ANC-rapport: druippunt vir Ramaphosa en kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die VF Plus het in die evaluering van die ministers vir die 2018-jaar besluit om al die lede van die kabinet ʼn swakker druippunt te gee, naamlik ʼn FF-druippunt (0-29%). Een rede is dat ʼn aantal veranderinge gedurende die jaar gemaak is aan die kabinet en sommige ministers ʼn kort tydperk in portefeuljes is en was.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het in ʼn verklaring gesê die belangrikste is egter dat die afsonderlike ministers as lede van die kabinet, kollektief verantwoordelikheid moet neem van hoe die land regeer is en nie net skouers kan optrek oor wat fout gegaan het nie. Die kabinet, as uitvoerende gesag, kry nie net ʼn druippunt nie, maar pres. Cyril Ramaphosa het gefaal in sy grondwetlike plig ten opsigte van nasiebou in Suid-Afrika.

“Die grootste krisis in Suid-Afrika is werkloosheid weens die land se swak ekonomie. Die publiek se grootste behoefte is om ʼn stabiele werk en inkomste te hê, en die regering faal die burgers van Suid-Afrika in hierdie verband,” het hy bygevoeg.

Volgens hom kry die regering ʼn swak FF (23%) om die volgende redes:

– Gedurende die 2017/18-boekjaar het nasionale- en provinsiale departemente se oudit-uitkomste verswak. Slegs 23% van departemente het skoon oudits ontvang. Onreëlmatige uitgawes het tot R51 miljard gestyg en vrugtelose en verkwiste uitgawes met 200%.

– Finansiële wanbestuur, korrupsie en mislukte beleidsrigtings laat Suid-Afrika op ‘n fiskale afgrond afstuur.

– Meer as 40% van die staat se begroting word aan salarisse bestee. Gratis hoër onderwys en die onvolhoubare maatskaplike afhanklikheid van die meerderheid Suid-Afrikaners veroorsaak ‘n geweldige begrotingstekort en ‘n toename in staatskuld.

– Die regering het gedurende 2018 gefaal om beleggingsekerheid te skep, veral met die aanvaarding van die beginsel van onteiening sonder vergoeding, en het ook daarin gefaal om ʼn gunstige omgewing vir die privaatsektor daar te stel om sodoende werk te skep.

– Werkloosheid is ‘n krisis. Suid-Afrika het tans die hoogste jeugwerkloosheid in die wêreld met 57.4% van die land se jeug wat werkloos is.

– Die regering se mislukking gedurende 2018 word deur die groter wordende krisis met betrekking tot uitstaande skuld deur munisipaliteite aan Eskom beklemtoon. Nog ‘n jaar is verby terwyl daar geen oplossing vir hierdie probleem gevind is nie

– Daar word vir die afgelope twee jaar geploeter van dreigemente om kragtoevoer na munisipale gebiede af te sny tot onvolhoubare betalingsooreenkomste. Elektrisiteitstoevoer na waterpompstasies is gedurende hierdie jaar in verskeie dorpe deur Eskom weens die munisipaliteite se wanbetaling gesny wat die inwoners se grondwetlike reg van toegang tot skoon water skend.

– Die totale uitstaande skuld van munisipaliteite aan Eskom is meer is R18 miljard.

– Die landelike ekonomie ly hieronder met klein sakeondernemings wat reeds hul deure gedurende 2018 gesluit het en groter ondernemings wat afleggings doen weens gereelde krag- en wateronderbrekings wat produksie en handel kniehalter.

– ‘n Verantwoordelike nasionale regering sou sy mandaat van samewerkende regering uitgevoer het en ‘n werkbare oplossing vir hierdie voortslepende krisis bewerkstellig het. Die land se ekonomie ly weens die elektrisiteitskrisis.

– Eskom se skuld het gedurende 2018 van R367 miljard tot R419,2 miljard toegeneem. Die rente op hierdie skuld beloop R45 miljard per jaar. Die entiteit se begrote verlies vir die 2018/19-boekjaar is R15 miljard terwyl daar sowat R17 miljard aan salarisse bestee word. Korrupsie en wanbestuur is grootliks verantwoordelik vir hierdie sombere prentjie.

– Vir die eerste keer in drie jaar is daar weer in 2018 met beurtkrag begin wat ‘n negatiewe impak op die reeds sukkelende ekonomie het.

– Suid-Afrika het gedurende die tweede kwartaal van 2018 ‘n tegniese resessie beleef met ‘n inkrimping van 0.4%. Daar was herstel gedurende die derde kwartaal en die land het uit die resessie gekom, maar die beurtkrag het die ekonomie weer ‘n knou toegedien. Die beurtkrag van Eskom eis sy tol wat produksie aanbetref en het ‘n negatiewe uitwerking op beleggersvertroue.

