polisiestasie aanhangig gemaak.

Maqwane het in sy beëdigde verklaring, wat aan die hof voorgehou is, aangedui dat hy skuld sal ontken. Hy het bygevoeg hy sal van Sunrise Park na Boitekong verhuis om by sy neef te bly totdat sy saak afgehandel is en het onderneem om nie met die polisie-ondersoek of staatsgetuies in te meng nie, en dat hy nie van die hofsaak sal probeer “weghardloop” nie.

Die saak hervat Maandag.

Die staat staan sy aansoek om borgtog teen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J.Z ·

Lyk my dit nou werklik word, wat n mens gesaai het ,word nou gemaai.So sal daar nog baie meer geoes word in die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.