ANC-raadslid hoor oor borgtog ná aanranding

Andile Lungisa. Argieffoto: Raahil Sain/ANA

Andile Lungisa, die ANC-raadslid wat vroeër skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, is vandag in die Port Elizabeth-streekshof op borgtog van R10 000 vrygelaat hangende die uitspraak van ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding.

Lungisa het die dringende borgtogaansoek by die streekshof ingedien terwyl hy wag dat sy appèlaansoek in die hooggeregshof in Grahamstad aangehoor word. Landdros Mornay Cannon het vroeër Lungisa se aansoek om verlof tot appèl in die streekshof geweier.

Lungisa is verlede maand skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy ʼn glasbeker oor die kop van Rano Kayser, die voormalige burgemeesterskomiteelid vir vervoer, stukkend geslaan het tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016.

Kayser het verskeie snywonde aan sy kop en nek opgedoen en foto’s het gewys hoe hy bloed oral oor hom gehad het.

Bewyse wat aan die hof voorgehou is, sluit ʼn video in wat deur die DA-raadslid Renaldo Gouws geneem is wat wys hoe Lungisa die glasbeker oor Kayser se kop stukkend slaan voordat hy op die vlug slaan en hoe Kayser agteroor tuimel en op die vloer te lande kom.

Cannon het bevind die video dien as bewys dat daar geen rede was hoekom Lungisa die glasbeker oor Kayser se kop moes breek nie en dat sy verweer dat hy uit selfverdediging opgetree het dus verwerp word. Die hof het ook bevind dat Lungisa nie ware berou oor sy optrede het nie.

Hy is tot effektief twee jaar tronkstraf gevonnis.

Lungisa het Donderdag met sy enkels geboei in die streekshof verskyn. Ná ʼn lang vertraging is die saak uiteindelik aangehoor waarna Cannon dit tot vandag uitgestel het omdat hy die hofdokumente eers ná middagete ontvang het.

Ayongezwa en Siyacela Lungisa, Andile se twee broers, het saam met talle ander ANC-lede die hofverrigtinge bygewoon om hul ondersteuning aan hom te toon. Portia “Pankie” Sizani, die vrou van Stone Sizani wat tans self teregstaan op ʼn aanklag van bedrog, het ook gekom om Lungisa te ondersteun, asook ANC-veteraan Mike Xego.

Buite die hof is luidsprekers opgestel waar ANC-lede gesing en dans het en hul hoop uitgespreek het dat Lungisa op borgtog vrygelaat sal word.

In die hofdokumente wat Lungisa se regspan by die hof ingedien het, voer Lungisa aan dat hy nie soos ʼn redelike persoon opgetree het tydens die 2016-vergadering nie, maar wel nalatig was. Hy meen egter nalatigheid is nie genoeg rede om skuldig bevind te word aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nie.

Lungisa voer aan hy moet vrygespreek word op die aanklag op grond van sy subjektiewe siening dat hy uit selfverdediging opgetree het.

Oor sy vonnis van twee jaar tronkstraf, meen Lungisa Cannon het te veel klem geplaas op die “erns van die oortreding” en die “belange van die gemeenskap”. Hy voer aan die vonnis is bloot opgelê om Kayser en die gemeenskap tevrede te stel.

Lungisa voer verder aan Cannon het nie sy persoonlike omstandighede in ag geneem nie, waaronder dat hy ʼn eerste oortreder is en finansieel verantwoordelik vir ʼn groot familie, insluitend sy vrou, sewe kinders, sy ouers en sy sibbe.

Lungisa het gesê hy het vroeër probeer om Kayser om verskoning te vra, maar Kayser was nie gereed om sy verskoning te aanvaar nie. “Ek het hieroor getuig as deel van die voorvonnisverrigtinge en het Kayser in die hof voor almal om verskoning gevra, wat in my kultuur ʼn belangrike deel van regstelling is. Die landdros het dit heeltemal buite rekening gelaat.”

Lungisa voer verder aan dat die hof nie in ag geneem het dat hy nie ʼn bedreiging vir die samelewing is nie en dat Cannon ʼn fout gemaak het deur die opsie van korrektiewe toesig te verwerp.

Volgens Lungisa is daar ʼn redelike vooruitsig dat ʼn ander hof tot ʼn ander gevolgtrekking sal kom oor sy skuldigbevinding en vonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sluit toe ·

KAYSER hoef nie jou verskoning te aanvaar nie. Vicky het ook om verskoning gevra en moet twee jaar in die tronk sit. ZUma se seun hoef net om verskoning te vra en R60 000 te betaal . jy het die man aangerand, hy kan BESLUIT of hy jou verskoning wil aanvaar al dan nie. JY HOORT IN DIE TRONK vir aanranding.

Sjoe ·

En die Doodskis ouens is ook 13 en 16 jaar tronktoe gestuur om die GEMEENSKAP tevrede te stel. Neewat jy moet jou pakslae vat en gelukkig is daar videos wat bewys dat jy NIE uit selfverdediging opgetree het nie. Vreemd hoe die massas nogsteeds die mense ondersteun wat kriminele dade gepleeg het. Niemand was daar vir Vicky nie, maar almal drom saam by die verhoor om hulle ondersteuning aan hom toe te sê! Wow .

snoefie ·

jy het geweet jy het n vrou en sewe kinders, jou ouers en sibbe om te onderhou toe jy iemand wat van jou verskil het aangerand het met die doel om ernstig te beseer. nee wat! sluit toe. sy vrou sal kindertoelaag kry, sy sibbe sal gaan werk en sy ouers sal pensioen kry. welkom in (witmensland ) die werklikheid.

Wonder ·

Ek bly maar wonder oor al hierdie dinge. Frik Muller is aangekla vir poging tot moord, net omdat hy sy eie eiendom wou plat ry? Die man slaan iemand oor die kop en dit is nie poging toe moord nie en is op borgtog vrygelaat? Eich hierdie ys verstaan ek nie.

snip ·

dis die verskil tussen swart op wit en wit op swart geweldpleging. vir my vertaal DEMOKRASIE op swart verontskuldiging.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.