– Indien die swak bestuur en korrupsie by ander staatsondernemings soos SAL, Prasa, Denel ens. wat tot gevolg het dat die staat finansiële waarborge moet lewer, in ag geneem word, belemmer die staat se skuldlas die land se fiskale posisie. Die skuld tot BBP (bruto binnelandse produk)-verhouding het gedurende die afgelope jaar tot 55.8% gestyg met die rente op hierdie skuld wat R181 miljard beloop. Die begrotingstekort word groter terwyl die behoefte aan maatskaplike bystand meer word.

Groenewald voeg by hierdie jaar is verder gekenmerk deur die onthullings van staatskaping voor die Zondo-kommissie en pres. Cyril Ramaphosa is nou glo verbaas oor die omvang daarvan. “Die werklikheid is dat pres. Ramaphosa, as adjunkpresident sedert 2014 en hoof van regeringsake in die Nasionale Vergadering, hiervan bewus moes gewees het. Dit beteken hy het sy werk nie behoorlik gedoen nie.

“Die kabinet het verlede jaar reeds kennis geneem van staatskaping, maar het niks gedoen om behoorlik op te tree en stappe aan te kondig oor hoe om dit op te los nie. Die Zondo-kommissie is nie die breinkind van pres. Ramaphosa nie, maar ʼn opdrag van die vorige openbare beskermer (OB), adv. Thuli Madonsela.

“Pres. Ramaphosa het misluk om nasiebou en eenheid te bevorder. Art. 83(c) van die Grondwet bepaal duidelik dat hy as president eenheid in Suid-Afrika moet bevorder. Met sy omstrede uitsprake waar hy gedurig verwys na wittes en dat hulle eintlik die oorsaak is van die probleme van Suid-Afrika, skep hy polarisasie.”

Groenewald het gesê ander optredes van Ramaphosa gee hom ʼn druippunt en FF-simbool vir die jaar. Redes hiervoor is soos volg:

• Sy versuim om die BLF-leier sterk te veroordeel vir sy haatspraak teen witmense, maar in ʼn Radio 702-debat eerder die fokus verskuif na wit mense as rassiste wat geïsoleer moet word en na wit mense in die ekonomie as lui verwys (lackadaisical whites).

• Sy uitlating vroegaand as ANC-president op 31 Julie 2018 dat die ANC gaan voorstel dat die Grondwet gewysig moet word om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding.
Hierdeur het hy die ANC se belange bo die belange van alle burgers in Suid-Afrika gestel. Die aankondiging was ook minagtend teenoor die parlement se Grondwet-hersieningskomitee wat reeds besig was met die proses van openbare verhore.

• Sy huiwering om ontslae te raak van die vrot appels in sy kabinet soos Bathabile Dlamini en om haar selfs as ʼn uitstekende minister te beskryf, ten spyte daarvan dat sy meineed in die Grondwethof gepleeg het.

• Sy gesloer om die Wysigingswetsontwerp op die Befondsing van Politieke Partye te onderteken skep die indruk dat hy die ANC bevoordeel ten koste van ander opposisiepartye en buitelandse skenkers van geld aan die ANC wil beskerm.

“Die president en die ministers moet besef dat hulle as lede van die uitvoerende gesag nie kan skouers optrek en sê ‘dit is nie my departement nie en daarom is ek nie verantwoordelik daarvoor nie’. Die president en elke minister het ʼn plig teenoor mekaar en teenoor die mense van Suid-Afrika en hulle het totaal daarin gefaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Paul ·

Maar kom ons kyk wat tower hierdie CR vaderkrismis in sy kersboodskap op en moenie asem ophou vir sy Nuwejaar boodskap nie. Die dwarslat is op twee voet gestel, mens wil mos darem nou nie die land se president embariseer nie, en raai wat gebeur toe?

Jonsi ·

Embariseer? Embariseer??? Wat het van “in die geleentheid stel” geword? Uggh

Jonsi ·

Embariseer? Embariseer??? Wat het van “in die verleentheid stel” geword? Uggh

Lui?? ·

Lui? Lui se M@er, geagte Mnr Ramaphosa! Praat jy wat tande het….!

Chris Ws ·

Ons sit met ‘n president wat ,as hy sy mond in die openbaar oopmaak,die waarde van die rand laat daal wereldwyd.Dit laat alle goedere se pryse styg.Kyk maar hoe duur het als geword.Hy is die’ land se grootste probleem. Dit sal goed wees as hy sou bedank of afgedank word.

Andrea van Vuren ·

Dan lieg hy nog ook vir Amerika en Trump deur te sê hier vind geen plaasmoorde in SA plaas nie! Ughhh!!!

LHS ·

Uit n rasionele oogpunt gesien, gemeet teen eerste en selfs tweede wêreld lande, kan die regering en hulle ander aanhangsels selfs nog laer as 20% kry. Gesien uit die soustrein elite en ander korruptes se oogpunt, defnitief 90%+. Die ander 10% is omrede hulle glo daar moes nog meer gewees het. Dan is daar die uiters groot groep met wie dit eintlik uiters sleg gaan maar om verskillende redes soos o.a. intimidasie en vrees , gedwing word om te glo aan feëverhale en dat die gode self die ANC en ander meelopers gestuur het met sakke vol geld en vragmotors vol grond. Gemiddeld gee hulle seker vir die regering so 70%+ Die slaagvereistes is nie moeilik om ooglopend te self te kan sien nie, gaan kyk sommer net na skole en ander instansies se slaagvereistes en slaagsyfers soos deur die regering vasgestel.

Paul ·

OK en daar lees ek vanaand dat Dlamini-Zuma gaan die kersboodskap vir die nasie lewer en CR die Nuwejaar boodskap. Daar het jy dit.

Paul ·

Wat vir my die kruks is, oujaaraand, daar by middernag, sing ons almal ” sal ons ou vriende ooit vergeet ….” Dis die grootste klomp bog, watter goeie ou tyd … mmmmmm, watter goeie ou tyd? Sluit dit nou die jongste tydperk van die kamma “demokrasie” in?

aj ·

Pandemonium!

Dit is die huidige toestand van SA onder die ANC regering.

Die ANC chaos en anargie kon as potsierlik of snaaks gesien wees as dit nie so skadelik was vir elke inwoner nie.

Kom ons volstaan daarmee dat hier ‘n makabere TRAGEDIE voor ons oë afspeel.

Mag die Voorsienigheid sorg dat die BOSE vir ewig vernietig word in die komende 2019 verkiesing.

Se maar net ·

Al gee die vf+ hulle nou ook n nul dit beteken ongelukkig niks. Hulle kiesers verstaan nie al hierdie syfers nie net hulle eie onmiddelike behoeftes moet bevredig word dan is alles reg. Hierdie ‘ verslag’ moet dalk maar wereld wyd gepubliseer word net vir almal se kennisname daar buite maar nie met die doel om iets te verwag nie want niks sal gebeur nie.

Andrea van Vuren ·

As die VF+ se verslag in Engels beskikbaar is, smeek ek die VF+ om dit per spoedpos buiteland toe te stuur — vir wat dit ook al werd is…

Stem saam ·

Dankie, “Sê maar net”, jy sê wat ek al lankal weet en sê: Hoe kan mense wat nie eers basiese ekonomiese beginsels verstaan (Graad 10 Ekonomie), verreikende landsbesluite neem? Maar helaas, dis sekerlik te vergesog om te vra dat alle parlementslede as deel van hul induksie-program ‘n verpligte kursus deurloop wat o.a. basiese ekonomiese- en besigheidsbeginsels insluit soos vraag- en aanbod. Ai, vergun my tog hierdie wensdenkery so kort voor Kersfees! Ek wens, ek wens, ek wens ek wens … tra – la – la …

Joshua ·

Dr, het jy die vergeet van die diskriminerende BEE wette teenoor die minderheids groepe om dit te noem-of het ek dit mis gelees?

Jerry ·

Voor die verkiesing is almal druipelinge, VF ingesluit. Na die verkiesing slaag almal, want CR gaan slaag. Zuma se opdrag was om die rand te laat val en die klimaat te skep vir verandering, CR se opdrag is om verandering te implementeer, die ANC tot n groot oorwinning in die verkiesing te lei en om dan die rand weer op te tel! Na CR se termyn kan dit so voortduur of die rand kan weer laat val word. Alles sal afhang van die teenstand wat die ANC kry met implementering van verandering! CR balanseer alles voor die verkiesing vir politieke stabiliteit. Na die verkiesing is dit ekonomiese stabiliteit, so julle kan maar ontspan, die ekonomie gaan optel en huispryse gaan styg na die verkiesing. Misdaad sal egter nie afneem nie, dit sal toeneem!

Stephan de S ·

n Beter opsomming vd toestand vd land en regering sal n mens nie maklik kry nie. Hoe belangrik is dit nie dat die werklikheid eerlik en sonder aansiens des persoons en sonder politieke gedienstigheid oopgevlek word nie! Sommiges sal sê: maar dis net woorde,niks word bereik daarmee nie. Maar dis nie waar nie……..skerp analises maak ons koppe weer oop om te bly hoop en glo dat daar n beter werklikheid is en plaas druk op diè wat dink dat ons maar net moet stilbly.

ne ·

Nee – julle is verkeerd! Nasie bou beteken aanwas! Hulle doen dit baie goed. Beter as voorheen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.